Om by die see en boonop nog op ’n eiland te bly, was altyd een van my grootse drome. Dit het waar geword toe ons in Januarie 2020 vanaf Colombia na Indonesië verhuis het. Ons is al byna agt jaar in die buiteland. Vyf jaar was in Barranquilla, waar die sangeres Shakira ook vandaan kom. Ons kleinste, Isabella (4), is daar gebore. Ons oudste, Es-Mare (11), het daar op drie jaar oud vlot Spaans leer praat.
Tans woon ons op die eiland Sumbawa in Indonesië, waar my man, Pieter, by ’n goud-en-kopermyn werk. Ons is net 45 minute per vliegtuig van die eksotiese eiland Bali af. Party naweke spring ons op die myn se seevliegtuig vir ’n lekker wegbreek Bali toe.
Die eiland Lombok is ’n vlug van 15 minute ver en ook gewild danksy sy eksotiese strande, vulkane en geleenthede vir snorkel en skubaduik.