Vrolik deur die olik

akkreditasie
Naarheid is een van die minder aangename verskynsels van swangerskap. Bemagtig jou met kennis.

Heeldag oggendnaarheid

Oggendnaarheid is ’n verwarrende term, want baie vroue is eintlik die hele dag lank naar. Die naam het waarskynlik sy oorsprong in die feit dat so baie vroue veral vroegoggend ’n naar kol op hul maag het en namate die dag vorder, beter begin voel.

Net soos die tydstip van die dag waarop vroue naar voel verskil, verskil die intensiteit van hoe sleg hulle voel ook baie van vrou tot vrou.

Die kans dat jy dit gaan vryspring is ongelukkig skraal, aangesien 50 tot 90 persent van swanger vroue ’n mate van naarheid in die eerste trimester ervaar. Sowat die helfte van dié vroue ly aan naarheid en braking terwyl ’n veel kleiner groep net naar is.

Wanneer kan jy dit verwag?

Swangerskapsnaarheid begin gewoonlik teen omtrent ses weke, maar kan ook teen vier weke al kop uitsteek. Dit is gewoonlik op sy ergste teen week nege en dan begin dit afplat. Teen 16 weke (vir sommiges selfs vroeër) voel die meeste vroue weer hul ou self. ’n Baie ongelukkige 5 persent bly dwarsdeur hul swangerskap naar.

Wie kry die skuld?

Hoewel vroue met ’n tekort aan sekere voedingstowwe meer geneig is tot naarheid, is swangerskapsverwante hormone – wat in die eerste trimester die hoogte inskiet – waarskynlik die grootste sondaars. Dokters erken egter dat hulle nie weet presies wát die mislike gevoel veroorsaak nie. Hier is van die moontlike oorsake:

  • ¬Die swangerskapshormoon hCG Die skielike styging in die vlak van dié hormoon loop mooi saam met wanneer vroue oor naarheid kla. Daarom is hCG (sy lang naam is menslike chorioniese gonadotropien) een van die vernaamste verdagtes. Vrouens met hoër vlakke van dié hormoon (soos dié wat meerlinge verwag) kla ook meer van naarheid en braking.
  • Estrogeen is nog ’n hormoon wat dalk ’n rol kan speel. Sommige navorsers dink dit is juis estrogeen wat jou in die eerste trimester daardie ongemaklike fyn reuksintuig en sensitiwiteit vir sekere reuke besorg.
  • ’n Sensitiewe spysverteringskanaal Sommige vroue is eenvoudig meer vatbaar vir al die veranderinge wat in die vroeë stadiums van swangerskap plaasvind. Sommige navorsers meen ook daar is ’n verband tussen swangerskapsnaarheid en -braking en ’n maagbakterie genaamd Helicobacter pylori.
  • Vroue wat geneig is om gespanne te raak, is dikwels ook meer geneig om naar te voel.

Is jy meer vatbaar as ander?

Die kans dat jy mislik gaan voel is groter as jy:

  • ’n Meerling verwag. Dit is omdat meer swangerskapshormone deur jou lyf bruis,
  • Met ’n vorige swangerskap naar was en gebraak het, of as jou ma en suster(s) daarvan gekla het;
  • Sukkel met bewegingsiekte; of
  • Geneig is tot skeelhoofpyn.

En navorsing het gewys dis nie net ’n ouvroustorie dat dogtertjies ’n mens naarder kan maak nie. Dis dalk te wyte aan die hormone wat vroulike fetusse produseer.

Hoe word jou baba geraak?

As jy genoeg vloeistowwe inneem en ’n goeie vitamienaanvulling gebruik, kan die mislikheid nie jou baba skaad nie.Aanhoudende en baie intense naarheid en braking kan egter die risiko vir ’n vroeë geboorte en lae geboortegewig verhoog.

Is dit ernstig?

As jy niks – selfs nie eens vloeistowwe – kan binnehou nie, het jy dalk ’n toestand met die gewigtige naam hyperemesis gravidarum, oftewel hiperemese. Dit beteken jou naarheid en braking is so erg dat jy gewig verloor en ontwater. Vroue met hiperemese moet soms drupbehandeling in die hospitaal kry. Catherine, die hertogin van Cambridge, is ’n bekende hiperemese-lyer.

Dit is eintlik 'n goeie teken

Omdat naarheid met stygende vlakke van die hormoon hCG verbind word, word swangerskapsnaarheid dikwels beskou as bevestiging dat ’n swangerskap normaal verloop.

Daar is ook teorieë dat naarheid die fetus se blootstelling aan potensieel gevaarlike kossoorte beperk en ma’s oorreed om hul bedrywige lewe vir ’n ruk af te skaal. Party vroue met heeltemal aanvaarbare vlakke hCG word egter glad nie naar nie – moet dus nie bekommerd wees as jy een van die gelukkiges is nie.

Is daar raad?

Hoewel die meeste wenke teen naarheid en braking nie juis wetenskaplik bewys kan word nie, beveel ma’s, vroedvroue en dokters graag die volgende aan.

  • Eet gereeld klein maaltye. Die idee is dat jou maag nooit heeltemal leeg moet wees nie. En moenie ná ete gaan lê nie, want dit kan jou spysvertering vertraag.
  • Maak seker jy het altyd iets soos droë beskuitjies byderhand. Baie vroue reken dit help om te knibbel aan ’n beskuitjie of twee die oomblik dat jy in die oggend jou oë oopmaak. Onthou ook om nie uit die bed te spring nie, maar eerder stadig op te staan.
  • Eet net die gesonde kos waarvan jy hou. Met ander woorde: Moenie nou spinasie beproef omdat jy gehoor het dit is goed vir jou as jy nog nooit vantevore daarvan gehou het nie.
  • Vermy kos wat jou naarheid aanwakker. As dit omtrent alles is, eet maar net wat jy kan inkry, maar vra jou dokter raad oor ’n goeie aanvulling. Swangerskapsaanvullings wat hoë dosisse yster bevat kan soms ook tot naarheid lei. Vra jou dokter vir ’n aanvulling wat genoeg yster bevat (want jy het dit nodig), maar nie onnodiglik baie nie, soos soms die geval is.
  • Omdat warm kos sterker geure het, kan dit help om jou kos teen kamertemperatuur of koud te eet.
  • Vetterige kosse neem langer om te verteer. Probeer dit dus vermy. Sterk kossoorte waarin baie speserye voorkom, sal ook nie jou saak bevorder nie.
  • Sommige vroue sê dit help om ná ete tande te borsel en jou mond uit te spoel. Vir ander het dit presies die teenoorgestelde uitwerking.
  • Probeer om tussen maaltye vloeistowwe in te neem.
  • Probeer vasstel wat dit is wat jou naarheid aanwakker. Dit is nie net altyd kosverwant nie. Dit kan ook iets soos ’n bedompige vertrek, parfuum of ¬ikkerende ligte wees. Wat dit ook al is, vermy dit.
  • Kry genoeg vars lug.
  • Die krui gemmer kan naarheid teenwerk. Jy kan gemmertee maak (sny vars gemmerstukkies in kookwater of voeg dit by jou rooibostee) of ’n goeie gemmerbier drink. Wees egter gewaarsku dat die meeste soorte wat in die supermark te koop is, nie regte gemmer bevat nie. Pepermenttee en -suiglekkers bring ook vir sommige vroue verligting.
  • Die homeopatiese middel Magen-druppels kan ook naarheid verlig, asook ’n vitamien B6-aanvulling. Daar is veilige teennaarheidsmedisynes op die mark. Vra jou dokter gerus daaroor.
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees