Roetine skep sekuriteit en van meet af aan gebruik jou pasgeborene die bekendheid van ’n gevestigde roetine as baken te midde van die groot onsekerheid en vreemdheid buite jou baarmoeder. Dit kos net drie aande van herhaling voor jou baba die roetine herken.
Dit laat haar veilig voel en ontspan – ’n ontspanne baba dra natuurlik tot ’n ontspanne ouer by en saam gaan julle albei veel rustiger aan die slaap raak en die nag se voedingsroetine met meer gemak aanpak. Sou ’n mens die slaaptydroetine as ’n musiekwerk beskryf, kan jy sê jou wiegelied het drie bewegings: badtyd as ’n speelse inleiding (scherzo), rustige bindingstyd (ritardando – ál stadiger) en die einde, wanneer baba uiteindelik neergelê word (die stille finale).
Fokus op ’n ligte en plesierige badervaring. Ontspan sodat jou baba jou leiding volg. Sorg dat jou baba se aantrekplek so na as moontlik aan die bad is.