Dit is nie juis een van ouers se gunsteling-ervarings nie, maar dis onvermydelik. Jou baba gaan die een of ander tyd ’n toe of verstopte neus kry. Dit beteken weer dat jou kleinding gaan sukkel om te slaap, of dalk nie behoorlik kan voed nie. Gelukkig is ’n toe neus darem gewoonlik nie te ernstig nie.
Dit ontstaan wanneer die weefsel en bloedvate van jou baba se neusie swel as gevolg van ’n infeksie van die neusgange. ’n Toe neus gaan dikwels gepaard met ’n loopneus of slymkristalle wat aan die kant van jou baba se neusgate vorm en vaskleef.
Daar is talle oorsake, onder meer griep of verkoue. As die sondaar ’n verkoue is, slaan die neus toe weens beskadiging van die slymvlies deur die verkouevirus en die inflammatoriese reaksie van die liggaam op hierdie virus, verduidelik die Paarlse pediater dr. H.P. van der Merwe.