1. Wanneer kan ek maar vir mense vertel dat ek swanger is? 

Die risiko vir ’n miskraam is gewoonlik ná die eerste 12 weke verby. As jou ginekoloog egter op ongeveer ses weke ’n hartklop waarneem, is die kans op sukses ook goed en kan jy die nuus maar begin uitbasuin.

2. Moet ek nou vir twee mense eet?

Hoegenaamd nie. Heelparty vroue lê omtrent weg, want swangerskap word beskou as ’n gerieflike verskoning om oorboord te gaan.

Maar die werklikheid is dat jy bo en behalwe jou normale voedselinname net sowat 1 200 kilojoules – sowat ’n boksie sap – ekstra hoef in te neem. Die enigste vereiste is: Eet gesond.

3. Hoeveel behoort ek altesaam aan te sit? 

’n Gewigstoename van tussen 12 en 15 kg is gesond. ’n Interessante feit is dat jy vir borsvoeding ongeveer 5 kg vet nodig het. As jy aan die begin van die swangerskap ondergewig is, behoort jy dus meer aan te sit. As jy oorgewig is, behoort jy nie meer as 8 kg tot 10 kg aan te sit nie. En onthou, nou is nie die tyd om diëte op die proef te  stel nie! 

4. Wat van my lekker beker ontbytkoffie?

Dit is heel veilig om tot twee koppies koffie met kafeïen per dag te drink. As jy aan meer koppies gewoond is, drink eerder die kafeïenvrye soort.

5. Watter kos moet ek heeltemal vermy? 

Vermy biltong, droëwors en soesji – met ander woorde, rou kosse of kosse wat gedroog word. Kieme kleef daaraan vas. Blou kaassoorte met swamme moet ook nie tydens swangerskap geëet word nie.

As jy biefstuk eet, moet dit goed gaar wees. Dit geld natuurlik ook vir hoender en vark. Oppas ook vir rou eier in souse, tuisgemaakte roomys en nageregte.

6. Voor ek uitgevind het ek is swanger, het ons woes partytjie gehou. Het die alkohol die fetus geskaad? 

Die kommunikasie tussen die ma en baba deur middel van bloed begin eers op ses weke. Teen daardie tyd behoort die ma reeds te weet sy is swanger omdat sy haar eerste maandstonde oorgeslaan het.

So indien jy in die eerste ses weke te veel gedrink het, is jou baba steeds veilig. Maar as jy beplan om swanger te raak, bly liewer weg van enige alkohol!

7. Is dit veilig om seks te hê?

Indien jy geen probleme het met bloeding vroeg in die swangerskap nie, en indien die plasenta nie laag lê nie en normaal gevorm is, is dit heeltemal veilig om met jul normale sekslewe voort te gaan.

Die goue reël is: As dit seer is, hou op. Raadpleeg jou ginekoloog om vas te stel wat die pyn veroorsaak. Seks is volkome veilig en toelaatbaar in die hele duur van die swangerskap. Julle sal dalk posisies moet verander om by jou swellende magie te pas. En onthou, die baba kan nie seerkry nie!

8. Mag ek sport doen? 

Kom ons wees eerlik: Jy gaan beslis nie die Comrades hardloop nie. Vermy enige kontaksport soos hokkie en natuurlik enige ekstreme sportsoorte soos rekspronge of abseil.

Ligte oefening soos swem en stap is veilig en word boonop sterk aanbeveel. Twee sportsoorte wat uiters voordelig vir swanger vroue is, is pilates en joga. Dit help om stres te verminder en, baie belangrik, ook om die rug- en maagspiere te versterk. So kan pyn in die onderrug waaroor baie swanger vroue kla, verlig word. Sterk maag- en rugspiere kan natuurlik ook die geboorte vergemaklik.

Ligte oefening kan uiteraard ook help dat jou gewig binne perke bly!

9. Is daar salf te smeer aan oggendnaarheid? 

Nie regtig nie. Oggendnaarheid (sommige swanger vroue kan egter regdeur die dag episodes van naarheid beleef) verdwyn gewoonlik spontaan ná sowat 12 weke.

Daar is twee hoofredes vir die naarheid: laer bloedsuiker en hormone. In die geval van bloedsuiker is die beste plan om gereeld deur die dag aan droë, “smaaklose” kossoorte te peusel soos brosbeskuitjies.

Hou ’n beskuitjie langs jou bed en eet dit voor jy soggens opstaan. Wat hormone betref, is daar nie werklik raad nie. Troos jou daaraan dat dit ’n baie goeie teken is. Dit wys dat baie hormone aan die werskaf is, wat goed is vir die swangerskap. Indien gereelde peuselhappies deur die dag geen verligting bring nie, is daar veilige medikasie beskikbaar.

