Elke mens behoort tot een van vier bloedgroepe – A, B, AB en O. En elke groep het spesifieke proteïene wat op die oppervlak van jou rooibloedselle voorkom. Jou bloed word verder geklassifiseer volgens die teenwoordigheid van nog ’n ekstra proteïen en dís wat jou rhesus-faktor bepaal. As jy die ekstra proteïen dra, is jy Rh-positief en as jy dit nie het nie, is jy Rh-negatief. Jou unieke genetiese samestelling sal bepaal of jy Rh-positief of -negatief is.

Wat het dit met jou swangerskap te make?

Baie! Want jou Rhesus-faktor kan jou baba se gesondheid beïnvloed. As ’n Rh-negatiewe vrou en ’n Rh-positiewe man saam ’n baba verwag, is daar ’n moontlikheid van onversoenbaarheid omdat die baba wat in die Rh-negatiewe ma groei, Rh-positiewe bloed kan hê wat hy by sy pa geërf het.

Rh-onversoenbaarheid is gewoonlik nie ’n probleem in die eerste swangerskap nie omdat die fetus se bloed nie normaalweg tydens swangerskap na die ma se bloed­s­omloopstelsel lek nie.

’n Ma en haar baba se bloed meng egter wel tydens geboorte. En wanneer dít gebeur, begin die ma se liggaam teenliggaampies opbou teen die Rh-proteïen wat deur haar baba in haar bloed beland het.

Met die volgende swangerskap kan daar dan probleme insluip, juis as jy weer ’n Rh-positiewe baba het, want jóú Rh-teenliggaampies sal die Rh-proteïene op die oppervlak van jou baba se bloedselle as “vreemd’’ beskou.

Jou teenliggaampies beweeg dan deur die plasenta tot in jou baba se bloedstroom en val sy selletjies aan, wat veroorsaak dat sy rooibloedselle skeur en opswel. Jou baba se bloedtelling kan dus baie laag word. Dit staan bekend as Rh-siekte en kan ’n ver­skeidenheid komplikasies veroorsaak, van geelsug en hartversaking tot doodgeboorte. 

Só kan Rh-siekte voorkom word

As jy swanger is en die gevaar loop om Rh-onversoenbaarheid te ontwikkel (m.a.w. as jou Rh-faktor van jou man s’n verskil), kan jy ’n reeks Rh-immunoglobulien-inspuitings kry. Die eerste inspuiting word teen die 28ste week van jou eerste swangerskap toegedien en die tweede binne 72 uur ná die geboorte van jou baba. 

Dit werk soos ’n entstof en beskerm teen die ontwikkeling van Rh-teenliggaampies wat komplikasies in die volgende swangerskappe kan veroorsaak. Rh-immunoglobulien word ook dikwels toegedien as ’n Rh-negatiewe vrou ’n miskraam kry, bloeding tydens haar swangerskap ervaar het of ’n amniosentese ondergaan het. 

Te laat?

As jy nie ingeënt is nie en reeds Rh-teenliggaampies opgebou het, sal jou swangerskap baie fyn dopgehou moet word om seker te maak dat die vlak van die teenliggaampies nie te hoog word nie. 

As jy Rh-positief en Coombs-positief is (as jy nie ingeënt is nie), moet jy die hele tyd gemonitor word. Die versnelling van die rooibloedselle in die middel van die serebrale arterie (die slagaar in jou baba se brein) word gebruik om dit te monitor. Die teorie is hoe minder die rooibloedselle teenwoordig is, hoe vinniger versnel die rooiselle as die hart pomp. 

Vir elke week van die swangerskap verander die waardes en as die versnelling tot bo die boonste grens van normaal styg, kan spesiale bloedoortappings gedoen word terwyl die baba nog in die baarmoeder is. Dit duur ongeveer ’n week om die bloed reg te kry vir so’n oortapping. Dié bloed moet Rh-negatief wees en geen witbloedselle bevat nie. ’n Bloedarmoedige baba kan van so vroeg as 20 weke af ’n binnebaarmoeder-bloedoortapping kry, wat beteken dat die Rh-positiewe fetus Rh-negatiewe bloed met ’n lang naald in die naelstring ontvang. Dit stabiliseer die baba se rooibloedselvlak en verminder skade wat veroorsaak kan word deur die Rh-teenliggaampies wat reeds in die baba se bloedstroom is. 

Die oortapping word onder plaaslike verdowing met ’n naald direk in die naelstring gedoen. Jou baba word deurentyd met sonartoerusting gemonitor. 

Die risiko van dié oortapping is ongeveer 5 persent en sluit in dat jou water kan breek, jy ’n infeksie kan ontwikkel of dat jou baba kan sterf. Jou bloedgroep behoort dus vroeg in jou swangerskap getoets te word sodat enige potensiële probleme betyds opgespoor en behandel kan word. 

Rh-onversoenbaarheid is glad nie onoorkombaar nie, maar dit kan ook nie geïgnoreer word nie.

HET JY GEWEET?

Rh-siekte kom voor by 10,2 uit 10 000 geboortes.