(Hierdie artikel was eerste gepubliseer in Baba & Kleuter, Des 2015) 

'n Mengsel van benoudheid en bekommernis woel in jou hart wanneer jy voor jou doktersbesoek op die skaal klim. Die verligting is groot wanneer jy sien dat jy skaars ’n gram opgetel het. Die gedagte dat jy so vet soos jou ma, ouma of buurvrou kan word laat jou hare rys. Al is die nare werklikheid van die eerste trimester goor, help dit darem dat ’n mens nie veel kan inkry nie, wat vir jou gunsteling-kortbroek ’n goeie ding is.

Die vraag is egter: Is dit goed vir jou en jou baba se gesondheid?

WAT GEBEUR AS JY TE MIN GEWIG AANSIT?

Jou ontwikkelende baba het voedingstowwe nodig om te groei en sy moet dit alles uit jóú bord kos kry. Swangerskap beteken nie eet vir twee nie, maar dis belangrik om te besef dat jou baba se gesondheid van jou gesondheid afhang. Jou gewig speel ook ’n groot rol in jou baba se gesondheid. Dis dus ’n slim plan om jou ideale liggaamsgewig te probeer bereik sowat drie maande voor jy swanger raak. Nog belanger as wat jy weeg voor jy swanger raak, is egter hoeveel gewig jy tydens jou swangerskap aansit.

Studies wys dat amperma’s wat te min gewig aansit ’n groter gevaar loop om ’n miskraam te hê, vroeg te begin kraam of preëklampsie te ontwikkel. Ondervoeding en onvoldoende gewigstoename kan ook lei tot vertraagde groei van die fetus, wat beteken dat die baba met geboorte klein vir haar ouderdom sal wees. ’n Klein baba klink dalk vir jou na ’n makliker kraamproses, maar studies het gevind dat babas wie se gewig onder die derde persentiel (onderste lyn) op ’n groeikaart is, ’n paar gesondheidsrisiko’s in die oë staar: ’n laer Apgar-telling en ’n groter kans om in die intensiewesorg-eenheid te beland en asemhalingsondersteuning nodig te kry.

Lees: Wanneer is dit die ware Jakob?

Selfs ma’s wat voor geboorte oorgewigis, moet dus seker maak dat hul gewigstoename binne die aanbevelings val. Hul baba kan ook te klein wees as hulle nie genoeggewig aansit nie. Behalwe vir die onmiddellike gesondheidsrisiko’s het babas wat met geboorte te klein is, ook ’n groter kans om later in hul lewe siek te word. Party babas groei in hul eerste jaar nie goed genoeg nie en haal die groei eers later in. Dié versnelde groei in enige stadium voor tweejarige ouderdom kan lei tot die ontwikkeling van tipe 2-diabetes, hartsiektes en hoë bloeddruk.

GEVARE VIR KLEIN BABAS

Die meganisme waardeur sekere aspekte van ’n fetus se ontwikkelingsomgewing hul latere gesondheid beïnvloed, word fetale programmering genoem. Wat jy eet en hoe jy leef, slaap en oefen skep ’n unieke omgewing vir jou baba se groei wat veroorsaak dat sekere gene aan- of afgeskakel word. Hierdie aanpassings is die liggaam se manier om voor te berei vir wat hy dink op hom wag. ’n Tekort aan voedingstowwe vroeg in die swangerskap kan ’n baba se lyfie as ’t ware programmeer om voedingstowwe te berg of minder voedingstowwe te gebruik omdat vir die tekort voorsiening te maak.

’n Baba se voedselvoorkeure, metabolisme en voedingsgedrag kan so tot in volwassenheid geraak word en hierdie veranderinge sal op hul beurt bydra tot die ontwikkeling van toestande soos hartsiekte, diabetes, hoë bloeddruk en beroerte. Sommige studies wys dat babas wat klein gebore is, later insulienweerstandig kan word of voorkeure ontwikkel vir hoë-energiekosse wat baie koolhidrate en vet bevat. Die gebruik van alkohol, rook of verbode middels tydens swangerskap en borsvoeding kan ook die baba programmeer om tipe 2-diabetes te ontwikkel.

HOEVEEL MOET JY AANSIT?

Jou optimale gewigstoename hang af van jou gewig aan die begin van swangerskap. Bereken jou liggaamsmassaindeks (LMI) aan die begin van jou swangerskap deur jou gewig te deel deur jou lengte kwadraat. In die eerste 12 weke behoort ’n mens net 0,5 tot 2 kg aan te sit.

Daarna kan jy die tabel hierbo volg om uit te werk hoeveel jy per week moet aansit volgens jou uitgewerkte LMI. Weeg jou elke een of twee weke om seker te maak jy bly binne die aanbevelings. In 2009 het die Amerikaanse Instituut vir Geneeskunde nuwe riglyne bekendgestel vir die ideale gewigstoename tydens swangerskap.

Lees: Alles oor jou keiser

Tot 70 persent van swanger vroue sit meer gewig aan as wat die riglyne voorskryf, en dit stel hulle in groter gevaar om ’n keisersnee, hoë bloeddruk en preëklampsie te kry. Vir die baba is dit ook nadelig: Hulle kan buitengewoon groot wees, ’n lae Apgartelling hê en makliker geelsug kry.

GESONDE MAMMA, GESONDE BABA

Die basis van ’n gesonde swangerskap is ’n gesonde, gebalanseerde dieet en ’n gesonde leefstyl wat insluit die vermyding van rook en alkohol en ook daaglikse matige oefening. Gesond eet begin by drie vaste maaltye en drie kleiner versnaperings tussen maaltye. Kleiner, meer gereelde maaltye help sorg dat jou bloedsuiker meer konstant bly en kan duiseligheid en naarheid help voorkom.

Moenie maaltye of versnaperings oorslaan om jou gewig in toom te hou nie. ’n Slimmer plan is om die soort kos wat jy kies aan te pas. ’n Hoëvesel-ontbytgraan soos semelvlokkies of -stokkies met vetvrye melk en ’n vrug is ’n slim keuse om jou dag mee te begin. Die vesel sal help om hardlywigheid te voorkom terwyl die koue, vetvrye melk nie naarheid sal veroorsaak soos gebraaide spek en eiers nie. ’n Gesonde ligte maaltyd kan bestaan uit volgraanbrood of -beskuitjies met vars slaaigroente en ’n eier, kaas of vleiserigheid. ’

n Hoofmaaltyd is ’n kwart bord volgraanstysel, ’n stukkie hoender, vis of vleis en minstens twee groente wat die helfte van jou bord moet beslaan. Kies vrugte, groente en melk of jogurt vir versnaperings eerder as koekies en sjokolade. Eet ’n verskeidenheid en berei dit gesond. Drink minstens vier glase skoon water en twee glase melk per dag. Eet wanneer jy honger is en hou op wanneer jy versadig begin voel. Dit sal jou help om die regte hoeveelheid gewig aan te sit wat jou en jou baba se gesondheid sal beskerm.