Foto: Getty Images

Alkohol

Alkohol hou niks goeds vir jou ongebore baba in nie. Die gevolge van alkoholmisbruik sluit in ’n moontlike miskraam, fetale alkohol-sindroom, fisieke afwykings, lae geboortegewig, hiperaktiwiteit en latere aandaggebrek. Die tydperk met die hoogste risiko is die vroegste stadium van die swangerskap wanneer jou baba se organe gevorm word. Party vroue is meer kwesbaar vir die skade van alkohol as ander en daarom is daar nie iets soos ’n veilige perk nie, sê Anel Kirsten, ’n dieetkundige van die Paarl in die Wes-Kaap. “Vermy alkohol dus heeltemal terwyl jy swanger is. Die vorige riglyn, dat swanger vroue hulle tot een of twee eenhede alkohol een of twee keer per week mag beperk, geld nie meer nie.”

Aromaterapie

Sommige olies is nie veilig nie; sorg dus altyd dat jy van ’n gekwalifiseerde aromaterapeut gebruik maak. Veilige olies sluit in laventel-, kamille-, gemmer-, rooshout-, sandelhout- en Australiese teeboomolie. Gebruik die volgende met omsigtigheid: bergamot-, lemoenblom-, sitrus- (hulle maak jou vel baie sonsensitief) en malva-olie. Essensiële olies is gekonsentreerd en moet voor gebruik met ’n draerolie verdun word.

Aspirien

Aspirien moet vermy word tensy anders deur jou verloskundige voorgeskryf.

Kafeïen

Kundiges se mening hieroor verskil. Dis omdat daar nog nie baie navorsing oor die saak gedoen is nie, sê Anel. “Hou in gedagte dat kafeïen ’n stimulant met ’n ontwaterende uitwerking is. Dit verhoog die hoeveelheid urien wat geproduseer word. Dit kan weer jou bloeddruk laat styg en jou harttempo laat versnel, wat nie gesond is nie.”

Anel waarsku ook dat kafeïen deur die plasenta dring en dat die uitwerking daarvan op jou ongebore baba tot dusver onduidelik is. “Daar is sprake dat kafeïen jou ongebore baba se slaappatroon kan ondermyn.”

Tydens swangerskap is baie vroue meer sensitief as gewoonlik vir kafeïen omdat dit die liggaam langer kos om daarvan ontslae te raak, sê Anel. Ons reageer ook almal verskillend op kafeïen en party mense se lyf verwerk dit stadiger as ander.

“Jou baba se metabolisme is nog onvolwasse en kan kafeïen nie noodwendig volledig metaboliseer nie.” Die algemene gevoel is dus dat hoe minder kafeïen jy inneem terwyl jy swanger is, hoe beter. “Die mees algemene aanbeveling is dat jy minder as 200 mg kafeïen per dag inkry. Dis sowat 360 ml koffie. Party mense meen 150 mg is te veel en stel die perk op 300 mg. Dis egter veiliger om kafeïen te vermy tot daar meer navorsing beskikbaar is.” Onthou kafeïen kom ook in koeldrank, tee, sjokolade en sommige medisynes voor.

“Die gevaar is dus dat jy onbewustelik sommer gou jou daaglikse toegelate hoeveelheid oorskry,” waarsku Anel.

Akneebehandeling

Hormoonveranderings kan jou vel van pure gesondheid laat gloei, maar ongelukkig kan die teenoorgestelde ook waar wees. Baie swanger vroue voel soos tieners met ’n gesig vol puisies en knoppies.

Baie mondelikse akneebehandelings bevat retinoësuur, wat geboorte-afwykings en ’n verhoogde risiko vir miskraam as newe-effekte het. Aansmeerbehandelings wat die middel tretinoïen bevat, is ook nie veilig tydens swangerskap nie.

Stamp en struikel

Voor 12 of 14 weke beskerm die bekken die swangerskap. As jy dan val of teen iets stamp, behoort dit geen probleme te veroorsaak nie, tensy jy in ’n ernstige ongeluk betrokke is. Daarna word die baba goed beskerm deur die vrugsak vol vloeistof, maar as jy ’n direkte slag teen die baarmoeder opdoen, moet jy maar jou dokter raadpleeg.

Tandartsbesoeke

Tandheelkundige prosedures is geen probleem nie mits ’n loodvoorskoot gebruik word wanneer x-straalfoto’s geneem word. Narkose moet waar moontlik vermy word.

Vis

Vis is ’n uitstekende bron van proteïen en bevat vitamiene, noodsaaklike omegas en minerale. Sommige soorte vis soos salm en diepseetuna bevat wel kwik, wat die fetus se ontwikkelende senustelsel kan beïnvloed. Moenie meer as een tuna-steak of twee blikkies tuna per week eet nie. Rou of halfgaar seekos en skulpvis kan skadelike virusse en bakterieë bevat waarvoor swanger vroue en hul ongebore baba besonder sensitief is. Vermy dit eerder.

Antibiotika

Penisillien en sefalosporien is veilig vir gebruik indien absoluut noodsaaklik. Dikwels is ’n ernstige infeksie gevaarliker as die antibiotikum self. Die meeste medikasies moet in die eerste trimester vermy word. Tetrasiklien en kinoloon moet vermy word.

Foto: Getty Images

Suiwelprodukte

Bokmelk en bokmelkkaas is ongepasteuriseerde melkprodukte en daar is dus ’n verhoogde risiko van blootstelling aan die bakterieë Salmonella en Listeria, wat tot voedselvergiftiging kan lei. Die kase (gepasteuriseer of nie) wat die grootste gevaar van Listeria inhou, is sagte kase soos brie, camembert en bloukaas. “Hou liewer by die harde kase soos cheddar en gouda,” is Anel se raad.

Wasbehandelings

’n Haarverwyderende wasbehandeling is nie gevaarlik nie, maar omdat jou bloedvloei verhoog wanneer jy swanger is en jou vel meer sensitief is, kan jy dalk effense bloeding en meer pyn ervaar as waaraan jy gewoond is.

Vitamiene

In ’n ideale wêreld sou ’n gebalanseerde dieet al jou én baba se voedingsbehoeftes bevredig het. Maar ’n vitamien-en- mineraal-aanvulling sorg dat jy al die regte voedingstowwe inkry. Drink ’n spesiale multivitamien vir swangerskap wat verkieslik deur jou dokter voorgeskryf moet word. “Ek beveel dikwels aan dat swanger vroue hul aanvulling saans net voor slaaptyd drink om die gevaar van naarheid te vermy,” sê Anel.

Sy sê jy het genoeg foliensuur tydens jou swangerskap nodig, veral in die eerste 12 weke, omdat dit help om neuraalbuis-afwykings te voorkom. “ ’n Omega 3-vetsuuraanvulling is noodsaaklik vir brein- en oogontwikkeling.

Selfs al eet jy ’n goed gebalanseerde dieet, kan jy nie waarborg dat jy genoeg daarvan inkry vir jou én jou ontwikkelende baba nie.” ’n Vitamien D-aanvulling speel ook ’n belangrike rol in die skeletontwikkeling, algemene groei en ontwikkeling van die fetus. Dit kan jou baba help beskerm teen siektes soos diabetes, hartsiektes, immuunsiektes en seker soorte kanker.

“Vermy enige aanvullings wat retinol, die dierlike vorm van vitamien A, bevat. Dit kan in groot hoeveelhede giftig vir ongebore babas wees. Die plantgebaseerde karoteentipe vitamien A is egter veilig in swangerskap,” sê Anel.

Dieetkoeldranke en versoeters

Matige gebruik is normaalweg in orde. Die uitwerking van kunsmatige versoeters en dieetkoeldrank op swanger vroue en die ontwikkelende fetus is egter nog nie finaal uitgeklaar nie; vermy dit liefs dus terwyl jy swanger is.

Sonskerms en sonbruinsproei

Dis alles veilig en word bo blootstelling aan die son aanbeveel.

Griepinspuiting

Die griepinspuiting word van ’n onaktiewe virus berei en daar is geen bewys dat dit skadelik vir ongebore babas is nie. Dit word vir swanger vroue aanbeveel om hulle te beskerm. As jy egter in een van die risikogroepe val – as jy asma of nierprobleme het – moet jy eers jou dokter raadpleeg.

Varkgriep kan egter gevaarlik wees vir swanger vroue en as jy begin siek voel, moet jy dadelik dokter toe gaan sodat jy so gou as moontlik die teenvirusmiddel Tamiflu kan begin drink. Tamiflu word meestal slegs gebruik wanneer jy simptome het en behandeling moet verkieslik binne twee dae van die aanvang van jou simptome af begin.

Malariagebiede

Besoeke aan plekke waar malaria voorkom, word glad nie aanbeveel nie. Weens jou hoër liggaamstemperatuur sal jy heel waarskynlik gebyt word. Die malariaparasiet tas die lewer aan en veroorsaak groot probleme. As jy noodgedwonge in ’n malariagebied is moet jy onder ’n muskietnet slaap, muskietweerders gebruik en ná donker binnenshuis bly.

Hoëhakskoene

Hoewel hoëhakskoene self geen enorme risiko inhou nie, moet jy in gedagte hou dat jou swaartekragpunt skuif wanneer jy swanger is. Die ekstra gewig kan jou ook van balans bring en meer druk op jou onderrug en hakke plaas. Verruil dus maar die hakke vir plat skoene.

Optel van swaar goed

Dit is nog in die eerste trimester aanvaarbaar, maar daarna is enige vooroorbukkery en die optel van swaar goed taboe. Dit plaas ekstra druk op die lumbale werwels in die onderrug, wat jou meer kwesbaar vir laerugpyn sal maak. As jy iets swaars móét optel, hou jou rug reguit, buig jou knieë en hou die voorwerp so na as moontlik aan jou om ekstra druk op die onderrug te verminder.

Massering

Volgens die Suid-Afrikaanse Masseerterapievereniging kan jy in die eerste trimester op jou rug lê tensy dit ongemaklik is. Of jy nou regop sit of lê, jou buik moet altyd goed ondersteun word. Die terapeut moenie hard druk, diep masseer of perkussie-bewegings uitvoer nie. Net ligte streelbewegings moet ingespan word.

Raadpleeg altyd eers jou dokter of ginekoloog. Vermy die binnekant van die enkel want daar is ’n reflekspunt wat kontraksies van die baarmoeder aanmoedig. Maak seker jou terapeut weet watter essensiële olies veilig vir swanger vroue is. Party olies kan skadelik vir die fetus wees of die geboorte vervroeg.

Haarkleursel en -kartelings

Daar is min haarkleursels en behandelings vir permanente golwe wat skadelike stowwe bevat wat deur die vel geabsorbeer word en in die bloedstroom beland. Soms sal haargolwing nie werk as jy swanger is nie.

Tweedehandse sigaretrook

Sowat 75 persent van die nikotien van sigarette beland in die lug, waarsku die geboorte-opvoeder Tina Otte. “Die deeltjies in sekondêre rook is kleiner as die rook wat rokers inasem, dring daarom dieper in die longe in en bly ook langer daar. Minstens 30 van die sowat 4 000 verbindings in tabakrook is berug daarvoor dat hulle genetiese skade aanrig. Nikotien verhinder die opname van kalsium, vitamien C en ander vitamiene en minerale wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van die fetus. “Koolsuurgas ontneem die plasenta van suurstof en nikotien dring deur die plasenta, beland in die baba se bloedstroom en laat sy bloeddruk styg en hart vinniger klop. Vermy dus rokerige plekke en sekondêre sigaretrook.”

Maagkrulle

Van die vierde maand af begin die twee helftes van jou buikspier skei namate jou buik in omvang toeneem. Wanneer dit gebeur, is dit glad nie wys om maagkrulle of soortgelyke oefeninge aan te pak nie. Doen eerder bekkenkantelings of strek soos ’n kat. Dit is net so doeltreffend en goed vir jou as jy dit reg uitvoer, sê Tina.

Sitplekgordel

Jy behoort altyd ter wille van jou eie veiligheid ’n sitplekgordel te dra, maar namate jou swangerskap vorder sal dit ál moeiliker word om vas te gespe. Maak die gordel oor jou heupe en onder jou boep vas eerder as oor die middel.

Vastefiets-oefening

As jy voor jou swangerskap vastefietsoefening (spinning) gedoen het, sal dit gedurende jou swangerskap geen skade aanrig nie. In navorsing is trouens gewys dat vroue wat daarmee volhou, makliker kraam. Die gewone veiligheidsmaatreëls vir oefening tydens swangerskap is egter steeds van toepassing. Drink baie water voor die klas en elke vier of vyf minute terwyl jy oefen. Hou jou hartklop binne die veiligheidsgrens. Moet dus nie naelloopritte doen of op die fiets staan of spring sodat jou hartklop te vinnig styg nie.

Foto: Getty Images

Stres

Stres veroorsaak ’n veg-of-vlug-reaksie in jou liggaam en jy skei baie van die streshormoon kortisol af. Chroniese stres beteken dat jou kortisolvlak hoog bly, sê Anel. Dit kan oor die plasenta beweeg en is nie goed vir jou baba nie. Navorsing op hierdie gebied is nog baie nuut en daar moet nog meer studies gedoen word oor die invloed van stres op die fetus.

Tennis en Muurbal

In die meeste gevalle kan jy tot in die derde trimester tennis speel. Hou op as jy gewrigspyn kry of vreemd of van balans af voel. Dieselfde geld muurbal. Omdat jy gedurig beweeg, is die eintlike risiko dat jy jou bekken en kniegewrigte kan beseer omdat dit slapper is. Tina Otte beveel nietemin aan dat jy nie aan muurbalwedstryde deelneem nie.

Sonars

Navorsing toon dat sonars geen gevaar vir ma of fetus inhou nie.

Petroldampe, insekdoders en haarsproei

Petroldampe is nie so skadelik nie want jy word in oop gebiede daaraan blootgestel. Insekdoders kan deur die vel geabsorbeer word en moet daarom met groot sorg hanteer of vermy word. Haarsproei is veilig.

Medikasie

As jy voor jou swangerskap middels vir asma, depressie, epilepsie of ander toestande gebruik het, sal jy waarskynlik daarmee moet aanhou. Praat met jou arts daaroor omdat dosisse dalk aangepas moet word.

Warm bad

Hou die temperatuur by 37 grade C. Dokters waarsku teen oorverhitting, ontwatering en die feit dat jou vinniger hartklop bloedvloei na die fetus kan strem. Saunas en stoombaddens is beslis taboe.

Vlieg

Die eerste en tweede trimester is die veiligste vliegtyd. Raadpleeg jou dokter as jy ’n hoërisiko-swangerskap het en hoor by die lugdiens wat hul beleid oor swanger passasiers is.

Kruie

Kruie vir kook wat spaarsamig geëet word, hou geen gevaar in nie. Jy moet egter ’n geregistreerde kruiedokter raadpleeg as dit kom by medisinale kruie. Baie swanger vroue verkies dit om chroniese probleme met kruiemedisyne te behandel en dis belangrik om van ’n professionele persoon die groen lig te kry. Maak seker dat die persoon by die Gesondheidsberoepsraad van Suid-Afrika (HPCSA) geregistreer is.

Werk

Volgens die Amerikaanse kollege van verloskundiges en ginekoloë kan party vroue tot met die geboorte werk, mits hulle nie komplikasies het nie. Verminder jou werktyd of hou heeltemal op as jou werk fisiek veeleisend is of vereis dat jy swaar goed optel en lank staan of stap.

Hou ook vroeër op as jy ’n diabeet is of ’n niersiekte, rugprobleme of hoë bloeddruk het. As jy aan gifstowwe, x-strale of masjinerie blootgestel word, praat met jou werkgewer oor alternatiewe take wat veilig vir swanger vroue is. Gesondheidsorgwerkers, radioloë en navorsers in ’n laboratorium wat moontlik aan ioniserende bestraling blootgestel kan word, val in hierdie kategorie.

Teensuurmiddels

Hoewel die meeste teensuurmiddels veilig is, moet jy hoë dosisse vermy, sê die Johannesburgse vroedvrou suster Burgie Ireland. Maak seker die middel wat jy neem, is veilig in die eerste trimester. Vermy medisyne wat die krampmiddel disiklomien hidrochloried bevat.

Aërobiese oefeninge

As jy nie daaraan gewoond is nie, moet jy met lae-intensiteitoefeninge onder die toesig van ’n gekwalifiseerde swangerskapsafrigter begin. Kry altyd toestemming van jou dokter, veral as jy swangerskapsprobleme het. Jou hartklop verhoog tydens swangerskap met sowat 10 slae per minuut.

Werk dus teen ’n matige pas – 140 slae per minuut word as veilig beskou. As jy ná 32 weke jou arms bo jou kop lig, kan jy meer uitasem raak. Strek liefs jou arms skouerhoogte na die kante toe om beter te kan asemhaal. Drink genoeg water.

Gewigte

Jy kan met gewigte oefen as jy dit reeds voor jou swangerskap gedoen het. Moenie eers daarmee begin wanneer jy swanger is nie. Vermy dit in die tweede trimester om gewigte met jou bene te lig omdat dit druk op die bekken kan verhoog. Gebruik net ligte gewigte en oefen altyd onder toesig.

Lank staan

Dit is glad nie ’n goeie plan nie omdat dit bloed in die verste punte van die ledemate laat opdam, wat die gevaar van swelling en spatare verhoog.

Insekweerders

Lees altyd die etikette en vermy produkte wat DEET of M-DET bevat aangesien sommige mense sensitief daarvoor is en sleg daarop kan reageer.