Die Kruger­gesin woon op Vryheid in KwaZulu­-Natal, maar omdat hulle vrugbaarheidsbehandeling en swangerskapsorg op Bethlehem gekry het, was die beplanning dat hul tweeling ook op Bethlehem gebore sou word.

Hulle het selfs gereël dat ousus Helani (13) haar eksamen by ’n laerskool op Bethlehem aflê sodat elke lid van die gesin met die nuwe babas kon bind.

Die keisersnee was geskeduleer vir wanneer ma Lizél sowat 37 weke swanger sou wees. “Hoewel ek baie oor die operasie gelees het, was ek nog steeds doodbang.

"In my hart dink ek die tweetjies het dit aangevoel, want hulle het toe besluit om hul opwagting vroeër te maak,” vertel Lizél (37).

Teen haar sewende maand het sy vreeslik ongemaklik begin voel en haar bene was styf geswel en seer. “Selfs om asem te haal was pynlik,” vertel sy.

Al die tekens was daar dat haar liggaam besig was om vir die kraamslag reg te maak, maar sy het dit nie besef nie.

Op die eerste dag van haar kraamverlof, toe sy 34 weke swanger was, wou Lizél aanvanklik in die babakamer werskaf, maar besluit toe om eerder vir Helani dansklas toe te neem, iets waarvoor sy as werkende ma nie baie die geleentheid kry nie.

By die dansklas het dit moeite geverg om van die stoel af op te staan en het sy steekpyne in haar rug gevoel. Terug by die huis was manlief Pieter (40) besig met aandete toe Lizél dringend moes badkamer toe. 

“Ek het nog gehoor hoe die nuusuitsending begin, en toe breek my water. Pieter het nog ewe gevra of ek seker is voor hy inderhaas al die tasse in die bakkie begin pak het,” vertel Lizél laggend.

Sy het in daardie stadium nog nie kontraksies gevoel nie en het die hospitaal laat weet dat hulle op pad is.

“Ek was gerus dat ons Bethlehem drie en ’n half uur ver sou haal. Ek was lank in kraam met Helani en het dus gedink daar is nog baie tyd.”

Die Krugers moes eers brandstof ingooi voor hulle die lang pad Bethlehem toe kon aandurf. Kort nadat hulle weggetrek het, het Lizél weer ’n steekpyn in haar rug gevoel.

En toe weer twee keer daarna, maar niks wat haar bekommerd laat voel het nie. “Dit het nie regtig soos kontraksies gevoel nie,” vertel sy.

Sy het lekker op WhatsApp geklets met haar vriendinne en skoonsus, wat almal geskok was om te hoor hulle is op pad hospitaal toe.

“Ek dink dit was telepatie of dalk net die Here se handewerk dat soveel mense gelyktydig vir ons gebid het,” sê Lizél. “Maar toe ons Dundee binnery, het my vrede vir paniek plek gemaak. Daar het so ’n hewige pyn deur my lyf getrek dat my fokus skoon weg van alles om my geneem is. Ek het ook toe seer steekpyne begin voel.”

Dis toe dat sy besef het hulle is in die moeilikheid. Sy het Pieter gevra om eerder na ’n hospitaal in Ladysmith te ry omdat sy besef het hulle sou Bethlehem nie betyds haal nie.

Intussen het Helani kopgehou en haar ouma gebel om die ambulans na hulle te ontbied. 

Retha se geboorte 

“Iewers tussen Dundee en Ladysmith het ek die behoefte gekry om te druk,” vertel Lizél.

Retha is voetjies eerste gebore. “Dit het amper moeiteloos gebeur en ek onthou hoe verbaas ek was toe ek besef dat sy gebore is. In my hande was die kleinste ou mensie wat met groot oë na my gekyk het. Dit was ’n wonderlike gevoel.”

Pieter het onmiddellik die bakkie langs die N3 tot stilstand gebring. “Ons was skielik almal paniekerig, want Retha het nie asemgehaal nie. Nie een van ons het geweet wat om te doen nie.”

Daar was niks in die bakkie om die naelstring mee te knip nie. “Ek was bekommerd dat iets met haar verkeerd was, want sy het nie asemgehaal nie en sagte roggelgeluidjies gemaak. Ek was vreesbevange dat sy in my arms sou sterf.”

Lizél het in Retha se gesig geblaas en het haar versigtig rondgeruk, maar sy wou nie KPR uitvoer nie omdat Retha so klein was. “Ons het nie geweet wat om nog te doen nie en het net besluit om te jaag.”

Pieter het haastig weggetrek en nou het hy gery om so gou moontlik by die hospitaal te kom. Lizél vertel dat sy te bang was om na die spoedmeter te kyk.

Ousus Helani se japon het nuttig te pas gekom om klein Retha warm te hou en die twee Jack Russel-hondjies het ook al blaffend van die agtersitplek af hul ondersteuning laat blyk.  

Johan word gebore 

Skaars 10km later het Lizél weer water verloor en terselfdertyd het hul tweede baba, Johan, se een beentjie en geslagsdele verskyn. Pieter het weer langs die pad afgetrek om Lizél te help.

Hy moes ingryp omdat Johan gesukkel het om deur die geboortekanaal te kom. Ook hy het nie in die regte geboorteposisie gelê nie. “Dit was verskriklik seer en dit het gevoel asof ek enige oomblik sou flou word. Pieter het met soveel geduld gehelp om ons seuntjie te verlos,” vertel Lizél.

Johan was pot blou en het ook nie asemgehaal nie. “Ons was benoud en Pieter het hospitaal toe gejaag terwyl ek ons twee babas in my arms op die voorste sitplek van ons bakkie vasgehou het.”

Pieter het die verwarmer van die bakkie op volle sterkte aangeskakel om die tweeling warm te probeer hou.

Die nooddiens het intussen gebel om te hoor presies waar die gesin is. Helani het aanwysings gegee, maar ’n paar minute later het hulle voor die noodeenheid van die La Verna-hospitaal in Ladysmith stilgehou.

Niemand daar het geweet dat hulle in aantog was nie, maar hulle het Lizél binne minute kom help. Die tweeling se naelstring is net daar op die parkeerterrein geknip en hulle is na die neonatale waakeeheid geneem.

“Ek en Pieter was getraumatiseer en emosioneel. Ons het nie geweet of ons ons babas weer lewendig gaan sien nie.”

Die feit dat die naelstringe nie in die bakkie geknip kon word nie, was die tweeling se redding.

Lizél se plasenta het hulle aan die lewe gehou. “Hul beentjies was gekneus en amper swart. Hulle was ook koud en blootgestel aan ’n onsteriele omgewing,” verduidelik Lizél.

Al het sy baie bloed verloor, het sy net gou met Pieter se hulp gaan stort voor sy haar na die waakeenheid gehaas het waar sy haar twee babas vir die eerste keer in behoorlike lig van nader kon leer ken.

“Daar is soveel emosies wat deur ’n mens vloei, veral as jou kinders uit jou arms geneem word en jy nie weet of jy hulle ooit weer gaan vashou nie.”

Tweeling-in-bakkie-gebore

In die waakeenheid 

Nog was dit nie die einde van hul ontberings nie. Retha se longetjies het swaargekry, die tweeling het geelsug opgedoen en die chirurg moes besluit of die kneusing aan die beentjies so erg was dat dit afgesit moes word.

Tweeling-in-bakkie-gebore

Dit was gelukkig nie nodig nie en ligbehandeling het die bloedsomloop aangehelp.

Lizél het kangaroe-moedersorg (velteen-vel-aanraking) toegepas en dit het mettertyd Retha se longprobleme verbeter, terwyl die ligbehandeling met Johan se geelsug klaargespeel het.

Lizél en Pieter moes bontstaan. Hulle het self doeke geruil, buisvoedings toegedien, room gesmeer, gewaak en Lizél het later begin borsvoed.

Sy het elke drie uur vir voedings aangemeld. “Daar is ’n vrede wat oor jou daal as jou baba op jou stem reageer," sê sy.

"Elke mylpaal in die hospitaal het gevoel soos ’n miljoen rand in ons bank rekening.

"Minder suurstof, normale velkleur, minder ligte, minder alarms, elke dag ’n bietjie meer melk,” sê Lizél. “Ons is dankbaar vir die personeel se omgee. God se genade het soos ’n kroon oor albei my kinders gespan.”