book-icon Uitgawe Oktober & November 2018

Terug na die klaskamer!

akkreditasie
Getty Images
Getty Images

Net vyf persent van Suid-Afrikaanse ouers woon voorgeboorteklasse by. Dit klink dalk na ’n bietjie van ’n ouderwetse gewoonte, maar navorsing het gewys dat voorgeboorteklasse jou stres verlaag en jou selfvertroue ’n hupstoot gee voor, tydens, en ná jou baba se koms. Jy weet meer van babasorg, het ’n beter kans vir suksesvolle borsvoeding en die gevaar dat jy nageboortelike depressie sal opdoen, is kleiner. En die beste van alles? Voorgeboorteklasse verhoog ook pa’s se betrokkenheid.

Wat van dr. google?

Inligting is deesdae net ’n klik ver. Maar dis net so maklik om verouderde, misleidende of doodgewoon verkeerde inligting op die internet raak te loop as wat dit is om navorsingsgebaseerde, kundige raad te vind. Enigiemand kan op die internet ’n mening lug – of ’n bangmaakstorie vertel. Hoewel voorgeboortelike opvoeders ook mense met hul eie vooroordele is, is hulle darem kundiges wat opgelei is om so objektief moontlik te dink. Die meeste woon gereeld werksessies by om op hoogte te bly van die nuutste navorsing, juis sodat ouers nie hul pad deur berge internet-inligting hoef te baan nie.

Voordele van voorgeboorteklasse

Dit gaan oor meer as inligting. Dit gaan oor mense en verhoudings. “Die klas moet ’n ruimte wees waar ouers bemagtig en ondersteun word en waar hulle eerlik kan wees,” sê Hettie Grové van die Carmi Academy of Learning in Springs aan die Oos-Rand. “Hier kan hulle nuwe vriendskappe vorm met mense wat dieselfde doelwit het: om die beste ouers moontlik te wees. Van die mense wat in my klasse was, het deur hul kinders se skooljare én daarna vriende gebly.” Voorgeboorteklasse gee ouers die geleentheid om met hul baba en met mekaar te bind, sê Sharon Kloppers, ’n fisioterapeut en aanbieder van Just Engage, ’n aanlyn-voorgeboortekursus. “Dit gee julle die geleentheid om oor mekaar se verwagtings en vrese te gesels. In ons moderne wêreld glip babas nie meer moeiteloos en gerieflik by ons lewe in nie. Ouers het tyd en ruimte nodig om hulle intellektueel, emosioneel, geestelik en fisiek op hul baba voor te berei.” Die gevolgtrekking? Voorgeboorteklasse is meer as ’n luukse. Dis belangrik dat jy voorberei vir geboorte en ouerskap.

Hospitaalklasse of ’n privaat kursus?

Dis gerieflik om voorgeboorteklasse by te woon by die hospitaal waar jy gaan kraam. Gewoonlik sal die opvoeder vir julle die kraamkamers en postnatale saal gaan wys, wat julle vertroud sal maak met die omgewing. Julle sal waarskynlik ook heelwat uitvind oor die hospitaalroetine en -praktyke, soos of jy jou baba onmiddellik ná geboorte vel teen vel kan vashou en of hy snags in die babakamer of by jou sal slaap. Aan die ander kant word die leerplan dalk beperk tot die opsies wat in die hospitaal beskikbaar is. As jy belangstel in alternatiewe geboortekeuses soos ’n tuis- of watergeboorte, of dit oorweeg om ’n vroedvrou of doula aan te stel, sal jy moontlik meer waarde put uit klasse by ’n opvoeder in die privaat praktyk.

Wat as ek ver woon?

Die opsies is deesdae eindeloos. Registreer vir ’n aanlynkursus as jy jou in die middel van nêrens bevind. So kan jy en jou maat dit saamkyk op ’n plek waar dit julle pas.

Kan ’n kitskursus werk?

Ouers se programme is druk, hulle is moeg ná werk, en dis onveilig om saans uit te gaan. Eendag-werksessies is gewoonlik ook goedkoper. Maar wat is die nadele? Jy en jou maat het nie tyd om vriende te maak of ’n vertrouensverhouding met die opvoeder te vestig nie. Inligtingoorlading is ook ’n groot probleem. Talle opvoeders bied nie hierdie kursusse aan nie omdat dit ouers oorweldig. Die ouers het nie tyd om die inligting te verwerk nie. Dit laat hulle angstig en bang voel eerder as dat dit gerusstel.

En as ek ’n keisersnee gaan kry?

Goeie voorgeboorteklasse fokus op alle moontlikhede. Verskillende geboorte-opsies word bespreek en ontspanningsoefeninge en natuurlike pynverligtingstegnieke maak maar ’n breukdeel van die kurrikulum uit. Talle ander belangrike onderwerpe word bespreek, soos dieet tydens swangerskap, waarskuwingstekens van komplikasies, asook hoe om ná die geboorte na jou, jou baba en jou huwelik om te sien.

Wees hiervoor op die uitkyk

  • Voorgeboorteklasse moet ’n positiewe, persoonlike ervaring wees. Eerder as dat jy banggepraat of met teoretiese kennis oorweldig word, moet jou selfvertroue toeneem.
  • Let op na die praktiese besonderhede. Waar en wanneer word klasse aangebied? Hoe lank duur die kursus? Wat is die koste en wat word daarby ingesluit? Kan julle dit van jul mediese fonds terugeis?
  • Vra oor die opvoeder se kwalifikasies, ervaring en filosofie oor geboorte en ouerskap. “Kies iemand met dieselfde waardestelsel en met wie julle ’n pad kan stap,” sê Hettie.
  • Vind uit oor kursusse in jul omgewing deur met vriende en familie, jou dokter of vroedvrou en ma’s op sosiale netwerke te gesels. Maak ’n lys van moontlikhede en bekyk die betrokke webtuistes.
  • Dek die kurrikulum verskillende geboorte-opsies? Kry borsvoeding en babasorg genoeg aandag?
  • Hoe word pa’s betrek?
  • Hoe groot is die groepe? Navorsing wys dat ouers kleiner voorgeboorteklasse meer bevredigend vind. Swangerskap en geboorte is sensitiewe onderwerpe wat makliker in ’n intieme omgewing bespreek kan word.

Wat leer ’n mens alles?

Die doel is om amperouers voor te berei op dinge wat hulle sal teëkom gedurende die swangerskap, geboorte en in die eerste paar weke met hul nuwe baba. Afhangend van die klas sal ’n gekwalifiseerde vroedvrou of verpleegster jou veilig deur die laaste paar maande van jou swangerskap begelei deur jou te waarsku teen sekere komplikasies soos preëklampsie. As jy van die aanbieder hou, kan jy haar aanstel om jou doula of vroedvrou by die geboorte van jou kind te wees. Dié bekendheid kan vir jou later gerusstellend wees. Jy leer hoe om jou baba se bewegings te monitor en wanneer om mediese hulp te soek. Julle sal dieetwenke bespreek en gelei word deur die fases van kraam en geboorte sodat jy weet wat om te verwag en wanneer jy jou hospitaal of kliniek toe moet haas. Julle sal natuurlike geboortes en keisersneë bespreek. Jou lewensmaat sal geleer word om ’n goeie geboortemaat te wees. By sommige klasse sal jy wenke kry om jou pyn gedurende kraam te bestuur, soos met asemhaling of visualisering. Dit is ook waar dat sommige voorgeboorteklasse “Die Video” vir jou sal wys. (Dit is filmmateriaal van ’n werklike geboorte.) Later vorder voorgeboorteklasse lesse na bababadtyd, hoe om jou baba windjies te laat opbring en hoe om ’n doek te ruil. Die vroedvrou of verpleegster sal waarskynlik ook eksklusiewe borsvoeding in die eerste ses maande aanmoedig omdat die Wêreldgesondheidsorganisasie dit aanbeveel. Jy sal ook inligting kry oor jou liggaam ná die geboorte en die veranderinge wat jy kan verwag. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees