Hierdie artikel is gepubliseer in die Maart 2017 uitgawe van Baba & Kleuter.

Oggendnaarheid 

Ongeveer 70 tot 80% van vroue ervaar oggendnaarheid en selfs braking vroeg in hul swangerskap. Jy is ook nie noodwendig net soggens naar nie. In sommige gevalle kan oggendnaarheid tot 16 weke duur voor dit oorwaai, maar dit verdwyn gewoonlik teen week 12 tot 14.

Niemand weet regtig waarom swanger vroue naar voel nie, maar daar is kenners wat reken dat die ongewone groot hoeveelheid hormone die brein se naarheidsentrum prikkel.

Behandeling

Sommige swanger vroue voel beter as hulle iets eet nog voor hulle uit die bed opstaan; hou dus beskuitjies (veral gemmergeur) en appels op jou bedkassie. Eet kleiner etes en meer gereeld, en vermy dit om vloeistof saam met jou etes te drink. Sorg egter dat jy 8 tot 10 glase water per dag drink.

Sooibrand

Wanneer die suur spysverteringsappe uit die maag opstoot en in jou slukderm beland, kry ’n mens sooibrand. Dit ontstaan wanneer die eenrigting-sluitspier wat kos na die maag vanaf die slukderm binnelaat, nie styf genoeg toemaak nie en dan kan die maag se suur inhoud terug in die slukderm opstoot.

Die kenmerkende simptome van sooibrand is ’n branderige gevoel in die bors en keel. Swangerskap is ’n algemene oorsaak van sooibrand omdat dit die opwaartse druk op die sluitspier laat vererger.

Behandeling

Daar is heelwat veilige teensuurmiddels op die mark wat die maagsuur neutraliseer. Sommige teensuurmiddels het boonop ekstra kalsium bygevoeg. Eet saans klein maaltye en eet ’n paar uur voor slaaptyd sodat die kos betyds verteer.

Lig die koppenent van jou bed sowat 20 cm (’n baksteen en ou boeke is ideaal) of gebruik ekstra kussings om die suur binne-in jou maag te help hou. 

Vermy stywe klere en gordels en moenie te dikwels buk of ná ete plat lê nie. 

Hardlywigheid

’n Swanger vrou se spysverteringstelsel is heelwat stadiger weens al die swangerskapshormone wat deur haar lyf bruis. Dis waarskynlik die natuur se manier om seker te maak dat jy elke titsel vitamien en mineraal opneem en dís waarom kos ook langer in die maag bly.

Asof dit nie reeds genoeg is nie, kan jou vitamienaanvulling wat yster bevat, die hardlywigheid vererger. Die hormoon progesteroon laat boonop die dermwand ontspan sodat die peristaltiese bewegings flouer raak.

Behandeling

Moet nooit ’n lakseermiddel gebruik wanneer jy swanger is nie; probeer eerder om jou dieet te verander. Vervang wit- met volkoringbrood. Eet baie vars vrugte en groente en ontbytgraan wat vesel bevat. Drink 1,5 tot 2 liter water per dag en ’n koppie kookwater wanneer jy opstaan en weer een net voor jy gaan slaap.

Gaan dadelik toilet toe as jy die behoefte het om te ontlas – as jy dit uitstel, word jou stoelgang droog en dis een van die hoofoorsake van hardlywigheid. Swem is goeie oefening omdat water die dermfunksie stimuleer. Gebruik ook ’n aanvulling van ’n omega 3-ryke olie soos lynsaadolie of visolie as jou stoelgang droog en krummelrig is.

In haar Swangerskap- en geboorteboek beveel die ouerskapskenner suster Lilian die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos drie keer per dag aan om die dermwandspiere soepel en sterk te maak.

Aambeie

Aambeie – ook bekend as hemorroïede – is uitgesette are in die anale kanaal. Baie mense kry dit, maar dit veroorsaak gewoonlik net ongemak wanneer dit by die anus uitsak. Aambeie word meestal veroorsaak deur beuring tydens hardlywige ontlasting (nóg ’n algemene kwaal wat hier bespreek word) en ook die passering van harde stoelgang.

