GAAN SEKS DIESELFDE VOEL NOUDAT EK SWANGER IS?

Waarskynlik nie. Dit gaan lekkerder wees! Tydens swangerskap het jy tot 1,5 keer soveel bloed in jou lyf as voorheen, en die toename in bloedvloei kan jou baie meer sensitief maak vir aanraking. Jy sal ook makliker ’n orgasme kry. Dié uitwerking is op sy sterkste in die tweede trimester – dis nou nadat die olikheid en moegheid van die eerste trimester ’n bietjie afgeneem het en voor jy in die derde trimester so groot en lomp voel dat die blote gedagte aan atletiese seksposisies ondraaglik is.

Dit kan dalk vir jou lekker wees dat jou borste nou soveel meer sensitief is, of jy kan verkies dat jou man eerder sy hande daar weghou – laat weet hom maar.

Lees: Swanger seks 101

Seks behels nie net die liggaamlike nie, maar ook die verstand. Dis moontlik dat jou houding oor seks nou baie anders kan wees en dat jy dit moeiliker geniet. Dis nie vir alle vroue dieselfde nie. Sommiges se libido verhoog en met ander gebeur die teenoorgestelde. Moenie druk op jou plaas om iets te voel net omdat iemand anders dit so ervaar nie.

KAN SEKS DIE BABA SEERMAAK?

’n Vrees dat die baba kan seerkry, is een van die algemeenste rede waarom paartjies hul sekslewe tydens swangerskap opskort. As jy enigsins daaroor besorg is, kan jy dadelik ontspan. Jou baba word omring deur vrugwater en word beskerm deur jou baarmoeder en ’n laag spiere.

Die slymprop binne-in jou serviks (oftewel baarmoedermond) help ook om teen moontlike infeksie te beskerm. As julle seks het, is jou baba dus heeltemal veilig in sy kokonnetjie.

IS DIT NORMAAL OM GLAD NIE SEKS TE WIL HÊ TYDENS SWANGERSKAP NIE?

Natuurlik is dit. Sommige vroue se seksuele drang is biologies gedrewe. Wanneer die doel van ’n swangerskap bereik is, is dit vir hulle moeilik om seksueel te voel. Maar probeer onthou dat seks oor meer gaan as net voortplanting.

Jy en jou maat sal albei daarby baat vind as julle in hierdie tyd steeds intiem kan wees. Dis ’n taai tyd – kry gerus hulp as jy heeltyd te moeg is en glad nie lus het nie.

HOEKOM LEK MY BORSTE TYDENS SEKS?

Jou borste begin lank voor die tyd al gereedmaak vir die baba wat hulle later gaan voed en maak al in die derde maand van jou swangerskap kolostrum. Kolostrum is die dik, geel supermelk wat jou baba in die eerste drie dae van sy lewe gaan voed.

Lees: Liefie, nie vanaand nie

Wanneer jy seksueel geprikkel word, word oksitosien – die goedvoelhormoon – vrygestel, en raai wat? Dis dieselfde hormoon wat afgeskei word wanneer jy borsvoed. Dié hormoon help jou om liefdevol teenoor jou maat te voel, laat jou en jou baba bind en help ook met die sakrefleks van melk wanneer jy borsvoed. Dit is dus heeltemal natuurlik en normaal dat jy tydens seks melk sal lek. As dit jou pla, dra borsdoekies of ’n dik bra, of vra jou man om maar van jou borste weg te bly. Wees gewaarsku: Dié verskynsel kan die hele tyd wat jy gaan borsvoed, voortduur.

KAN SEKS DIE GEBOORTE AAN DIE GANG SIT?

Daar is navorsing wat wys dat semen naby die ingang van die baarmoeder kan help om die kraamproses aan die gang te kry – maar net as jou baba in elk geval gereed was om gebore te word. Semen is ryk aan prostaglandien, wat vermoedelik kontraksies kan laat begin. Seks word dikwels aanbeveel wanneer ’n swangerskap oor sy datum loop. Dit klink dalk vir jou onmoontlik om op nege maande seks te hê en boonop ’n orgasme ook, maar dit kan gedoen word!

As jy enige ongewone simptome tydens of net ná seks ervaar, soos pyn of ’n ongewone afskeiding, moet jy liefs jou dokter laat weet.

As jou slymprop uitgeskei is of jou water gebreek het, moet jy nie seks hê nie, want jy en jou baba is dan aan moontlike infeksie blootgestel.

KAN DIE BABA ONS HOOR?

Vreemd soos dit nou klink, maar ja. Vanaf 24 weke kan jou baba reageer op harde geluide buite die baarmoeder. Jou baba hoor dus dat iets aangaan, maar sal glad nie verstaan wat nie. Die endorfiene wat jy tydens seks produseer beland in jou bloedstroom en word aan jou baba ook oorgedra. Die liefkosing is dus vir almal ’n positiewe ervaring.

KAN ONS NÁ DIE GEBOORTE SEKS HÊ?

Jy kan ná die geboorte nog ses weke lank bloei en sal waarskynlik in dié tyd nie seks oorweeg nie. Jy sal ook moeg en baie besig wees en jou aandag sal beslis elders wees.

Lees: Is seks veilig terwyl 'n mens swanger is?

Mans en vroue se seksdrang is gewoonlik kort ná hul baba se geboorte baie laag. Wees geduldig en gun dit tyd. As jy ’n keisersnee of episiotomie gehad het, kan seks aanvanklik ook ’n bietjie seer wees.

As seks vir eers buite die kwessie is, kan julle intussen op soen, lang masserings en liefkosings fokus en jul gevoelens vir mekaar deel.