As jy amper geen voedsel inhou nie, moet jy by jou ginekoloog uitkom. Jy kan maklik ontwater en dit kan nodig wees dat jy binneaarse voeding kry. 

10. Hoe dikwels moet ek dokter toe? 

Die eerste besoek is normaalweg om die swangerskap te bevestig. Daarna behoort jy jou ginekoloog elke vier weke te besoek tot op 32 weke. Dan raak die tussenposes korter en daaropvolgende besoeke vind op 34, 36, 38 en 39 weke plaas. Sonars word deesdae by bykans elke besoek gedoen, veral as die ginekoloog die nodige toerusting byderhand het. Dis volkome veilig vir die baba omdat ’n sonar van klankgolwe gebruik maak.

11. Is vyf sigarette per dag in orde? 

Nee. En terwyl jy nou probeer ophou rook, moet jy jou man ompraat om dieselfde te doen of anders buite te rook. Passiewe rook is sleg vir ma en baba. 

12. Wat van ouvroustories? 

Die ou mense het gewaarsku dat ’n swanger vrou nie te veel met haar arms bo haar kop moet werskaf nie omdat die naelstring kwansuis om die nek sal beland en die kind kan versmoor. Dis bog. Altesaam 90% van babas word met die naelstring om die nek gebore, wat dit amper standaard maak.

In die tweede trimester raak die baba baie bedrywig en dis gewoonlik dan dat die naelstring om die nekkie draai, maar die kans dat baba verstrengel raak, is uiters skraal. Dan is daar die teorie dat jy ’n seuntjie verwag as jou neus “plat en dik” word. As jy “in jou maag” dra, is dit ’n dogtertjie en as jy “in jou boude” dra, is dit weer ’n seuntjie.

En so loop die stories … Die goue reël is om nie jou ore uit te leen nie, want dan kan jy paniekerig raak. Kontak eerder jou ginekoloog as jy enige bekommernisse het.

13. Mag ek tydens swangerskap ’n sonbed gebruik? 

’n Kort en kragtige nee. Jou liggaamstemperatuur styg terwyl jy sonbehandeling ontvang en terselfdertyd styg baba se liggaamstemperatuur. Dit kan gevaarlik vir breinontwikkeling wees. Dis ook sleg vir jou vel en jy kan pigmentasie vererger.

14. Wat beteken die rhesus – of Rh faktor? 

Dis net ’n probleem as die ma se bloed Rh­-negatief en die pa s’n Rh-positief is. As die pa Rh­-positief is, is die kans 75% dat die baba ook Rh-­positief sal wees. Die Rh-negatiewe ma dra dan in der waarheid ’n “liggaamsvreemde” voorwerp in haar rond.

Met die eerste swangerskap is dit nie ’n probleem nie, tensy vermenging van die ma en baba se bloed plaasvind, byvoorbeeld as gevolg van ’n ongeluk waartydens die plasenta skeur of met ’n amniosentese. In so ’n geval raak die ma gesensitiseer jeens die vreemde bloedgroep.

Haar bloed bou as’t ware ’n geheue op en dit kan probleme by ’n volgende swangerskap veroorsaak. Jy sal dus gereeld bloedtoetse ondergaan om seker te maak als is veilig. By geboorte word die baba se naelstringbloed getoets.

As baba wel Rh-positief is, kry die ma ’n inenting teen die vreemde bloedgroep om te keer dat haar bloed ’n geheue opbou. 

15. Mag ek per vliegtuig reis?

Die meeste ginekoloë het nie ’n probleem daarmee nie en sal jou toestemming gee om dwarsdeur jou swangerskap te vlieg, maar die meeste lugrederye het ’n afsnypunt van 35 weke swangerskap.

Die groot risiko lê in die ekonomieseklas­sindroom opgesluit: Omdat die ruimte beperk is en jy meestal stil sit, bestaan die gevaar dat bloedklonte in die kuite kan vorm, wat tot trombose kan lei. Dit kan egter met enige passasier gebeur, nie net met swanger vroue nie.

Die oplossing is om soveel moontlik rond te beweeg en baie water te drink.

16. Is my kans groter om aambeie of spatare te ontwikkel?

Indien daar ’n familiegeskiedenis van spatare is, is jou kans om dit te kry ongelukkig groter. As jy te veel gewig aansit, plaas dit ook ekstra stremming op are.

Stap gereeld of doen matige oefening. Wanneer jy op ’n bed rus, kan jy jou bene hoër lig. Aambeie ontwikkel ook dikwels tydens swangerskap. Maak seker jy drink genoeg water en eet genoeg veselryke kossoorte.