Slapeloosheid terwyl jy verwag steek gewoonlik eers teen die middel van jou swangerskap kop uit. In die eerste trimester slaap ’n swanger vrou gewoonlik baie goed en diep (en onophoudelik!). Maar namate jou boepie swel, begin jy agterkom dat jy snags wawyd wakker rondrol, al is jy ook doodmoeg. Daar is baie oorsake en gelukkig ook heelwat oplossings wat ’n beter nagrus kan verseker.
Van week 25 af begin jy dalk al angstig voel oor die geboorte wat voorlê of oor al die ingrypende veranderinge wat daarna op jou wag. Die oplossing is om jou so goed moontlik voor te berei op die dinge wat jou angstig maak. Gesels gerus met ’n berader of jou gesondheidsorggewer oor alles wat jou gespanne maak, is die raad van die babakenner Suster Lilian in haar Swangerskap- en geboorteboek: Die volledige gids (Human & Rousseau). Vind alles uit oor die kraam- en die geboorteproses. Kennis is mag en jy sal baie meer in beheer voel as jy oor al die feite beskik en ’n positiewe bevalling begin visualiseer. Neem dalk ook ’n homeopatiese middel om die angstigheid te verminder en om jou voor slaaptyd te help kalm word.
Sooibrand word ’n probleem veral in die derde trimester, maar dikwels ook vroeër. Namate jou baba groei en jou baarmoeder uitsit en teen jou maag begin druk, vloei die suur maaginhoud deur na die alkaliese slukderm en brand die vliesvoering. Boonop laat die ekstra progesteroon in jou lyf die klep tussen die maag en slukderm verslap, en dis juis hierdie klep wat die opstoot van die maaginhoud en dus sooibrand keer. Wanneer jy gaan lê, vloei die nare suur maaginhoud dan in die slukderm terug en veroorsaak ongemak.