Te vroeg verby

akkreditasie
Miskrame is so algemeen dat dokters aanvanklik nie veel aandag daaraan skenk nie, maar dit maak dit nie minder erg nie. Ons bekyk oorsake.

Die dag waarop jy uitvind jy is swanger, is vir die meeste vroue een van die gelukkigste tye ooit. Want op daardie dag begin jy reeds droom van hoe dit gaan voel om jou klein bondeltjie knus teen jou bors te voel, van jou kind se eerste glimlag en die eerste tree…

Maar wanneer die aanvanklike euforie verby is, begin baie amperma’s hulle dadelik daaroor bekommer of hul swangerskap probleemloos gaan verloop. Die meste van ons ken iemand, dikwels ’n blakend gesonde vrou, wat al die trauma van ’n miskraam moes deurmaak.

As jy reeds swanger is of beplan om swanger te raak, gaan dit nie help om jou onnodig te bekommer en om spoke op te jaag nie. Maar dit is goed om ingelig te wees en uit die staanspoor meer te weet oor veral die liggaamlike fasette van miskrame.

Wat is 'n miskraam?

In mediese taal word na ’n miskraam verwys as ’n spontane aborsie. Hoewel dit ’n term is waarvan baie mense nie hou nie, moet dokters dit só in hul diagnose aanteken.

Eenvoudig gestel is ’n miskraam die verlies van jou swangerskap, verduidelik dr. Kobus Stander, ’n ginekoloog en verloskundige by die Linmed-hospitaal in Benoni aan die Oos-Rand.

’n Miskraam kan ook beskryf word as ’n proses soortgelyk aan die kraamproses, maar jy kraam op die verkeerde tyd. Soms skei jou liggaam nie alle produkte van bevrugting uit nie en dit beteken die uterus moet “skoongemaak” word, sê dr. Birgit Bothner, ’n ginekoloog en verloskundige by die Parklane-kliniek in Johannesburg.

Hoe algemeen is miskrame?

Altesaam 12 tot 15% van swangerskappe loop uit op ’n miskraam. Die risiko is hoër in ’n eerste swangerskap en dokters vermoed dat tot 50 persent van eerste swangerskappe op ’n miskraam uitloop.

Hoe verder die swangerskap vorder, hoe minder is die kans van ’n miskraam. Sodra die fetus se hart klop en die swangerskap goed vorder, verloor minder as 4 persent van vroue hul ongebore baba.

Ná 12 weke verminder die risiko na 1 persent, sê dr. Karen Minnaar, ’n ginekoloog en verloskundige by die Unitas- Hospitaal in Centurion.

Tydens ’n miskraam het meeste vroue bloeding en pyn. Die swangerskapsprodukte kom los van die wand van die baarmoeder waar die swangerskap ingeplant het. Die bloedvate wat die swangerskap voorsien het, begin dan bloei. Daar word ook produkte saam met die bloed gesien wat kan lyk soos donker klonte of selfs stukkies weefsel.

Die voorkoms van ’n miskraam hang baie af van hoe vroeg of hoe laat in die swangerskap dit gebeur, sê Karen.

Miskrame kan verdeel word in vroeë en laat miskrame. Vroeë miskrame is die verlies van ’n swangerskap voor 22 weke en daar is verskillende soorte, sê Kobus.

- Onafwendbare/onvermydelike miskraam: Dit kan enige tyd tot op 22 weke plaasvind en jy sal bloeding ervaar. Wanneer dokters jou inwendig ondersoek, is jou serviks 1,5 tot 2 cm oop. En hoewel die vrugsak waarin die baba lê nog op sy plek is en die hartklop steeds gehoor kan word, kan die baba weens die oop serviks nie oorleef nie.

- Volledige miskraam: Dit kan tot op ses weke plaasvind, maar kom in die minderheid van gevalle voor. Kobus verduidelik dat in dié geval daar gewoonlik bewyse van swangerskap was, maar dan ervaar jy hewige bloeding, krampe en die uitskeiding van weefsel (gewoonlik wanneer jy toilet toe gaan), waarna die bloeding skielik vanself ophou.

Wanneer ’n sonar gedoen word, is daar geen teken van jou swangerskap oor nie. In sommige gevalle weet vroue nie eens hulle is swanger wanneer dit gebeur nie en dink hulle bloot dié uitskeiding is weens ’n laat menstruasie.

- Onvolledige miskraam: Dit gebeur gewoonlik wanneer jy minder as 14 weke swanger is. Jy bloei en voel krampe en skei ook weefsel uit. Tydens die ondersoek word vasgestel dat jou serviks oop is en dat daar nog weefsel in is, maar dat die vrugsakkie waarin die baba lê, ineengestort het en daar nie meer ’n hartklop is nie.

- Anembrioniese miskraam: In hierdie geval is al die bewyse daar dat jy swanger was. Wanneer ’n sonar gedoen word, kan ’n mens die sakkie in die baarmoeder mooi sien, maar daar is geen embrio of fetus binne-in nie. Hierdie spontane verlies is baie meer algemeen as wat mense dink, hoewel dit moeilik is om te verstaan. Talle vroue gaan vra ’n tweede mening, sê Kobus.

Miskrame in die middelste trimester

Miskrame wat ná 14 weke voorkom, volg gewoonlik op ’n swak serviks wat te vroeg verwyd. Baie eenvoudig gestel, beteken dit die baba kan uit die serviks “val”. Baie vroue kry maagkrampe en wanneer hulle byvoorbeeld toilet toe gaan, “val” hul baba fisiek uit hul lyf.

Dit kan nie gekeer word nie, sê Kobus. As jy daarna die tweede keer swanger word, sal dokters teen week 14 tot 16 van swangerskap ’n stekie in jou serviks inwerk om te voorkom dat dit weer gebeur.

Dis ’n baie suksesvolle teaterprosedure en een van die beste behandelings vir ’n swak serviks (incompetent cervix in Engels).

Doodgeboorte (derde trimester)

As jy jou baba in die derde trimester (week 28 tot geboorte) verloor, staan dit bekend as ’n intra-uteriene dood en nie ’n miskraam nie. Dokters stel met ’n sonar vas dat daar nie meer ’n hartklop is nie en jy moet dan normaal kraam of ’n keisersnee ondergaan, waarna jou baba begrawe sal word.

Wat gebeur na 'n miskraam?

’n Volledige miskraam vereis geen doktersbehandeling nie omdat al die produkte van bevrugting reeds deur jou liggaam uitgeskei is en die bloeding opgehou het.

Maar onvolledige miskrame, anembrioniese en onvermydelik miskrame vereis wel behandeling, juis omdat daar nog weefsel in jou liggaam agterbly en jy steeds bloei. Ons praat dan van ’n baarmoederskraping, waar die baarmoeder skoongemaak word. In doktertaal word dit ’n evakuasie genoem.

Herhaalde miskrame

Spontane miskrame kom in 12 tot 15 persent van gevalle voor. As jy een miskraam gehad het, verdubbel jou risiko in die volgende swangerskap tot 24 persent. Ná twee miskrame styg dit tot 30 persent en ná drie miskrame is die kans 35 persent. Hoewel die risiko vir herhaalde miskrame hoog is, kom opeenvolgende miskrame min voor, sê Johan.

Eerste miskrame is algemeen en dr. Birgit Bothner sê sy sien dit gewoonlik by een of twee van haar pasiënte per week. ’n Miskraam beteken egter nie jy gaan sukkel om ’n tweede keer swanger te raak nie, tensy jy natuurlik die eerste keer ook gesukkel het. Miskrame word as “herhaaldelik” bestempel as jy drie en meer gehad het.

Omdat spontane miskrame in die eerste trimester (voor 13 weke) baie algemeen is en daar gewoonlik nie duidelik redes voor is nie, begin dokters eers ná die derde miskraam ondersoek instel.

“Dan soek ons oorsake by die vrou soos mediese toestande, baarmoederafwykings of die abnormale produksie van hormone aan die begin van swangerskap. Die meeste mediese probleme wat tot herhaalde miskrame lei, sluit in outoimmuunsiektes, bloedstollingsprobleme, skildklierprobleme en vorige infeksies.

“Daar kan ook genetiese probleme wees met die fetus self of met die man of die vrou. Dis moeiliker om met toetse vas te stel en die toetse is baie duur,” sê Karen.

“Dit maak nie saak hoeveel miskrame jy al gehad het nie; dit is steeds moontlik om swanger te raak. Die regte diagnose en behandeling is die sleutel tot sukses,” sê Kobus.

Hy het al ’n vrou behandel wat 11 miskrame gehad het en met haar 12de swangerskap aan ’n gesonde baba die lewe geskenk het.

Kan jy die gevaar van 'n miskraam verander?

Die grootste oorsaak van miskrame is geneties en dit kan nie gekeer word nie, sê Johan.

Miskrame kan net in sommige gevalle gekeer word wanneer dokters die oorsaak van die miskraam voor jou swangerskap of ná ’n eerste miskraam identifiseer, sê Birgit.

Daar is wel faktore wat die gevaar van ’n miskraam kan verklein. Daarom is dit belangrik om voor jou swangerskap al ’n volledige mediese ondersoek te ondergaan, gesond te leef en foliensuur, magnesium en vitamiene te drink.

Paartjies wat wil swanger raak kan ook voorgeboortelike berading bywoon om hul kans vir ’n gesonde swangerskap so groot moontlik te maak.

Wanneer kan julle weer probeer?

Daar is verskillende menings oor wanneer jou liggaam gereed is vir ’n volgende probeerslag. Party dokters se raad is dat jy drie tot ses maande ná ’n miskraam moet wag terwyl ander meen ses weke is genoeg. “My mening is dat jy weer kan probeer sodra jy emosioneel en liggaamlik gereed voel,” sê Birgit.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees