Klaas vakie staak!

akkreditasie
Klou jy week vir week aan die hoop dat jou kleinding dalk binnekort beter sal slaap? Hier is raad om jou ouer baba se slaapprobleme vas te vat.

Dilemma #1

Hy is douvoordag wakker!

“My kind is deesdae maklik vieruur in die oggend wawyd wakker.”

Maak só: Sommige kinders word van nature vroeër wakker as ander. Jou eerste stap is om te kyk wat bydra tot sy vroeë ontwaking. Dit kan insluit ’n doek wat lek of bloot dat die son dan al op is.

Belê in donker gordyne vir sy kamer sodat hy nie agterkom as dit lig word nie. ’n Beter nagdoek en die uitskakeling van nagvoedings kan keer dat ’n nat bed hom vroeg wakker maak.

Kyk ook of dit help om sy slaaptyd saans ’n bietjie later te maak. Soms kan dit selfs help as jy slaaptyd effens vervroeg – eksperimenteer dus hiermee.

As jou kind uitgerus lyk, oorweeg dit om ’n “speelgoedpakkie” in sy kamer te sit sodat hy stil in sy kamer kan speel as hy wakker word. Maak seker daar is niks in die kamer waarmee hy hom kan beseer nie.

Dilemma #2

Sy word elke uur wakker vir 'n voeding

“Ons babatjie word verskeie kere in die nag wakker omdat sy iets soek om te drink.”

Maak só: Nagvoedings is een van die grootste redes vir onderbroke slaap by babas, sê kundiges. Dit word ’n gewoonte om kort-kort wakker te word om te drink, maar as hulle ouer is het hulle eintlik nie meer nagvoedings nodig nie.

Die heel maklikste manier om dit te hanteer is eenvoudig om op te hou om nagvoedings aan te bied.As jou kind daarvoor vra, moenie nee sê nie, sê sy moet wag tot dit oggend is.

Dit gaan ’n paar woeste nagte beteken omdat jy haar moet leer om aan die slaap te raak sonder die kruk van voeding, maar as jy ’n paar nagte vasbyt, is die stryd gewonne. As sy huil, troos haar en sit by haar.

Dilemma #3

Sy dink sy hoort in ons bed

“Ons dogtertjie gaan slaap in haar eie bed, maar as sy snags huil, gaan haal ek haar en sit haar by ons in die bed. Ons slaap baie ongemaklik.”

Maak só: Verduidelik vir jou kleinding dat sy voortaan dwarsdeur die nag in haar eie bedjie moet slaap. Maak seker sy raak in haar eie bed aan die slaap.

As sy in die nag by julle eindig, dra haar konsekwent elke keer terug na haar eie bed toe. Moenie toegee en uit moegheid toelaat dat sy weer in jul bed klim nie. As julle sowat vyf nagte kan deurdruk, behoort jul kop deur te wees.

Dilemma #4

Hy's in die bui vir middernagtelike geselsies

“My baba word in die middel van die nag wakker en dan wil hy gesels! Hy trek ons ooglede oop as ons hom ignoreer.”

Maak só: Dis moontlik dat jou baba ’n tydperk van versnelde ontwikkeling beleef sodat sy brein dit moeilik vind om af te skakel en hy in die middel van die nag sy nuwe vaardighede wil oefen.

Die meeste kinders word snags wakker, maar kan self weer aan die slaap raak. Jou kleinding sal moet leer om self aan die slaap te raak sonder jou hulp.

Ignoreer sy nagtelike geselsies en neem hom ferm terug na sy bed. Sê vir hom dis slaaptyd en julle kan môre gesels, gee hom ’n drukkie en verlaat sy kamer.

As hy begin huil, keer terug en troos hom, maar sit hom terug in die bed en verlaat weer die vertrek, elke keer vir ’n langer tyd. Herhaal dit tot hy aan die slaap raak.

Dis uitputtend, maar ná ’n week sal hy die boodskap kry dat die nag nie geselstyd is nie. Dalk moet jy sy middagslapie ’n bietjie vroeër maak: Hy behoort nie ná 16:30 nog te slaap nie.

Dilemma #5

Hy wil nie op sy eie aan die slaap raak nie

“Elke nag moet ek my seuntjie vashou tot hy slaap. Ek raak voor hom aan die slaap!”

Maak só: Die beste beginpunt is ’n rustige slaaptydroetine wat konsekwent elke aand deurgevoer word, sodat jou kind weet presies wanneer dit slaaptyd is (net ná storietyd).

Storietyd is ’n belegging, want die koestering bied hom die sekuriteit wat hy nodig het om onafhanklik van jou aan die slaap te raak.

Die volgende belangrike ding is om jou kind te leer om sonder enige hulpmiddels – soos jy of sy bottel – aan die slaap te raak.

Jy kan hom ’n teddie gee om die alleenheid te help verdryf. As hy huil, gaan stel hom onmiddellik gerus, maar verlaat weer die kamer as hy rustiger is. Teen die derde nag behoort die situasie te verbeter.

Jongste uitgawe

Okt 2021 - Jan 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees