VRAAG:

Ek het nog nooit met vaginale sproei gesukkel nie, maar vandat ek swanger is kry ek dit gereeld. Wat kan ek doen om dit te voorkom?

DR. JP DU BUISSON ANTWOORD:

Candida of sproeiinfeksie is een van die algemeenste infeksies wat vroue kry. Die ontstaan van die infeksie het te make met ’n verandering in die vaginale omgewing. Sekere toestande soos swangerskap, onlangse menstruasie of die menopause kan die vagina meer vatbaar maak vir sulke opportunistiese infeksies.

In die eerste plek is dit belangrik om die infeksie te behandel. Candida veroorsaak ’n dikker en witter afskeiding met jeukerigheid as hoofsimptoom. Daarvoor behoort jou ginekoloog ’n plaaslike teenswammiddel in die vorm van ’n vaginale pilletjie of room voor te skryf.

Daar is natuurlik ’n ander infeksie wat net so algemeen by vroue voorkom: bakteriese vaginose of BV. Dit veroorsaak ’n meer waterige afskeiding wat geelgroen van kleur kan wees en die hoofsimptoom is ’n brandgevoel in die vagina. Dit word met óf ’n vaginale antibiotiese room óf mondelikse antibiotika behandel.

Jy wil weet hoe dit voorkom kan word. As dit herhaaldelik voorkom, moet jy daaraan dink om suikersiekte uit te skakel omdat dit meer algemeen by diabete voorkom. Praat gerus met jou ginekoloog daaroor en dan kan hy of sy ’n glukosetoleransietoets reël. ’n Mens kan ook die vagina met ’n handstort uitspoel. Moet asseblief nie ontsmettingsmiddels soos Betadine gebruik nie. Dra ook net katoenonderklere. Jy kan ook ’n probiotikum drink, soos Reuterina Femme®, wat die natuurlike vaginale organismes herstel. Ek dink nie daar steek veel waarheid in die storie dat natuurlike jogurt ook die natuurlike organismes herstel nie.

Ten laaste moet jy onthou dat die meeste swanger vroue ’n swaarder vaginale afskeiding het. So lank dit simptoomvry is, is dit waarskynlik net leukorree, wat wit afskeiding beteken. Geen behandeling is daarvoor nodig nie.