Spa toe met jou boep!

akkreditasie
Jy het nou meer as ooit 'n bietjie vertroeteling nodig, maar is dit veilig om by die spa te gaan le terwyl jy swanger is?

Of jy nou ’n gemaklike, sprankelende swangerskap het of soos ’n olifant voel, nóú is die ideale tyd vir ’n bietjie bederf. ’n Spa-behandeling sal jou nie net afgerond laat lyk nie, dis ook ’n uitstekende manier om jou stres oor dít wat op jou wag te verminder.

Maar wat is veilig? Kan jy jou met ’n geruste hart laat masseer en vol olies en rome laat smeer?

“Moenie aarsel as jy ’n behoefte het om jou te laat bederf nie,” sê dr. Marlena du Toit, ’n ginekoloog en verloskundige van Bellville in Kaapstad. “Al wat nodig is, is omsigtigheid.”

Wanneer mag jy gaan?

Daar is ’n paar behandelings wat in die eerste trimester liefs vermy moet word. Sommige spa’s is ook versigtig vir behandelings in die derde trimester.

Jou tweede trimester is dus die beste tyd om jou afspraak te maak. Teen hierdie tyd het jy ook hopelik meer energie en is die eerste naarheid net ’n onaangename herinnering.

Was

Wasbehandelings is veilig tydens swangerskap. ’n Brasiliaanse wasbehandeling is ’n baie goeie idee – veral met die aanloop tot die geboortedag. Wees net versigtig vir was wat te warm is en vir onervare terapeute. Die laaste ding waarmee jy in hierdie tyd wil sukkel, is velle wat deur iemand onervare afgeruk is.

Refleksologie

Moet jou nie laat behandel deur ’n refleksoloog wat nie spesifiek in die behandeling van swanger vroue opgelei is nie. Maar ’n opgeleide terapeut kan jou energie ’n hupstoot gee en jou baie beter laat voel.

Laura Thomas, van Mamatoto in Johannesburg wat in massering en refleksologie vir swanger vroue spesialiseer, sê refleksologie kan baie voordelig wees omdat dit ontspanning bevorder en jou bloeddruk normaal help hou.

As jy water terughou en jou voete en enkels swel, kan refleksologie ook help. Dit verlig ook rugpyn, seer ligamente en algemene swangerskapskete soos naarheid, hoofpyn, slaapprobleme en hardlywigheid.

Mani's en pedi's

Bederf jou gerus met ’n manikuur en veral ’n gereelde pedikuur. Dis nodig dat jy ’n rukkie van jou voete af kom en weet dat jou (geswelde) voete – wat jy later self nie meer kan sien nie – versorg is. Maak net seker dat die salon goed geventileer is.

“Ons beklemtoon altyd aan ons terapeutedat massering, veral van die voete, sag moet wees as die kliënt swanger is,” sê Lexi Reckling, eienaar van Polish Nail Spa in Johannesburg.

As jou baba binnekort kom en jy ’n keisersnee beplan, moet jy egter liefs nie jou naels laat verf nie, sê Lexi. Dis omdat die narkotiseur jou suurstofvlak dophou deur onder meer na die kleur van jou naels te kyk.

Gesigbehandelings

Gereelde gesigbehandeling kan heerlik ontspannend wees en kan jou vel in ’n goeie toestand hou. Onthou net dat jou vel in hierdie tyd meer sensitief kan wees.

“Dit is nie nou die tyd om te eksperimenteer met nuwe behandelings of produkte nie,” sê Marlena. “Hou eerder by dit waarmee jy vertroud is en wat vir jou werk.”

Produkte en behandelings wat retinoïede (’n soort vitamien A wat seldeling versnel) bevat, is verbode terwyl jy swanger is. As jy aknee wil laat behandel, moet jy wegbly van bensoïel-peroksied.

Dit is verder nie regtig die moeite werd om pigmentasie te probeer takel terwyl jy swanger is of borsvoed nie. Die beste wat jy kan doen is om jou vel met ’n goeie sonroom te beskerm en heelwat later die pigmentasie te pak.

Geniet jy chemiese afskilferings, maar bekommer jy jou oor hoe veilig dit is? Wees gerus dat sekere afskilferings wel geskik is tydens swangerskap.

Maar dit is baie belangrik dat jy doodseker maak by die terapeut en by die vervaardiger van die spesifieke produk wat gebruik word.

Massering

Laura se raad is dat jy masseertafels vermy wat ’n gat in het om jou swanger maag te akkommodeer. Hierdie tafels bied geen ondersteuning van die ligamente in jou baarmoeder nie en dit kan ook laerugpyn veroorsaak.

“Vra ook vir ’n geurlose olie as jy sensitief is vir reuke,” sê sy.

Die Amerikaanse masseringsnavorsingsliggaam The Touch Research Institute het gevind dat massering kan lei tot ’n afname in angs, streshormone en verlossingskomplikasies.

Massering kan ook jou energie ’n hupstoot gee, jou spiertonus verhoog en jou beter laat slaap. Dit help om jou bloeddruk te reguleer en verlig stres op jou gewrigte.

Laat jou so gereeld masseer as wat jy wil. Hoe verder jy in jou swangerskap vorder, hoe meer dikwels kan jy dit laat doen. Pas net op vir aromaterapie, waarsku Marlena.

“Die volgende olies moet vermy word omdat dit tot voortydige kontraksies kan lei: basiliekruid, sederhout, Engelse salie, vinkel, marjolein, mirre, roosmaryn, salie en tiemie. Laventelolie is egter veilig en kan gerus gebruik word.”

Taboes terwyl jy swanger is

Vermy enige behandeling wat jou liggaamstemperatuur verhoog omdat dit gevaarlik kan wees vir jou ongebore baba. Warmwaterbronne, saunas, stoomkamers, warm baddens en jacuzzi’s is dus uit.

  • Jy moet minstens drie tot ses maande ná jou baba se geboorte wag voor jy enige vuller- of botoks-behandelings ondergaan.
  • Vermy sonbeddens, sproei-sonverbruining, toedraaisessies en mesoterapie.

Onthou!

As jy ’n hoërisiko-swangerskap het, is dit wys om met jou verloskundige te gesels voor jy enige behandelings laat doen.

Wanneer jy jou afspraak maak, vertel vir die ontvangsdame dat jy swanger is en vra vir ’n terapeut wat vertroud is met die moets en moenies van swangerskap.

Jou posisie is belangrik – vanaf 16 weke moet jy nie té lank op jou rug lê nie. Kyk of die tafel gekantel kan word en maak seker dat jou rug deur handdoeke of kussings ondersteun word. Jy kan natuurlik ook van die behandelings sittend of halfsittend geniet.

Al dié riglyne verander egter as jou swangerskap effens ingewikkeld raak, waarsku die ginekoloog dr. Marlena du Toit. Dan moet jy ’n beplande behandeling vooraf met jou verloskundige te bespreek.

Vertrou jou instink. Selfs al sê die terapeut dat ’n sekere produk of behandeling veilig en jy voel nie gemaklik daarmee nie, kies iets anders. Dit is immers nie net jóú gesondheid wat daarvan afhang nie!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees