Wil naelstring later knip

akkreditasie
Wat is die beste tyd om die naelstring te knip? 'n Voedvrou gee die antwoord.

Vraag:

My swangerskap staan einde se kant toe. Ek het gehoor dat as ’n mens die naelstringknippery met ’n paar minute uitstel, hou dit baie voordele vir die baba in. Hoe werk dit? Is dit nie gevaarlik nie en hoekom sou dit vir my baba goed wees?

Antwoord:

Die tegniek waarna jy verwys word uitgestelde naelstring-klemming (delayed cord clamping) genoem. Navorsing wys dat ’n baba ná sy geboorte baie vinniger en beter stabiliseer as daar twee tot vyf minute gewag word voor sy naelstring geklem en geknip word.

Dit is omdat die naelstring steeds suurstofryke bloed van jou deur die plasenta na jou baba toe pols – ja, die naelstring het ’n pols!

As dit ’n moeilike en lang geboorte is, wil ’n mens veral genoeg suurstoftoevoer na die baba verseker om suurstoftekort en uitputting te voorkom. Dié tegniek help baie om die suurstofgehalte van die baba se bloed te verhoog.

As die knippery uitgestel word, kry baba ook ekstra rooibloedselle, wat pasgeborene-bloedarmoede kan teenwerk.

Dis veral belangrik om dié tegniek met meisies toe te pas omdat dit hul ystervlak verhoog en meisies op 10 tot 12 jaar begin menstrueer en dan daardie ekstra yster nodig sal hê.

In die geval van ’n watergeboorte kry die baba boonop warm bloed, wat help om hom warm te hou. Dis belangrik om te onthou dat die naelstring in die water nie sal ophou pols nie en dan kan baba weer te veel rooibloedselle kry.

“Droë” geboortes hou weer die gevaar in dat die naelstring gou afkoel en koue bloed na die baba gestuur word, wat sy liggaamstemperatuur te laag kan laat daal. Tydsberekening is dus baie belangrik. Soos jy sien, is daar baie voordele vir jou baba as die naelstring nie te gou geknip word nie. Jou versorger, dokter of vroedvrou moet egter die tegniek ken en dit korrek toepas om jou baba die optimale voorsprong in die lewe te gee.


Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees