Terwyl ek sit en kyk hoe jy met legkaartstukke speel, rol my gedagtes terug na die oproep wat ek ’n paar aande gelede ontvang het. Dit was reeds sterk na 22:00 toe my foon lui en oom Magnus, mamma se broer, my inlig dat ouma Kotie se toestand versleg het en dat hy vrees dat haar tyd min is. Sy is die volgende oggend kort ná 06:00 oorlede. Ouma Kotie was jou enigste lewende oumagrootjie en dit is baie jammer dat daar nooit ’n foto van julle twee saam sal wees nie. Ons het soveel keer probeer en elke keer het iets skeefgeloop. En nou, met ons vliegkaartjies bespreek, is dit ongelukkig te laat.
Ek besef egter ook dat sou julle wel ontmoet het, jy te klein sou wees om ouma Kotie werklik te leer ken en daarom sal ek en mamma dit ons taak maak om te verseker dat jy weet wat ’n wonderlike mens sy was. Hoe haar Sondagmiddagetes daarin kon slaag om ’n familie bymekaar te bring, hoe sy op ’n baie hoë ouderdom ure voor die stoof kon staan met die beloning dat haar geliefdes heerlik smul aan die geregte wat sy berei het. Ek sal jou vertel hoe sy haar kleinkinders, jou mamma en haar boetie en sussie, geprys en bemoedig het.
Dat sy nie net voor die kospotte gestaan het nie, maar ook ’n teatersuster was en dat haar mediese loopbaan na my mening ten minste deels as inspirasie daarvoor gedien het dat drie van haar kleinkinders hulleself ook in die mediese beroep sou bekwaam.