Dit beskadig die voering van die anale kanaal en die are se beskermende lagie. Swak bloedsomloop in dié area is nog ’n oorsaak en die rede waarom aambeie dikwels tydens swangerskap voorkom. Die gewig van jou baba kan só groot word dat dit die bloedsomloop daar onder belemmer.

Al het jy díé aaklige newe-effek van swangerskap vrygespring, kan die natuur jou nog altyd bykom wanneer jy klaar gekraam het. Dit is nie net vroue wat normaal gekraam het wat deurloop nie, selfs diegene wat ’n keisersnee gehad het, kan ná die geboorte aambeie ontwikkel.

Behandeling

Probeer aambeie voorkom deur jou stoelgang so sag en gereeld moontlik te hou deur genoeg vesel by jou dieet in te sluit. Vra jou apteker vir ’n homeopatiese salf of room wat die aambeie sal verlig.

Suster Lilian beveel die weefselsoute Calc Fluor en Ferrum Phos aan om die bloedvatwand te versterk.

Rugpyn

Die swangerskapshormoon relaksien maak ligamente slapper en kraakbeen sagter. Dit én die verlies aan stabiliteit kan pyn gedurende jou swangerskap veroorsaak. Jou gewrigte verrek heelwat makliker, wat ook pyn kan veroorsaak.

Relaksien laat ook nog jou maagspiere verslap, wat veroorsaak dat dit nie meer jou rug behoorlik ondersteun nie en só rugpyn laat ontstaan. Die gewigs toename help ook nie juis nie, want jou werwelkolom moet nou ekstra gewig dra.

Jou postuur verander ook heelwat tussen maand 4 en 9, wat natuurlik ook rugpyn kan veroorsaak.

Behandeling

Vermy dit om enigiets swaars op te tel, let op jou postuur (probeer regop sit of staan met jou skouers na agter) en probeer om elke dag aktief te wees. Stap, swem of ry op ’n stilstaande fiets, of doen joga of pilates spesifiek vir swanger vroue.

As die pyn regtig erg is, kan jy ’n warmwatersak 20 minute lank op jou onderrug plaas. Die hitte sal die spiere help ontspan. Onthou om nooit enige hitte op jou maag te plaas nie. Plaas ’n kussing tussen jou bene wanneer jy slaap.

Toe neus

Waterterughouding of opgeswelde lugwegmembrane as gevolg van al die ekstra vloeistof wat in jou liggaam rondbeweeg terwyl jy swanger is, kan dit soms laat voel asof jy ’n kopverkoue, toe neus, allergie of sinusitis het, hoewel dit nie die werklike probleem is nie. Tog kan baie suiwel die probleem vererger.

Behandeling

Volgens suster Lilian help die weefselsoute Nat Mur en Nat Sulph om die vloeistofbalans in die weefsels te reguleer en die verstopping van die neusgange te verlig. Neem een tablet van elk drie keer per dag.

Vaginale sproei (Candida)

Vaginale sproei is algemeen tydens swangerskap weens die veranderde pH van jou liggaam. Die simptome sluit in ’n effens onwelriekendheid, dik wit of geel vaginale afskeiding, jeukerigheid en branderigheid. Daar kan selfs bloeding wees.

Behandeling

Gebruik die weefselsouttablet Kali Mur drie keer per dag. Drink probiotika wat die balans van die dermflora sal herstel. ’n Versteuring in dié balans maak ’n mens meer vatbaar vir die talle vorms van Candida. Dra katoen-onderklere.

Inkontinensie

Dit is glad nie vreemd dat swanger vroue in die laaste trimester ’n klein bietjie urine lek nie, veral wanneer hulle lag, hoes of nies. Dit word stresinkontinensie genoem en is die gevolg van die druk wat jou groeiende baarmoeder op jou blaas plaas.

In die bekende swangerskapsgids What to Expect When You’re Expecting waarsku die skrywers dat jy wel seker moet maak dis urine wat uitlek deur die snuif-toets te doen.

As dit nie soos urine ruik nie, moet jy dadelik jou dokter gaan spreek omdat dit vrugwater kan wees.

Behandeling

Vermy kos en vloeistowwe wat jou blaas kan prikkel, soos koffie en ander drankies wat kafeïen bevat. Vermy ook sitrusvrugte en sappe, tamaties, skerp kos en gaskoel-drank. Doen gereeld Kegel-oefeninge om die bekkenspiere te versterk.