Leefstyl Die soort hond wat julle gaan kies hang van jul gesin se behoeftes af. Wees realisties oor jul leefstyl en of die hond wat julle kies, genoeg oefening gaan kry. Die beroemde hondeghoeroe Cesar Millan reken op sy webtuiste cesarsway.com dat as jou kinders aktief is en buite speel, ’n aktiewe hond goed by die gesin sal inskakel. Sy raad is ook dat as jou kinders dit verkies om in die huis te speel, julle liefs ’n hond moet kies wat die regte temperament vir so ’n leefstyl het. Hou in gedagte dat oortollige energie tot gedragsprobleme kan lei.
Huis-huis Kies ’n hond wat pas by die soort huis waarin julle woon. ’n Groter ras is meer geskik vir ’n huis met ’n groot tuin waar hulle na hartelus kan speel. As jy in ’n woonstel woon en daar nie baie plek is nie, is ’n kleiner en rustiger hond dalk meer geskik.
Versorging Groter honde eet meestal meer as kleiner rasse en ’n hond met lang hare moet dikwels by ’n hondesalon versorg word.