Reël jy 'n ooievaarstee en wil dinge graag 'n bietjie opkikker met oorspronklike of tradisionele speletjies? Jy's op die regte plek!

#1 Pas baba mooi op

Koop ’n klompie goedkoop babapoppies. Elke gas kry met hul aankoms ’n baba om te versorg. As jy jou babapop neersit of iewers laat rondlê, kan iemand dit opraap en hou.

Die een met die meeste babapoppe teen die einde van die partytjie is die wenner.

#2 Doekgooi 

Al die pappas sal dié een geniet. Vou doeke vooraf in bondeltjies, soos wanneer jy ’n vuil doek toevou om dit weg te gooi.

Plaas ’n asdrommetjie eenkant en trek vyf meter daarvandaan ’n streep met bordkryt of maskeerband. Laat die gaste elkeen ’n beurt kry om die doeke van die streep af in die drom te gooi.

Sorg vir ’n lekker prys vir die een wat die meeste in die drom kry.

#3 Doekruil

Plaas twee poppe so groot soos pasgebore babas op ’n tafel. Hou ook weggooidoeke gereed.

Blinddoek twee gaste en kyk wie eerste haar baba se doek suksesvol kan ruil sonder om te loer. Hou uitdunne tot julle ’n algehele wenner het.

#4 Foppies op ’n stokkie

Koop goedkoop foppies en sosatiestokkies. Gee elke gas ’n beurt om ’n sosatiestokkie met die tande vas te byt en soveel moontlik foppies (wat almal in ’n oop houer geplaas is) op die stokkie te ryg.

#5 Baba is verbode 

Plaas genoeg wasgoedpennetjies in ’n houer sodat elke gas vyf wasgoedpennetjies aan hul klere kan vassteek.

As jy iemand die woord “baba” hoor sê, kan jy ’n wasgoedpennetjie by haar steel en dit aan jou klere vassteek. Die gas met die meeste pennetjies aan die einde van die babatee wen ’n prys.

#6 Gee dit ’n naam 

Deel die gaste in spanne op en speel gedeeltes van liedjies met die woord “baba” of “ baby ” daarin. Die eerste een wat die liedjie se naam reg raai, wen ’n punt vir die span.

Speletjies--vir-’n-prettige-babatee

#7 Raai Raai riepa

Hierdie speletjie is vir babatees waar die geslag en naam van die baba ’n geheim is.

Druk ’n mooi versierde kaartjie vir elke gas uit met die volgende opskrif te en dan ook plek waar die gas hul raaiskoot kan neerskryf:

Geslag:

Naam:

Geboortedatum:

#8 My water het gebreek!

Vries klein speelgoedbabas, speelsoldaatjies of poppies in ysblokkies vas. (Giet water in ’n yshouer en plaas een speelgoedmannetjie in elke blokkie.)

Laat elke gas aan die begin van die babatee ’n ysie in hul koeldrank gooi. Die gas wie se ysie eerste ontvries sodat die speelding kan ronddryf, moet uitroep: “My water het gebreek” en is die wenner.

#9 Soek die woorde 

Deel vir elke gas by die babatee ’n gedrukte woordsoekblok en pen uit. Hierdie speletjie werk as volg: Daar is verskillende letters op die blad gedruk (sowat 20 rye en 20 kolomme).

Van hierdie letters vorm woorde in verskeie rigtings – alles babaverband. Elke woord wat raakgesien word, moet doodgetrek word. 

Speletjies--vir-’n-prettige-babatee

#10 Babatee-bongo

Druk ’n blad met sowat vyf rye en vyf kolomme uit. Elke gas vul haar bingo­kaart in met die items wat sy dink die amperma present gaan kry.

Terwyl sy die geskenke oopmaak, trek jy die items dood. Die eerste een wat vyf in ’n ry het, moet “bingo!” uitroep.

#11 Borslapkuns 

Koop effekleurige borslappe en verskeie viltpenne in verskeie kleure.

Gee vir elke gas ’n borslap om op te skryf of teken. Laat die eregas die wenner kies.

#12 Ma soek na baba 

Druk vir elke gas ’n kaartjie uit met ’n lys mamma-diere in die linkerkolom en babadiere in die regterkolom. Trek ’n streep van die ma na die regte babadier.

#13 Watter beroemde mens is ek? 

Plak ’n kaartjie-etiket op elke gas se rug wanneer hulle by die babatee opdaag. Elke gas moet deur die loop van die partytjie uitvind wie sy is deur ander gaste vrae te vra en dan te raai wie se naam op haar rug staan.

#14 Maak ’n baba 

Gee ’n bal klei aan elke gas  om ’n baba te mee te vorm. Plaas die baba in ’n kolwyntjiepapierhouer om dit te bewaar. Die kreatiefste en mooiste  baba wen.

#15 Hoe groot is daai boep?

Laat elke gas raai hoe groot die amper- ma se middel is deur ’n stuk tou af te sny wat sy dink om die ma se middel sal pas.

Die toulengte wat die naaste is aan die ma se ware middelgrootte is die wenner.

#16 Wat proe jy? 

Dié speletjie is nie vir sissies nie. Smelt ses verskillende soorte sjokoladestafies en smeer elkeen afsonderlik in ses verskillende weggooidoeke.

Elke gas moet proe of ruik om te raai watter geur “poefdoek” dit is en dit neerskryf by die gepaste doeknommer op die kaartjie.

Onthou om die doeke duidelik te nommer ten einde verwarring te vermy.

Speletjies--vir-’n-prettige-babatee

#17 In die kol

Jy het nodig: twee kussings, twee houers met wye bekke (niks groter as grondboontjiebotterbottels nie) en twee klein balletjies. Met hierdie speletjie neem gaste twee-twee deel.

Elke deelnemer kry ’n kussing wat dien as ’n swanger maag en ’n balletjie (wat te alle tye tussen die knieë of bobene moet bly).

Die deelnemers begin op ’n punt 10 meter van die oop houers af en moet die bal in die houer laat val sonder om die kussing of bal te verloor terwyl hulle na die houer toe waggel.

Geen arms of hande mag gebruik word behalwe om hul maag vas te hou nie. 

#18 Baba soek ’n  foppie 

Druk ’n A3- of selfs groter plakkaat met ’n baba daarop uit en plak dit teen ’n muur vas. Druk foppies op kleefpapier uit.

Elke deelnemer moet geblinddoek voor die plakkaat staan en kry een beurt om ’n foppie te plak waar hulle meen die baba se mond is. Die een wat die foppie die naaste aan die baba se mond plak, is die wenner.

#19 Proe-proe 

Hierdie speletjie is eenvoudig, maar hope pret. Koop ses verskillende soorte botteltjies babakospuree en trek die etikette versigtig af.

Nommer elke botteltjie duidelik en druk ’n tabel vir elk gas uit met ses rye, genommer van een tot ses. Elke gas moet aan elke botteltjie puree proe, raai watter geur dit is en die raaiskoot by die korrekte nommer neerskryf.

#20 Voer die baba 

Dié speletjie werk lekker vir partytjies wat pa’s en ma’s bywoon. Die paartjies besluit self wie voer en wie eet.

Die persoon wat voer word geblinddoek en voer gebottelde babakos aan die “baba”, wie se hande agter hul rug vasgebind is. Die paartjie wie se babakos eerste klaar geëet is, wen.