Tussen pienk en blou

akkreditasie
Jou swangerskap is skaars aangekondig of die familie begin bespiegel oor die geslag. Allerhande voorspellings word gemaak oor hoe jou dogtertjie of seuntjie eendag gaan wees. Maar geslag en gender is nie altyd eenvoudig nie.

Ons het almal ’n genetiese gender, ’n biologiese gender, ’n gender-identiteit en ons druk almal ons gender-identiteit uit deur gendergedrag. Ons genetiese gender word al met verwekking vasgepen wanneer ma se Xchromosoom gepaar word met óf nog ’n X-chromosoom (vir ’n dogtertjie) óf ’n Ychromosoom (vir ’n seuntjie) van die pa.

’n Kind se biologiese gender – manlike of vroulike geslagsdele – word bepaal deur die teenwoordigheid van testosteroon tydens fetale ontwikkeling. Alle embrio’s begin die lewe met vroulike genitalieë en tydens die vroeë dae van swangerskap word die fetus natuurlik blootgestel aan testosteroon van die ma.

Vir embrio’s met ’n Y-chromosoom, is die blootstelling aan dié hormoon ’n sneller om manlike geslagsdele te ontwikkel, terwyl embrio’s met twee X-chromosome biologies vroulik bly.

Bepaal geslag gedrag?

Gender-identiteit en -gedrag is verskillend, verduidelik dr. Simon Pickstone-Taylor, ’n psigiater wat spesialiseer in kinders en jeugdiges.

“’n Persoon se gender-identiteit is die gender wat daardie persoon voel hulle is. Dié gevoelens is op ’n spektrum van stereotipies seun tot stereotipies meisie, en enigiets tussenin. Vir veral kinders en tieners is dié gevoelens relatief veranderlik, en dit kan met verloop van tyd verander.”

Gendergedrag is die uiterlike uitdrukking van gender-identiteit – dis deels aangebore, maar die meeste daarvan word aangeleer deur rolmodelle, verkenning van verskillende gendergedragte, verwagtings van jou ouers en jou kultuur en blootstelling aan byvoorbeeld die media.

Dis algemeen in die Westerse kultuur dat ’n kind wat as ’n dogtertjie geïdentifiseer word, sal leer dat dit aanvaarbaar is en van haar verwag word dat sy rokke dra, van pienk hou en met poppe speel. Net so sal ’n kind wat as ’n seuntjie geïdentifiseer word, leer wat as geskikte seuntjiegedrag tel.

Die meeste van die tyd werk dié vier konsepte saam sodat ’n kind wat byvoorbeeld geneties manlik is, ook in die baarmoeder manlike geslagsdele ontwikkel, hom identifiseer as manlik en leer hoe om hom “manlik” te gedra.

Word dit aangeleer?

Terwyl sommige van ons gendergedrag gekoppel word aan ons genetiese en biologiese gender, word die grootste hoeveelheid daarvan egter aangeleer. Kenners debatteer egter graag oor hoeveel aangebore en hoeveel aangeleer is.

Cornel van der Merwe, ’n kliniese sielkundige wat in kinders spesialiseer, verduidelik: “’n Kind se bewustheid van gender begin al in die eerste lewensjaar. Hulle is teen tweejarige ouderdom bewus van fisieke verskille en kan teen drie al na hulself as ’n seuntjie of dogtertjie verwys. Teen vier is hul gender-identiteit stabiel.”

Genderrolgedrag word tydens die voorskoolse jare geleer deur dinge te doen “wat seuns doen”of “wat meisies doen” en deur verskillende genderrolle uit te toets.

“Die soort gendergedrag word beïnvloed deur hoe jou kind grootgemaak word en deur die verwagtinge wat ouers het,” sê Cornel. “Dit word ook sterk beïnvloed deur die mans en vroue in hul lewe, want kinders tel kenmerke op van ander en inkorporeer dit in hul eie persoonlikheid en waardestelsel.”

Kulturele verwagtings speel ook ’n groot rol – in baie Afrika- en Asiatiese kulture hou mans byvoorbeeld hande vas as ’n teken van respek en vriendskap, terwyl dit in die meeste Westerse kulture die wenkbroue sal laat lig.

Ingeval dit nie net 'n fase is nie

Terwyl die groot meerderheid voorskoolse kinders verskillende gendergedrag sal verken en dan gevestig sal word in ’n verwagte genderidentiteit met tipiese, kultureelvanpaste gendergedrag, is daar enkele kinders wat dit nie doen nie.

As ’n kind aanhoudend sterk uitsprake maak dat hulle aan die teenoorgestelde gender behoort en eksklusief speel met kinders van die teenoorgestelde gender, byvoorbeeld, kan dit tekens wees dat jou kind genderontwikkelingsdiversiteit het.

Die eerste en belangrikste stap in terme van jou kind se langtermyn emosionele gesondheid, is om jou kind te ondersteun in sy uitsprake oor identiteit, en om jou kind te aanvaar vir wie hy of sy is. “As ouer is jou belangrikste rol om jou kind begrip, respek en ondersteuning te bied,” sê Cornel.

“’n Nie-veroordelende benadering sal jou jou kind se vertroue help wen en jou in ’n beter posisie plaas om te help.” Dis natuurlik makliker gesê as gedaan en dié soort kwessie is vir baie families kompleks en ouers moet hul eie oordele, gevoelens en emosies ook aanspreek, soos vrese dat die gemeenskap julle as “swak” ouers sal sien, of vrese dat die gemeenskap jul kind sal veroordeel, of vrese oor wat dit vir jou sal beteken as jou kind homoseksueel of transgender is.

Dis byna nooit gesond vir ’n kind om geheime van sy ouers te hê nie, veral nie as hulle hul eie genderidentiteit of seksuele oriëntasie moet wegsteek nie. Sommige ouers is egter so bevooroordeeld dat kinders en tieners genoop voel om geheime te hou, ongeag die skade aan hul eie emosionele gesondheid. Dis belangrik dat ouers sensitief moet wees wanneer hulle sulke sake met hul kind bespreek.

“Ouers het die reg om te rou oor die “verlies” van die gender-tipiese kind waarop hulle gehoop het, of wat hulle gedink het hulle het, en om deur hul vrese te werk,” verduidelik Simon.

“Dis belangrik om dit met jou maat of in terapie te doen, maar nie voor die kind nie. Moet mekaar ook nie blameer nie – daar is absoluut geen bewyse dat genderidentiteitkwessies te doen het met onbetrokke pa’s of oorbetrokke ma’s, of pa’s wat nie genoeg rugby gespeel het met hul seuns nie, of ma’s wat te ‘sag’ was nie. Tot op hede lyk dit asof daar bewyse is dat genderidentiteit ’n biologiese verskynsel is en nie enigiemand se skuld nie.”

Genderidentiteit is nou verbonde aan selfbeeld en baie kinders wat teen die grein optree word gespot of verwerp deur hul eweknieë. Dit kan lei tot ’n langtermyn negatiewe impak op die kind se emosionele gesondheid. Vind ’n oplossing wat reg is vir jou gesin – luister en praat met jou kind.

“Bespreek dogtertjie- en seuntjiegedrag en manlike en vroulike optrede direk met jou kind,” stel Cornel voor.

“Praat met jou kind oor spesifieke gebare en gedrag wat dalk ’n reaksie van ander kan ontlok, en bespreek meer aanvaarbare gedrag. Probeer dit op ’n baie sensitiewe manier doen, en op ’n manier wat vaardighede bou.”

Die rol van terapie is nie om die kind se genderidentiteit te verander nie, maar om ’n veilige plek te skep waar jou kind vaardighede kan leer om ’n minder tolerante samelewing te kan verstaan en hanteer. Simon sê terapie wat bedoel is om ’n persoon se genderidentiteit of seksuele oriëntering te verander, misluk almal.

“Jy kan nie iemand se genderidentiteit verander nie – hulle is so bedraad en klaar. Jy kan iemand leer om hul identiteit en gedrag weg te steek, maar daar is ’n emosionele koste: weiering om skool toe te gaan, angs, depressie en in sommige gevalle selfs selfmoord.”

Wees bekommerd as...

Daar is sommige duidelike tekens dat jou kind ondersteuning nodig het. As jou kind bang is, of meer hartseer of kwaad as gewoonlik, begin verskoning soek om nie skool toe te gaan of buite te speel nie, word hy of sy dalk geboelie. Jou kind kan ook verward wees oor hoekom ander hom of haar nie aanvaar nie.

“Meisierige seuns en rabbedoe-meisies word dikwels gespot of “gay” genoem en uitgesluit by hul portuurgroep. Dit lei daartoe dat hulle angstig, onseker of depressief word en sukkel met hul selfbeeld,” sê Cornel. Meer kommerwekkend, sê Simon, is dat kinders met genderontwikkelingsdiversiteit wat dreig om selfmoord te pleeg, dit regtig kan bedoel en nie net dreig nie.

“’n Professionele persoon sal nie net vir jou en jou kind kan leer hoe om met dié kwessies om te gaan nie, maar bied ook ’n veilige hawe vir ’n kind wat ’n behoefte het aan self-uitdrukking.”

So moeilik soos wat dit soms kan wees, is jy die beste ouer vir jou kinders wanneer jy hulle lief het vir wie hulle is, nie wat jy dink hulle behoort te wees nie. Dít is waar vir enige kwessie, of dit nou verband hou met gender of nie.

Laat jou kind toe om homself uit te druk en luister regtig na jou kind. As dit lyk of die kwessie nie van verbygaande aard is nie, kry professioneel raad oor hoe om met jou eie teleurstelling, vrese en sorge om te gaan, en oor hoe om ’n omgewing vir jou kind te skep waar hy of sy veilig uitdrukking kan gee aan homself of haarself, en om vaardighede te leer om te oorleef in ’n samelewing wat bra intolerant kan wees.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees