Dis ’n gevoel soos geen ander nie: daardie oorweldigende liefde wat jy vir jou baba voel. Jou hart vermurwe eenvoudig as jy na die perfekte gesiggie kyk, en jy weet dat jy sonder twyfel jou lewe sal gee vir hierdie kleine bondeltjie wat jou bestaan so ingrypend verander het.
Tog kan dit, veral ná ’n uitmergelende, slapelose nag gevul met ’n troostelose gehuil, soos ’n baie eensydige verhouding voel waarin jy heeltyd sonder enige terugvoer wonder of jy op die regte pad is.
Jou baba kan dalk nie vir jou met woorde vertel jy is die mooiste, beste mamma vir haar nie, maar as jy weet waarvoor om uit te kyk, sal jy die boodskap duidelik kry. Elke dag wys sy met subtiele lyftaal presies hoe belangrik jy vir haar is en hoe graag sy by jou wil wees ...