Tussen kieskeurige eters, kosallergieë en ’n bedrywige skedule deur voel baie ouers dat hul kleingoed ’n aanvulling nodig het. Vitamiene en minerale is immers belangrik vir kinders se algemene gesondheid, asook vir hul groei, ontwikkeling en optimale breinfunksie.
Ons weet ook dat genoeg van die regte voedingstowwe sal voorkom dat die goggas wat by die kleuterskool rondloop, die oorhand kry. Voldoende voeding help ook om chroniese siektes te voorkom.
Gesonde kos bly die beste manier om al die vitamiene en minerale in jou kind se lyfie te kry, ten spyte daarvan dat die kos van vandag dalk nie meer van dieselfde gehalte is as in ons oupas se tyd nie. Aanvullings behoort nie gebruik te word om gesonde kos te vervang nie, maar eerder om aan te vul wat dalk kortkom. Dit beteken dus dat jou kind nie van Weense worsies en skyfies of witbrood en konfyt kan leef nie, selfs al koop jy die nommer-een-aanvulling.