Die teoretiese vrae 

Wat is stamselle?

Stamselle is die moeders van alle selle, weefsel en organe wat in die menslike liggaam voorkom. Alles in ons liggaam – van ons vel tot ons bene en ons brein – ontwikkel uit ’n enkele stamsel.

Een van die mees kenmerkende eienskappe van stamselle is dat dit ’n onbeperkte vermoë het om te vermeerder sonder om te verander. ’n Ander besonderse eienskap is dat enige soort sel of orgaan uit ’n sekere soort stamsel kan ontwikkel. Albei dié eienskappe hou die belofte in dat stamselle gebruik kan word om allerhande beskadigde of verouderde selle en weefsels te herstel en herskep.

Waar kom stamselle oral voor?

Stamselle kom nie net in die naelstringbloed voor nie, maar onder meer ook in die rugmurg van kinders en volwassenes. Een manier waarop wetenskaplikes tussen stamselle onderskei, is op grond van waar hulle vandaan kom. Hiervolgens is daar hoofsaaklik twee soorte: embrionale stamselle en volwasse stamselle. Stamselle wat uit naelstringbloed en -weefsel geoes word, val onder volwasse stamselle.

Embrionale stamselle word onttrek uit baie jong embrio’s wat in ’n laboratorium bevrug en nooit in ’n vrou se baarmoeder ingeplant is nie.

Daar is ’n magdom etiese, morele en geloofskwessies rondom hierdie manier van selle oes, hoofsaaklik omdat die embrio vernietig word nadat die selle onttrek is. Baie wetenskaplikes doen egter navorsing met embrionale selle en bekom so baie waardevolle inligting oor selvorming. Dit lyk of daar meer met dié selle as met volwasse selle gedoen kan word.

Wat maak stemselle so spesiaal?

Die wonder van stamselle is dat hulle beskadigde selle in die liggaam kan uitsoek en verander in nuwe, gesonde selle van dieselfde soort as dié wat beskadig is.

Is stamselle uit naelstringbloed al suksesvol oorgeplant?

Die eerste poging om stamselle wat uit naelstringbloed verkry is, in ’n menslike liggaam oor te plant was in 1972. Dit was vir die behandeling van ’n bloedafwyking. Dokters kon egter eers in 1988 die eerste suksesvolle oorplanting aankondig. Die pasiënt was ’n klein seuntjie en die skenker van die naelstringbloed-stamselle sy babasussie. Die seuntjie is vandag ’n gesonde man.

Verskeie soortgelyke suksesvolle stamseloorplantings is intussen gedoen. En soos met beenmurgregisters is daar oor die wêreld heen ook registers vir naelstring-stamselle begin.

Hoekom berg mense stamselle uit die naelstringbloed of -weefel?

Besorgdheid oor moontlike ernstige siektes motiveer die meeste ouers om hul baba se stamselle te oes en te laat bewaar. Daar is egter ander redes ook soos ’n doktersaanbeveling, ’n geskiedenis van familiesiektes en ’n behoefte om ander te help. Dit is boonop ’n pynlose prosedure wat hoogstens vyf minute duur.

Is daar 'n verskil tussen stamselle wat uit die naelstringbloed en uit die naelstringweefsel geoes is?

Ja. Die stamselle word verskillend aangewend. Dié uit die koordbloed word gebruik om bloedverwante toestande soos leukemie te behandel. Hierdie stamselle is ook dadelik gereed vir gebruik; dit moet net ontvries word. Dit word meestal gebruik om kinders te behandel, maar volwassenes kan ook oorplantings kry ná chemoterapie-behandeling.

Die stamselle wat uit die naelstringweefsel geoes word, beloof om vir niebloedverwante siektes aangewend te word. Wetenskaplike is aanhoudend besig met navorsing oor hoe hierdie selle aangewend kan word in onder meer ortopedie, neurologie, kardiologie en dermatologie. Hierdie stamselle moet eers ’n proses in ’n laboratorium ondergaan voor dit aangewend kan word.

Hoe lank kan stamselle bewaar word?

