NAARHEID

Byna die helfte van swanger vroue sukkel met naarheid, veral soggens. Vroue met ’n tekort aan sekere voedingstowwe is meer geneig tot naarheid, hoewel swangerskapsverwante hormone die eintlike sondaars is. Dié hormone skiet die hoogte in gedurende week nege en 10 van jou swangerskap en dis dan dat jy op jou slegste kan voel. Onthou, naarheid kan ook jou liggaam se manier wees om van gifstowwe ontslae te raak. Troos jou daaraan dat die meeste gevalle van mislikheid net in die eerste trimester voorkom.

RAAD Eet gesonde kos waarvan jy hou. Eet gereeld, want dit laat jou bloedsuikervlak stabiliseer.

Swanger vroue het meer vitamien B6 en B12, foliensuur, yster en sink nodig en naarheid is dikwels ook die gevolg van te min sink in jou liggaam. As jy baie opgooi, kan jy ’n magnesiumtekort ontwikkel.

Sommige vroue sweer daarby om soggens sodra hulle wakker word ’n Provita of Mariebeskuitjie te eet. Drink baie vloeistowwe, veral water. Gemmer is ’n krui wat naarheid teenwerk; skop die dag dus af met gemmertee – dit is ook ryk aan sink – of eet ’n gemmerkoekie as ’n peuselhappie.

Die homeopatiese middel Magen-druppels bied veilige verligting van naarheid.

TOE NEUS

Party vroue sweer hul neus raak verstop die oomblik dat hul hoor hulle is swanger – en dit is heel moontlik as gevolg van waterterughouding of opgeswelde asemhalingsmembrane weens al die ekstra vloeistof in jou liggaam.

Sommige vroue neem meer suiwel- en graanprodukte in tydens swangerskap en dit kan ook die oorsaak van hul toe neus wees.

RAAD Gebruik die weefselsoute Nat mur en Nat sulph om die vloeistofbalans in die weefsel te reguleer en die verstopping van die neusgange te verlig. Drink drie keer per dag een van elk.

SOOIBRAND

Tot 80 persent van swanger vroue ly aan sooibrand. Dit ontstaan omdat buikspiere rek en die kleppie tussen die slukderm en maag ’n bietjie oopgelaat word pleks daarvan om soos gewoonlik dig te sluit. Die vloeistowwe in die maag stoot dan in die slukderm op en dit veroorsaak sooibrand. Dit raak ongelukkig erger namate die swangerskap vorder.

RAAD Sooibrand is gewoonlik erger saans of sodra jy gaan slaap. Probeer om nie kort voor slaaptyd te eet nie en vermy veral groot etes saans ná ses.

Slaap op twee of meer kussings om jou bolyf effens te lig – dit sal jou spysverteringskanaal afwaarts laat lê.

Die meeste teensuurmiddels soos Gaviscon en Rennie is veilig gedurende swangerskap, maar moenie te veel teensuurmiddels gebruik nie aangesien jy reeds tot meer alkaliniteit geneig is.

Beperk jou inname van skerp, vetterige en ryk kos.

Gebruik die homeopatiese middel Magen-druppels en die weefselsout Nat phos.

HARDLYWIGHEID

Progesteroon speel ’n baie belangrike rol in jou swangerskap, maar ongelukkig vertraag dit ook die peristaltiese bewegings van jou derm. Hardlywigheid is dus ’n algemene swangerskapskwaal. Baie van die spesiale swangerskapsaanvullings wat vroue gebruik, kan ook hardlywigheid veroorsaak.

Moenie lakseermiddels drink terwyl jy swanger is nie; dis nie geskik nie.

RAAD Oefen gereeld. Gaan stap vinnig en ver en drink baie water. Drink ’n koppieafgekoelde kookwater as jy soggens opstaan en saans net voor jy gaan slaap. Eet baie vesel en minstens vyf vrugte per dag.

Gebruik ’n aanvulling van ’n omega 3-ryke olie soos lynolie, vlasolie of visolie as jou stoelgang droog en krummelrig is.

Segiro-druppels is veilig tydens swanger­skap en wonderlik vir hardlywigheid wat met opgeblasenheid gepaardgaan.

Superwenk

Moenie jou enkels of bene  kruis terwyl jy sit nie. En doen enkel- en kuitoefeninge terwyl jy sit om jou bloedsomloop te stimuleer.


AAMBEIE

Aambeie is ’n vorm van spatare in die rektum en anale gebied en dit kom voor as ’n los velaanhangsel of selfs druifagtige trossies wat by die anus uitsteek.

Die belangrikste oorsake van aambeie tydens swangerskap is die ekstra gewig wat jy dra, wat druk in die bekken veroorsaak. Hardlywigheid is ook ’n oorsaak.

Aambeie moet behandel word om te keer dat dit vererger terwyl jy kraam.

RAAD Eet gereeld vrugte en vesel om hardlywigheid te voorkom.

Gebruik die weefselsoute Calc fluor en Ferrum phos om die bloedvatwande meer elasties en sterker te maak.

Jy kan die aambeisalf Anethaine aanwend. Probeer om nie onnodig gewig aan te sit nie omdat dit ook aambeie veroorsaak.

HOOFPYN

Sommige vroue wat nooit voorheen las gehad het van hoofpyn nie, kla soms daaroor terwyl hulle swanger is. Hoofpyn vroeg in die swangerskap is gewoonlik nie so ernstig nie, maar dié wat in die tweede en derde trimester voorkom, moet in ’n ernstiger lig beskou word.

RAAD Beproef die weefselsout Mag phos. Drink twee tablette minstens drie maal per dag, gevolg deur ’n warm drankie soos rooibostee.  Plaas ’n koel waslap op jou voorkop.

Parasetamol soos Panado is veilig tydens swangerskap, maar raadpleeg eers jou dokter. Handhaaf ’n goeie postuur en sorg dat jy gereeld goed strek.

Probeer om meer te rus met die gor­dyne toegetrek en ’n ligte kussing oor jou voorkop en oë.

JEUKENDE VEL

Jou maag, borste en sitvlak jeuk dikwels as ’n mens swanger is. Sommige vroue kla selfs dat hul labia, boarms en bobene jeuk. Dit word toegeskryf aan die vel wat rek en hormoonveranderinge. Die gejeuk is nie ernstig nie, maar wel irriterend.

RAAD Drink die weefselsout Nat mur drie keer per dag en wend Natura se vitamien E-room aan. Gebruik spesiale rome vir swangerskap en olies soos Bio-Oil.

Voeg ’n pot rooibostee en ’n hand vol koeksoda by jou badwater om die vel te streel.

Het jy geweet?

Eet jou hoofmaaltyd liefs in die middag en  jou laaste maaltyd drie uur voor jy gaan slaap. Dit sal jou spysvertering verbeter.


SWELSEL

Geswelde bene en matige waterterughou­ding is algemeen tydens swangerskap en gewoonlik glad nie so ernstig nie.  Swelling kan verskeie oorsake hê – jou bloedvolume en bloedvatnetwerk neem dramaties toe en die verhoogde vloeistoflading kan lei tot ernstige vloeistofterughouding in die liggaamsweefsels.

Dit word vererger deur die druk waaronder jou bloedsomloop verkeer as gevolg van die gewig van die swangerskap op die belangrike bloedvate in die buik, wat die bloedvloei minder doeltreffend as gewoonlik maak.

Die hart moet harder werk om die ekstra bloed na die hande en voete te pomp, met die gevolg dat hierdie dele die meeste geraak word en dat bloed daar versamel.

RAAD Gaan stap elke dag minstens ’n halfuur flink, veral as jy weens jou werk baie staan of sit.

Gebruik die weefselsoute Nat mur en Nat sulph om die vloeistofvlak in jou liggaam te help balanseer. Drink een tablet drie keer per dag.

Rus genoeg en lig jou voete of sit dit in koue water om die swelsel en pyn te verlig.