Stoelgang tydens kraam

akkreditasie
Is jy bang jy poef terwyl jy kraam? 'n Kenner gee raad.

Vraag:

Ek wil regtig graag normaal kraam, maar daar is een ding wat my ontsettend afsit. Ek is so bang ek poef terwyl ek kraam en die gedagte aan die verleentheid is amper genoeg om my ’n keisersnee te laat oorweeg. Hoe algemeen is dit dat ’n vrou poef terwyl sy kraam, en is daar iets wat ek kan doen om te keer dat dit met my gebeur?

Ek is ook bang my angs daaroor gaan veroorsaak dat ek nie so sterk druk as wat ek moet nie. Ek oorweeg ’n watergeboorte, maar wat gebeur as van my poef in die water beland – dis mos nie higiënies nie. Sal dit beteken dat ek dan moet uitklim, al is ek nog nie klaar gekraam nie?

Antwoord:

Jou keuse van watergeboorte gaan vir jou ’n ervaring van ’n leeftyd verseker! Heel dikwels mis ons die heel eerste kraamteken, naamlik ’n los magie so 48 uur voor kraam spontaan begin. Jou liggaam doen voorbereiding in die dermkanaal juis om dié soort “verleentheid” te voorkom.

Baie keer gebeur dit wel dat jy stoelgang passeer tydens die drukstadium, bloot omdat daar stoelgang in die rektum was.

Raad wat ek in die praktyk toepas is dat mammas moet sorg dat hul stoelgang sag bly en dat hulle elke dag toilet toe gaan. As jy hardlywig word moet jy iets daaraan doen, anders kan jy opelyf hê terwyl jy kraam, selfs in die water.

Volgens die Better Birth Initiative-organisasie is ’n dermspoeling vooraf nie aangewese nie – veral nie met ’n geboorte buite die water nie – maar baie ma’s vra tog hiervoor wanneer hul so 4 tot 6 cm ontsluit is.

Ek doen dit dan omdat die vrees van opelyf ’n regstreekse invloed het op hoe doeltreffend sy in die tweede stadium gaan druk. Sy sal onbewustelik knyp om haar verleentheid te spaar en ’n mens kan nie tegelyk knyp en druk nie!

Sou dit gebeur dat jy wel stoelgang in die water passeer, sal jou vroedvrou dit baie subtiel met ’n net uitskep en weggooi. Vroedvroue is alles gewoond en ’n vrees vir opelyf in die water moet jou nie keer om ’n onvergeetlike watergeboorte te hê nie.

’n Poef in die water is ’n kleiner higiëne-risiko as om byvoorbeeld in die water op te gooi. Die oomblik dat jy per abuis in die water opgooi, moet die water uitgetap en vervang word. Braaksel is vetterig en kan infeksie veroorsaak. Stoelgang is meestal gevorm en ook nie vetterig nie. Dit hou feitlik geen gesondheidsgevaar vir jou baba in nie. Sterkte vir jou watergeboorte!

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees