Ons Afrika-avontuur het in Zambië begin en dis ook daar waar ons eersteling, Mieke (3), gebore is. Ná twee jaar in Lusaka het ons na Dar es Salaam in Tanzanië verhuis.
Dit was lieflik daar, met strande, eilande en turkoois water. Ek het ook vinnig ander mammas ontmoet wie se kinders dieselfde ouderdom was. Ons het gereeld oor en weer gekuier, die kinders see toe geneem en prettige aktiwiteite by skooltjies bygewoon.
Ná ’n jaar en ’n half het ons gesinnetjie weer kriewelrig geraak en ons volgende bestemming was Rwanda. Ja, Rwanda. Toe my man, Bernard, vir my sê hy het ’n werk- aanbod in Rwanda gekry, was my eerste reaksie: “Jy kan maar daarvan vergeet!” Dit het net te volksvreemd geklink en dit is nóg verder noord in Afrika. Ons is oorspronklik van Kaapstad en al ons familie en vriende is daar.