’n Werkende ma is werklik ’n meester-jongleur. Die laaste ding wat sy nodig het, is om met skuldgevoelens opgesaal te word. Maar dis algemeen dat werkende ma’s dun gesmeer voel, en bekommerd is daaroor dat hulle óf hul werk óf hul gesin afskeep, al is dit nie eens waar nie.
Dr. Colinda Linde, ’n Sandtonse kliniese sielkundige in privaat praktyk en ma van ’n tweeling, sê skuldgevoelens loop wyd. Jy is ’n ma wat aan ’n loopbaan bou, maar jy voel dikwels skuldig omdat ander mense vir ’n deel van die dag jou kinders moet grootmaak ... Jy voel ook asof jy jou man, vriendskappe en verantwoordelikhede tuis afskeep weens jou werk.
Terselfdertyd voel jy dikwels dat jy nie na wense by die werk presteer nie omdat daar so baie ander dinge is waaraan jy moet aandag gee. Dit lei tot nóg skuldgevoelens en die gevoel dat jy op die een of ander manier te kort skiet.