Jy wonder seker wat stamselle dan so spesiaal maak? Alles in jou liggaam – van jou bene tot jou brein – ontwikkel uit ’n enkele stamsel. ’n Stamsel het die onbeperkte vermoë om te vermeerder sonder om te verander, en enige soort sel of orgaan kan uit ’n sekere soort stamsel ontwikkel. Stamselle beskik dus oor die wonderlike vermoë om beskadigde selle in die liggaam uit te soek en te verander in nuwe, gesonde selle van dieselfde soort as dié wat beskadig is. Hier vertel ons jou hoe jy te werk kan gaan om jou ongebore baba teen siektes te beskerm deur sy stamselle te laat berg.

1. Hoekom met geboorte oes?

Jou baba se geboorte is ’n geleentheid om sy stamselle te bekom. Hoewel dié wonderselle uit die bloed van ouer kinders en volwassenes geoes kan word, moet dit ’n geskikte passing wees. Stamselle wat later geoes word, is egter nie so gesond soos dié wat met geboorte uit die naelstring verkry word nie. Die stamselle wat met geboorte ingesamel word, kan hulleself beter dupliseer en beter tot gespesialiseerde selle ontwikkel as ouer stamselle wat by volwassenes geoes word.

2. Wie trek ná die geboorte die bloedmonster?

Die oes van stamselle uit naelstringbloed of -weefsel is ’n eenvoudige proses wat gewoonlik deur ’n dokter of vroedvrou hanteer word. Die meeste geboortesorggewers het genoeg ondervinding van dié proses, veral by die groter privaat hospitale. Nog ’n opsie is MyNurse, ’n diens wat ontwerp is om die grootste volume naelstringbloed en -weefsel moontlik met geboorte te versamel. Dié diens kan ook verloskundiges met die oesproses help. Die MyNurse-versamelaars is geregistreerde verpleegsters wat opgelei is om spesiale tegnieke in te span om soveel moontlik stamselle te verkry. Dis belangrik, omdat te min stamselle latere gebruik in die wiele kan ry.

3. Hoeveel bloed is nodig?

Die proses werk as volg: Nadat die naelstring geknip is, word ’n naald in ’n aar van die naelstring gevoer en die bloed word getrek en in ’n sakkie getap. Daar is gewoonlik ’n direkte verband tussen die hoeveelheid bloed wat getrek word en die aantal stamselle wat so verkry word. Minstens 80 ml bloed moet gewoonlik van die naelstring van ’n voltermynbaba getrek word. Die steriele bloedsakkie wat deur die meeste bergingsmaatskappye voorsien word, maak voorsiening vir 200 ml.

4. Wat is die verskil tussen stamselle wat uit die naelstringbloed en uit die naelstringweefsel geoes word?

Stamselle word verskillend aangewend. Dié uit naelstringbloed word gebruik om bloedverwante toestande soos leukemie te behandel en is onmiddellik gereed vir gebruik. Dit word meestal gebruik om kinders te behandel, maar volwassenes kan ook oorplantings kry ná chemoterapie-behandeling. (Lees meer onder no. 10.)

5. Hoe word die bloed na die laboratorium vervoer?

Cryo-Save het ’n mediese koerierdiens wat geakkrediteer en gelisensieer is om bloedmonsters te vervoer. Die bloed word in ’n houer vervoer, terwyl kamertemperatuur van die oomblik van versameling tot aflewering by die laboratorium behou word. Die naelstringbloed en/of -weefsel moet binne 72 uur verwerk word.

6. Hoe gemaak as te min bloed getrek is?

Hoewel kleiner bloedmonsters soms ’n mooi stamseloes kan oplewer, word daar partykeer te min bloed versamel om genoeg stamselle vir berging te kan oes. Cryo-Save gee ouers in sulke gevalle die keuse om nie voort te gaan met die berging van hul baba se stamselle nie en dan net vir die insameling van die bloed te betaal.

7. Hoe lank kan stamselle bewaar word?

Navorsing het gewys dat stamselle wat uit naelstringbloed geoes en daarna 24 jaar lank bewaar is, ongeskonde gebly het. Wetenskaplikes meen dus dat stamselle vir ’n onbeperkte tyd gehou kan word, wat ’n kontrak van 20 of meer jaar allermins vergesog maak. ’n Kontrak met ’n bergingsmaatskappy duur gewoonlik 10 tot 20 jaar. By Cryo-Save kan jy ná 20 jaar jou kontrak gewoon teen ’n klein jaarlikse tarief laat aangaan.

8. Kan jy jou baba se stamselle verskuif?

Ja, jy kan, maar moet dit liewer nie onnodiglik doen nie. As jy dit wel iewers anders heen verskuif, moet jy sorg dat dit korrek vervoer word om die selle se lewensvatbaarheid te handhaaf.

9. Kan bergingstariewe skielik en ingrypend styg?

Cryo-Save se jaarlikse bewaringstarief (R300 vir berging in Suid-Afrika en R550 vir oorsese berging) styg elke jaar saam met inflasie. So verseker hulle instandhouding van hul gerief.

10. Kan stamselle my kind se lewe red?

Stamselle uit naelstringbloed kan gebruik word om lewensbedreigende bloedverwante siektes soos leukemie, Fanconi-anemie en sekelsel-anemie te behandel. Gaan lees meer by clinicaltrials.gov oor talle suksesverhale. Stamselle wat uit die naelstringweefsel ontgin word, kan moontlik in die toekoms gebruik word vir die behandeling van toestande soos gestremdheid, outisme, tipe 1-diabetes en gehoorverlies wat ná geboorte opgedoen word.

11. Hoe verloop die proses as die selle eers by die laboratorium is?

Cryo-Save gee jou ’n unieke identifikasienommer sodra jy die bestelling plaas vir ’n toestel om jou baba se bloed te laat trek. Wanneer dié toestel – wat al die toerusting insluit wat nodig is om die bloed te versamel en te vervoer – afgelewer is, word dit op die stelsel geregistreer en kry dit ’n unieke staafkode.

Wanneer die naelstringbloed met sy unieke kode by die laboratorium aankom, word dit verwerk, waarna die selle in ’n steriele bergsakkie gebêre word. Dié sakkie word in nóg ’n sak geplaas en daarna in ’n aluminiumhouer wat dit teen meganiese skade en besmetting beskerm. Alles word dan teen –196 grade C gevries. Hierna mag niemand naby die houer kom sonder jul skriftelike toestemming nie. Toegang tot laboratoriums word met ’n elektroniese identifikasiestelsel beheer.

12. Wat gebeur as kragonderbrekings of ’n brand die laboratorium tref?

Die stamselle is veilig omdat dit nie met elektrisiteit geberg word nie, maar in tenks wat met vloeibare stikstof gevul is. Die tenks word egter elektronies gemonitor (’n alarm begin lui as die stikstofvlak laag is), daarom is daar kragopwekkers. Kragopwekkers word ook ingespan wanneer die naelstringbloed of -weefsel verwerk word. Gesofistikeerde brandopsporingstegnologie word gebruik wat die risiko dat die selle in ’n brand vernietig word, bykans heeltemal uitskakel. 

Stamselle, serebrale gestremdheid & outisme

Daar is hoop in stamselle vir kinders met serebrale gestremdheid, sowel as kinders op die outismespektrum.

Navorsers by die Duke-universiteit in Noord-Carolina, Amerika, het studies van stapel gestuur om vas te stel hoe veilig en doeltreffend dit is om kinders met serebrale gestremdheid en outisme met hul eie naelstringbloed te behandel. In een studie is noemenswaardige vordering in die behandeling van serebrale gestremdheid gevind.

In ’n ander klein studie het twee derdes van kinders op die outisme-spektrum wat deelgeneem het, verbetering in gedrag, kommunikasie en sosialisering getoon. Die meeste vordering is binne die eerste 6 maande ná die behandeling met naelstringbloed-stamselle opgemerk. Al die outistiese kinders wat deelgeneem het se naelstringbloedstamselle is tydens hul geboorte geoes. Hoewel daar geen genesing vir serebrale gestremdheid of outisme is nie, kan dié behandeling moontlik ’n verskil maak aan die gesinne wat daardeur geraak word. Lees meer by clinicaltrials.gov.

Het jy geweet?
Swangerskap is ’n tyd van groot uitgawes; daarom bied bergingsmaatskappye verskeie betaalplanne. Gaan gerus na www.cryo-save.co.za.