book-icon Uitgawe Junie & Julie 2018

Positiewe kraampyn

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Baie vroue word so angsbevange as gevolg van teenstrydige inligting oor natuurlike geboortes dat hulle besluit om eerder ’n keisersnee te vra. Hier is die waarheid: Gedurende die geboorteproses het jou liggaam ongelooflike krag. Jou pyn kán op ’n natuurlike wyse verminder en bestuur word. Nie almal ervaar pyn dieselfde nie. Sommige vroue beskryf kraampyne as baie intens, terwyl ander sê dat hulle bykans geen pyn ervaar het nie, maar eerder in ’n toestand van angs en verontrusting was. Daar is geen manier om te voorspel hoe jy gaan reageer nie. Jou liggaam, jou fisieke omgewing en jou kop speel alles ’n rol in jou uiteindelike belewenis van die geboorte. As jy ’n paar eenvoudige strategieë inspan, kan jy pyn beperk en verseker dat die natuurlike geboorte van jou baba een van die positiefste en onvergeetlikste dinge is wat jy in jou lewe ervaar.

As jy gespanne en angstig is, het jy klaar ’n agterstand. Die beste plan is om jou te bemagtig deur inligting bymekaar te maak. Lees soveel jy kan oor natuurlike geboorte. Vra jou mediese versorger oor enigiets waaroor jy onseker is. Hoe meer jy weet, hoe kalmer sal jy wees. Hoewel jy in ’n situasie gaan wees waar jy nie alles kan beheer nie, kan jy tog sekere dinge bepaal. Leer die hospitaal en kraamsaal ken. Maak ’n afspraak om die kraamsaal vooraf te besoek. Kraameenhede verwelkom besoeke gewoonlik mits dit betyds gereël word. Laat die eenheidsbestuurder prosedures aan jou verduidelik en die angel haal uit enigiets wat intimiderend lyk. Sorg dat jy jou laat geld wat jou behoeftes betref, maar laat ruimte vir verandering. Enigiets kan gebeur. Jy het ’n sê in baie sake wat dinge vir jou makliker kan maak, soos die beligting en keuse van ’n geboortemaat. Jy verkies dalk ’n natuurlike geboorte, maar moenie gespanne en paniekerig raak as jy dalk ’n keisersnee moet kry nie. Spanning sal net tot jou fisieke ongemak bydra.

Geestelike ondersteuning kom van verskillende bronne. Afhangende van jou oortuigings kan jy kies om te bid of te mediteer om jou innerlike krag te ontsluit. Besluit wie jy as jou geboortemaat wil hê. Wie gaan jou aandag van die pyn aflei en die meeste emosionele en fisieke ondersteuning bied wanneer jy dit nodig het? In die maande wat die geboorte voorafgaan, kan jy asemhalingstegnieke saam met jou geboortemaat oefen om vertroue te bou. Vertrou jou liggaam se vermoë om te kraam en die geboorte van jou kind te hanteer. Jou liggaam is daarvoor ontwerp en jy sal verstom wees oor jou krag in die kraamproses. Fokus op jou baba wanneer kontraksies intens word. Om ’n lys van visualiserings en positiewe bevestigings gereed te hê, sal ook help om jou aandag van die pyn af te lei en jou op die oomblik laat fokus. Onthou, jou lyf ervaar nie pyn omdat dit siek of beskadig is nie, en die pyn is daar met ’n doel. Daar het ’n hele nuwe mensie in jou gegroei na wie se koms jy al maande lank uitsien. Geboortepyne is gesonde, produktiewe, tydelike pyne en dit eindig met die plesier van jou nuwe baba wat in jou arms geplaas word.

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees