Jou baba was dalk op ses maande ’n sosiale vlindertjie wat haar armpies uithou vir enigiemand wat haar wil optel, selfs die kelner in die restaurant. Maar nou, op nege maande, wil sy nét vir ma hê. Ouma is skoon suur daaroor, en jy begin al sien hoe jy gaan sukkel wanneer dit tyd is vir’n speelskooltjie. Wees egter gerus, en verduidelik maar vir ouma ook dat dit net ’n stadium is. Trouens, skeidingsangs (die deftige naam vir hierdie stadium) is ’n teken dat jou klein borsspeld-baba normaal aan die ontwikkel is.
Teen sowat nege maande (dit kan ’n bietjie vroeër of later ook wees) begin jou baba stelselmatig verstaan dat jy en sy twee aparte wesens is, en dat jy soms nie daar is nie. Omdat sy geen begrip van die verlede of die toekoms het nie – babas leef in die oomblik – voel dit vir haar asof jy haar verlaat elke keer wanneer jy by die vertrek uitloop, al het jy net gou gaan stort. Dis vir haar baie ontstellend.
Jý weet natuurlik goed jy kom terug, maar daarvan verstaan jou baba nog niks. Wanneer sy jou nie kan sien nie, voel dit vir haar asof jy skielik nie bestaan nie,wat haar met vrees en angstigheid vul.