Voor jy wegtrek 

Wanneer jy ’n swanger vrou masseer, moet al jou bewegings glad en sag wees. Pas ook op vir te veel druk. Die meeste vroue verkies ferm, maar strelende hale oor die maag en onderrug. Vermy diep druk of dromagtige slae, want dis te intens.

’n Strelende voetmassering kan baie liggaamskwale verlig en help teen kloppende, geswelde voete. Maar daar is een deel waarvoor jy moet pasop: die deel tussen die enkel en die hakskeen. Baie masseerterapeute en refleksoloë verbind hierdie deel met die baarmoeder en vagina, en ferm druk hier kan dalk die bevalling verhaas.

As jou maat nie ander kwale het nie, kan die res van die voet egter gerus gemasseer word. Moet net nie so diep masseer dat dit seermaak nie. Die beste manier om die regte drukking te bepaal, is om met jou maat daaroor te gesels en die massering by haar behoeftes aan te pas.

Sagte, strelende musiek en gegeurde kerse kan die ontspanning en gemak verdiep.

Die krag van aanraking

Studies wys dat aanraking onontbeerlik is vir ’n amperma se emosionele en fisieke welstand terwyl sy aan haar veranderende liggaam gewoond raak. Massering is een manier om spesiale aandag te gee, en dit voed ook die lewe wat binne-in haar groei.

Maak nie saak watter individuele kwale en skete ’n mens het nie – dit bly maar waar dat ’n swanger lyf op allerhande maniere uitgedaag, verander en gerek word. Dis een van die redes waarom sagte massering regdeur die swangerskap strelend is, ook vir die ongebore baba. Dit help ’n mens nie net om diep te ontspan nie, maar dit kan twee van die algemeenste swangerskapskwale verlig: rugpyn en slapeloosheid.

Goue riglyne

Ma: Moenie plat op jou rug lê terwyl jy gemasseer word nie.

  • ’n Ongegeurde of lig gegeurde room of olie is die beste smeermiddel omdat baie swanger vroue sensitief vir sterk geure is.
  • Die een wat masseer, moet na die amperma se behoeftes luister.

Soorte masserings

In sommige omstandighede is massering nie gewens nie – hoor dus eers by die dokter of mediese versorger of dit in die haak is.

Rugmassering

  • Laat jou swanger maat wydsbeen op ’n stoel sit of op haar sy lê. Onthou om nie diep druk op die onderrug toe te pas in die eerste drie maande van die swangerskap nie. Lang, stadige masseerbewegings het ’n baie kalmerende uitwerking. Werk ferm op die middelrug van net bo die middellyn tot tussen die skouerblaaie.
  • Plaas jou hande weerskante van die rugstring met die duime na die kante en vingers in die rigting van die nek. Vryf opwaarts teen die rug met ferm bewegings en ontspanne hande.
  • Vryf van die onderste nekspiere af ondertoe en dan na buite dwarsoor die skouers en die bokant van die arms. Laat jou hande oor die boarms gly en dan met die rug af tot by die middel. Bring hier jou hande na binne en boontoe. Hierdie beweging is baie strelend omdat dit die swanger vrou in staat stel om haar middeltjie te voel. Jy kan hierdie beweging herhaal so veel kere as wat jy wil, mits jou maat dit bly geniet.

Beproef ook

  • Handpalmdruk op en dwarsoor die rug.
  • Duimdruk al met die rugstring langs.
  • Sirkelvormige bewegings op die kruisbeen.

Kopmassering

  • Masseer die kop met die vingerpunte.
  • Plaas druk op die drukpunt tussen die wenkbroue.
  • Masseer die drukpunte op die slape.
  • Masseer met sirkelbewegings agter die ore.

Nek en skouers

  • Swanger vroue se swaartekragpunt skuif en daarom stap baie vroue met hul ken uitgestoot. Dit kan gebeur omdat hul onderrug meer gerond en hul borste swaarder is. Die buik “trek” hul liggaam na onder en dit kan hul nekspiere baie seer maak, want dis waar die meeste spanning gedra word. Hou jou masseerbewegings dus stadig en glad – swaar, gespanne bewegings kan meer ongemak en pyn veroorsaak.
  • Vryf van die bopunt van die skouers teen die kante van die nek op. Vryf verder tot aan die bopunt van die nek en gly dan jou hande afwaarts en hou die druk sag en glad. Herhaal drie tot vier keer met lang, stadige bewegings.
  • Gebruik net een hand en plaas jou duim aan die een kant van die nekwerwels en jou wys- en middelvinger aan die ander kant. Drukvryf in sirkels aan albei kante van die werwelkolom. Druk ferm met klein sirkelbewegings in die spier in.

Beproef ook

  • Knie die skouers.
  • Ligte en volgehoue duimdruk langs elke nekwerwel.
  • Veeragtige aanraking op die skouers.

Wenke vir die masseerder 

  • Werk in ’n warm kamer. Hou die olies byderhand en verskaf kussings vir die gemak van jou swanger maat.
  • Plaas die kussings onder haar knieë wanneer sy op haar rug lê. Dit laat haar sitvlak ontspan en versag die ronding van haar onderrug. Sy moenie plat lê nie.
  • Met ’n rugmassering kan sy wydsbeen op ’n stoel sit of op haar sy lê met kussings om haar kop te ondersteun.
  • Skakel jou selfoon af en maak seker dat jy ook gemaklik en ontspanne is. Speel gerus klassieke musiek in die agtergrond vir dieper ontspanning.

Veilige olies

  • Neroli
  • Laventel
  • Tangerien 
  • Ilang-ilang
  • Geranium
  • Suurlemoen
  • Sandelhout
  • Teeboom

Ongeskikte olies

  • Anys
  • Arnika
  • Basiliekruid
  • Salie
  • Sipres
  • Vinkel
  • Jasmyn
  • Jenever
  • Marjolein

Moenie masseer nie...

  • As daar ’n veluitslag, oop sere of bloukolle is
  • As die vel ontsteek is
  • Op plekke waar daar infeksie is
  • Naby opgehewe are of spatare

Voordele van massering

  • Dit laat die liggaam ontspan en help teen uitputting.
  • Dit verlig algemene pyne en kwale.
  • Dit bevorder die bloedsomloop.
  • Dit verbeter limfdreinering.
  • Dit verlig swelling.
  • Goedvoel-stowwe word vrygestel.
  • Dit bevorder dieper en beter slaap.
  • Dit behandel spierkrampe.
  • Hoofpyn word verlig.
  • Angstigheid word beter.
  • Dit moedig voorgeboortelike binding aan.
  • Gereelde massering verlig die hart se werklading, wat help om bloeddruk in toom te hou.
  • Massering stimuleer klierfunksies wat hormone stabiliseer.