In die eerste trimester kan die fisieke en emosionele veranderinge in jou liggaam die ontwikkelende band tussen jou en die vreemde boontjie binne-in jou oorskadu. Naarheid, seer borste, sooibrand en uitputting kan sy tol eis en jou aandag van jou fetus aftrek.
Namate die tyd aanstap en jy jou baba voel beweeg, sal dit makliker word om nader aan hom te voel. Tot dan is daar ’n ander uitweg: bly ingelig oor sy ontwikkeling. Monitor jou fetus se weeklikse mylpale en visualiseer hoe hy dit bereik. Jou baba groei teen ’n geweldige pas en dis interessant om daaroor na te lees. Doen dit wanneer jy ontspan met jou skoene uitgeskop en jou voete op die bank.
Jou fetus floreer ook wanneer jy gelief voel. Koester jou verhoudings met die mense om jou; hulle gaan die gemeenskap word wat jou baba gaan help versorg en grootmaak. So leer jy jou baba, wat baie sensitief vir atmosfeer en spanning is, ’n hele reeks emosionele lesse en dit skep ’n band tussen julle wat hom die res van sy lewe gaan baat.