book-icon Uitgawe Oktober & November 2019

Positief swanger

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Aan die begin kan jy so verbysterd wees dat jy dit moeilik vind om te begryp wat jy voel – want om ’n ouer te word, is eweveel ’n ervaring van die verstand as van die liggaam. Dit is ook die opwindendste, uitdagendste, lonendste maar mees ingewikkelde ontwikkeling moontlik binne-in ’n mens. Sowat ses dae ná bevrugting kan ’n bloedtoets vasstel dat jy swanger is. Die toets kyk of die hormoon hCG (menslike chorioniese gonadotropien) teenwoordig is. Hoe vroeër jy weet, hoe beter, want dan kan jy na jou en jou baba omsien in die allerbelangrike eerste 12 weke, wanneer die ontwikkelende fetus op sy kwesbaarste is. Skryf al jou vrae neer en neem dit saam wanneer jy jou mediese raadgewer weer besoek.

So baie toetse

Jou gesondheidswerker sal ’n bloed- en urienmonster neem. As jy langer as ses weke swanger is, sal daar ook ’n interne ondersoek gedoen word om te voel of die baarmoeder vergroot is en die serviks versag. Hoewel jy dalk die interne ondersoek as onwaardig beskou, kan jy maar ontspan omdat dit klinies en objektief gedoen word. Jou urien sal gereeld getoets word om seker te maak daar is nie te veel suiker of proteïen, of dalk ’n infeksie teenwoordig nie. Jou bloed word getrek om jou bloedgroep te identifiseer en om te kyk of jy bloedarmoede het. Afhangende van jou ouderdom en familiegeskiedenis sal daar ook toetse vir verskeie oorerflike siektes en moontlike afwykings uitgevoer word. ’n Skandering sal wys hoe jou interne organe vaar en jy sal ondersoek word om seker te maak die embrio ontwikkel op die regte plek.

Ellende in die eerste trimester

In die eerste paar weke van swangerskap gaan jy waarskynlik baie moeg voel. Benut alle rustye en middagetepouses by die werk deur ’n kussing agter jou rug te plaas en met jou voete in die lug te sit. As jy begin naar voel en moontlik selfs opgooi, het die gevreesde oggendnaarheid jou getref, hoewel dit nie net soggens toeslaan nie. Party vroue voel regtig baie mislik, terwyl ander net matig naar voel en party die naarheid heeltemal vryspring. Oggendnaarheid is hoofsaaklik te wyte aan enorme hoeveelde progesteroon wat nou deur jou bloed bruis. Soms is lae bloedsuiker ook ’n sondaar. Raadpleeg jou dokter as jy sukkel om enigiets binne te hou omdat die ernstige soort swangerskapsnaarheid ontwatering, gewigsverlies en voedingstoftekorte kan veroorsaak. Jy sal dalk selfs ’n drup moet kry tot jy weer gehidreer en jou elektrolietwanbalans herstel is. Jou reuksin kan verander en jy kan ’n metaalsmaak in jou mond hê. Die gevolg: Kos wat eens lekker was, smaak nou sleg. Aan die ander kant kan jy weer ’n lus vir roomys en tamatiesous met ’n bietjie brandrissiepeper ontwikkel. Jy sal dalk bly wees om te sien hoeveel groter jou borste word, maar hulle sal ook teer voel en jou tepels sal sensitief, groter en donkerder word. Jy gaan ook gereeld moet piepie en dalk in die toilet boer. Jy voel nou baie moeg en jou buie ry wipplank.

Dan word dit beter

Teen die tyd dat die eerste drie maande van swangerskap verby is, gaan jy beter begin voel: minder naar, minder buierig, minder moeg. Jy gaan waarskynlik baie gretig wees om die wêreld te vertel jy verwag! En dan, een dag, voel jy ’n skoenlapper in jou maag ... Ja, teen omtrent 16 weke of ’n bietjie later begin jy voel hoe jou aapstert daar binne woel! In die tweede trimester is die naarheid gewoonlik iets van die verlede en voel jy meer ontspanne en gelukkig. Dis nou dat jy en jou maat gerus vir ’n babymoon kan wegbreek. Julle gaan nie gou weer ’n kans kry om so intiem te verkeer nie want jul nuwe lewe skop binnekort af! ’n Goeie wegbreektyd is tussen week 18 en 30 omdat jou swangerskap dan gewoonlik op sy stabielste en gemaklikste is. As jy ’n vlieguitstappie beplan en toestemming by jou gesondheidswerker gekry het, is dit wys om die volgende te doen: Vra of jy ’n inenting nodig het vir jou nuwe bestemming en kyk of dié inenting veilig in swangerskap is. Maak die sitplekgordel tydens die vlug onder jou maag vas en drink baie water. Hou jou bloedsomloop so aan die gang: Rol jou voete vyf keer in sirkels. Punt dan jou tone afwaarts, vorentoe en terug. Doen weer vyf sirkelbewegings. Herhaal hierdie oefening so dikwels moontlik en stap in die gangetjie rond as dit oop is. Kompressiesykouse wat goed pas kan keer dat jou bene swel of dat jy diepaartrombose opdoen. Trek die sykouse aan voor jy soggens opstaan.

Seks kan jou verras

Jy kan dalk uitsien na ’n bietjie losbandigheid saam met jou maat. Verrassend genoeg is swangerskap ’n tyd wanneer jou liefdesvlam hoog brand. Dis omdat daar meer progesteroon en veral estrogeen in jou bloed is, albei hormone wat die libido aanwakker. Meer bloed bruis ook in die baarmoeder en bekken rond, jou vagina is vogtiger en jou borste en tepels meer sensitief. Geniet dit, maar vra eers toestemming by jou mediese raadgewer. En nee, jou mediese raadgewer gaan nie verleë voel as jy daaroor uitvra nie. Jy gaan moontlik jou posisie nou moet aanpas. Die gebruiklike sendelingposisie is buite die kwessie omdat jy nie gewig op jou maag wil hê nie. Beproef eerde die volgende: Laat jou maat op die bed lê met sy gesig na jou terwyl jy ’n armlengte ver langs hom lê met jou kop op ’n kussing terwyl albei jou bene oor sy heup hang. Die beste posisie is waarskynlik “vrou bo”, want dan kan jy beheer neem en besluit hoeveel en wanneer. Onthou dat sekere speletjies nie nou ’n goeie plan is nie. Jou maat kan byvoorbeeld nie lug by jou vagina inblaas nie omdat dit ’n bloedvat kan laat verstop.

Hulle eet wat?

Party nuwe ma’s glo deesdae hulle moet die plasenta eet. Daar word beweer dat dit nageboortelike depressie voorkom. Kim Kardashian sê dit gee haar ’n reuse- energiehupstoot. Wel ja, as jy dit glo sal jy dit seker voel ook. Maar hoewel kolonies van goeie en slegte bakterieë oor die algemeen nie gevaarlik vir volwassenes is nie, kan dit vir babas dodelik wees. Die Amerikaanse Centers for Disease Control het byvoorbeeld ’n waarskuwing uitgereik nadat ’n nuwe ma plasenta in pilvorm gesluk het. Die plasenta was met die streptokok-bakterie besmet en die baba het as gevolg daarvan twee keer ’n ernstige bakteriese bloedinfeksie opgedoen.

’n Bietjie biologie

Van die plasenta gepraat. Dit is ’n dik, bloedvatryke, vlesige orgaan wat gedurende swangerskap ontwikkel en aan die binnekant van die baarmoeder vasheg. Die baba se naelstring is aan die plasenta vas en voedingstowwe, hormone, suurstof en bloed beweeg dan via die plasenta tussen ma en fetus. Ideaal gesproke moet die plasenta hom aan die boonste deel van die baarmoeder heg. Soms vorm dit egter laag onder in die baarmoeder, waar dit die serviks kan versper. En omdat baba deur die serviks gebore moet word, kan so ’n laagliggende plasenta uiteindelik ’n keisersnee noodsaak. as die kosluste jou beetkry Swangerskapsmagtings is so oud soos die berge en terwyl party daarvan vreemd maar skadeloos is, is ander smagtings problematies. Pika is byvoorbeeld ’n toestand waarin swanger vroue ’n behoefte het om goed te eet wat nie kos is nie, soos bordkryt, ys, verfvlokkies en houtskool. Hierdie vreemde behoefte is die gevolg van ’n tekort aan belangrike vitamiene en minerale in die dieet. Twee sulke voedingstowwe is yster en foliensuur. Omdat swangerskap die hoeveelheid bloed in die liggaam verhoog, het ons meer yster nodig. Yster se werk is om suurstof deur die lyf te vervoer. Terwyl ’n ystertekort nie ooglopende simptome het nie, het dit wel belangrike nagevolge. Dit sluit in bloedarmoede, flouheid, prikkelbaarheid, angs, haarverlies, hoofpyn en depressie. Dis alles algemeen tydens swangerskap en word dus maklik misgekyk of verkeerd geïnterpreteer. Moenie enige vitamiene of aanvullings gebruik sonder om jou mediese versorger te raadpleeg nie. Foliensuur of folaat word as noodsaaklik geag wanneer jy probeer swanger raak omdat dit help om rugmurgafwykings te voorkom. Gesels dus met jou mediese versorger as jy probeer swanger raak. Dit is belangrik dat jy nie ’n dieet volg terwyl jy swanger is nie, maar ’n gebalanseerde verskeidenheid van gesonde kos eet. ’n Kitsdieet kan die fetus se ontwikkeling en groei belemmer. 
Jou liefdesvlam brand in die tweede trimester hoog – maak seker jy geniet dit!

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees