As jou pasgeborene eers by die huis is, is dit jou taak om seker te maak dat hy nie te koud of te warm word nie. Kenners reken dat jy weet jou baba se liggaamstemperatuur is net reg as hy gemaklik slaap, goed eet en nie knieserig is nie.
’n Normale temperatuur is tussen 36 en 37 grade C. As jou pasgeborene ’n temperatuur laer as 36 grade C het, moet jy dadelik by ’n dokter uitkom. ’n Temperatuur hoër as 37 grade dui op ’n koors en hoër as 38 grade op ’n hoë koors – dis ook ’n dringende doktersaak.
Maar let ook daarop dat verskillende termometers en verskillende maniere van meet (digitaal, rektaal of onder die arm byvoorbeeld) verskillend geïnterpreteer word. Lees die aanwysings wat jou spesifieke termometer vergesel het sodat jy die temperatuur korrek kan beoordeel.