Teoreties kan stamselle vir altyd gehou word, aangesien dit teen –196 grade Celsius bewaar word en geen veroudering kan plaasvind nie. Daar is egter nog geen wetenskaplike bewys dat stamselle vir langer as 23 jaar geberg kan word nie. Dis die langste tydperk wat hulle nog bewaar, ontvries en toe vir lewensvatbaarheid getoets is.

Die bergingsmaatskappy Netcells bied ouers aanvanklik kontrakte van 10 jaar aan waarna die kontrak verleng kan word vir ’n verdere vyf of 10 jaar. Salveo bied ’n bergingspakket van 20 jaar terwyl Cryo-Save 10- en 20-jaar pakkette het. Lees gerus meer op die maatskappye se webtuistes oor hoe die pakkette en prysstrukture volgens jul behoeftes aangepas kan word.

Vir wie berg jy nou eintlik die stamselle?

Die stamselle stem geneties 100 persent ooreen met die selle van die kind by wie dit geoes is. Daar sal dus geen risiko vir verwerping wees as jou kind later in sy lewe dié selle nodig het nie.

Daar is ook ’n goeie kans (een uit vier) dat die stamselle vir ’n boetie of sussie geskik sal wees. Vir ma en pa word die kans kleiner: een uit agt. Hoe verder jy met die bloedlyn afbeweeg, hoe skraler word die kans.

Die bergingsmaatskappy Netcells sê op hul webtuiste dat die volgende omstandighede stamselberging ’n baie goeie oorweging maak:

  • As daar ’n familiegeskiedenis is van sekere siektes wat deur stamselle genees kan word,
  • As boeties of sussies ’n siekte het wat met stamselle behandel kan word,
  • As julle van ’n Afrika- of gemengde herkoms is, omdat dié groepe nie goed op registers wêreldwyd verteenwoordig word nie, en
  • As julle dit kan bekostig.

Kan stamselle later ook geoes word?

Tegnies gesproke kan stamselle op enige ouderdom geoes en bewaar word. Stamselle wat later geoes word, is egter nie so gesond of veeldoelig soos dié wat met geboorte uit die naelstring geoes word nie. Die stamselle wat met geboorte ingesamel word, kan meer van hulleself dupliseer as ouer stamselle wat by volwassenes geoes word. Die risiko dat hulle deur die ontvanger se immuunstelsel verwerp sal word, is ook kleiner.

Die praktiese vrae

Wie neem die bloedmonster by die hospitaal? Moet dit 'n dokter wees?

Die oes van stamselle uit naelstringbloed of -weefsel is ’n eenvoudige proses. Nadat die naelstring geknip is, word ’n naald in ’n aar van die naelstring gevoer en die bloed word getrek en in ’n sakkie gedreineer. ’n Stukkie van die naelstring word ook afgeknip en bewaar. Die bergingsmaatskappy wat jy gekies het, voorsien die insamelingspakket, wat die sakkie insluit. Jy moet dit saam hospitaal toe neem as jy gaan kraam.

Die selle hoef nie deur ’n dokter onttrek te word nie, maar dis gewoonlik ’n dokter of vroedvrou wat dit doen. Die meeste kraamsaal- en teaterpersoneellede by groter privaat hospitale het egter genoeg ondervinding van die proses.

Hoeveel bloed is genoeg?

Die meeste bergingsmaatskappye vereis ’n bloedmonster van tussen 90 en 150 ml. Die steriele bloedsakkie wat deur die bergingsmaatskappy voorsien word, maak voorsiening vir 200 ml. Navorsing wys dat die bloed wat uit die naelstringbloed en/of -weefsel getrek word, binne 48 verwerk moet word.

Wie vervoer die bloed van die hospitaal na die laboratorium?

Die bloedsakkie bly langs jou hospitaalbed. ’n Afgevaardigde van ’n privaat koerierdiens sal dit kom haal en na die stamselbank neem waar dit onmiddellik verwerk word en getoets word vir lewensvatbaarheid en of dit steriel is. Die vervoer van die bloed word deurentyd gemonitor en spesiale jelsakkies verseker die perfekte temperatuur.

Die vervoerrisiko is natuurlik kleiner as julle die selle by ’n plaaslike stamselbank laat berg eerder as by ’n oorsese een.