book-icon Uitgawe Februarie tot Mei 2023
Deel

GESONDHEID | Hou jou gesin só gesond

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Getty Images
Getty Images

Kieme is oral, veral op plekke soos kleuterskole, en blootstelling is deel van die lewe. Maar as julle al by die soveelste verkoue trek en dis nog nie eens régtig winter nie, is dit tyd vir ’n paar bykomende voorkomingsmaatreëls en ’n paar planne om die immuunstelsel wakker te skud.

Vermy siekes

Die kieme wat verkoue en griep veroorsaak kan tot drie meter deur die lug trek wanneer iemand hoes of nies, en kan lank in die lug bly hang, of afsak en op ’n oppervlak gaan sit. Bly dus so ver moontlik weg van mense wat siek is. Moet ook nie hul eetgerei deel nie. Bly ook weg van rokers, want tweedehandse rook maak almal meer vatbaar vir siekte. Leer jou eie kinders ook om in ’n snesie te nies, of in die hoek van hul elmboog te hoes. As dit moontlik is, bly weg van groot skares mense of beknopte plekke .

Warm neusies

Die ou mense het gesê koue maak jou siek, en daar steek waarheid in. Professor Ron Eccles van die verkouesentrum by Cardiff-universiteit in Wallis sê daar is ál meer navorsing wat toon dat koue neusvliese jou meer vatbaar vir infeksie maak. Hou dus jou neus warm, en jy sal beter teen die kieme kan veg. Belê gerus in ’n paar serpe en musse vir jou kleingoed.

Water

Moedig jou kinders aan om baie water te drink. Dit voorkom ontwatering en help die liggaam om op sy beste te werk. Die slymvliese in die neus, mond en keel droog maklik in die winter uit. Wanneer dit gebeur, vorm klein gaatjies en barsies in die vliese wat vrye toegang gee aan verkouevirusse. Slymvliese wat nie uitgedroog is nie, is plomp en meer weerstandig teen infeksies. Water help die liggaam ook om van skadelike stowwe ontslae te raak. Hou jul omgewing vogtig met ’n lugbevogtiger en geniet gerus saans ’n lekker warm bad. Die stoom is goed vir die slymvliese. Verwarmers en ’n vuurtjie in die kaggel is natuurlik lekker snoesig, maar dit droog die lug baie uit. Sit bakke water neer om die lug vogtig te hou.

Genoeg slaap

Maak seker jou kinders kry genoeg slaap. Terwyl ’n kind in droomland is, is haar liggaam hard aan die werk om beskadigde selle te herstel. Die ideale hoeveelheid slaap is 12 tot 15 uur vir ’n baba, kleuter en jong kind, en 10 tot 12 uur vir tieners. Hoe meer slaap hulle voor middernag inkry, hoe beter is dit vir hul neurologiese ontwikkeling. Mense wat te min slaap, se immuunstelsel word onderdruk. Maak seker jou kinders het gemaklike, warm katoenbeddegoed en pajamas.

Was hande

Die meeste kieme word oorgedra wanneer ons vat aan iets waaraan ’n sieke gevat het. Die kieme sit dan op jou hande en kry toegang tot jou lyf wanneer jy aan jou gesig vat, of dit nou deur jou oë is of deur jou neus en mond. Kieme kan tot 15 uur lank op jou hande oorleef, maar sneuwel gelukkig maklik as jy met seep en warm water hande was. Doen dit dus gereeld. Leer ook jou kinders om so min as moontlik aan hul gesig te vat. As jy ’n gebruikte snesie hanteer het, moet jy ook hande was. Dra gerus ’n botteltjie waterlose handreiniger saam en gebruik dit mildelik elke keer wanneer jy die huis verlaat en weer terugkeer. Hou jou huis ook skoon deur daagliks skoon te vee waar baie gevat word, soos die televisie se afstandbeheerder, deurhandvatsels, ligskakelaars, kombuistoebehore en badkamerkrane.

Oefening en vars lug

Navorsing wys dat oefening immuniteit verbeter en as bonus ook siektes soos diabetes en vetsug kan voorkom. ’n Gesonde kind sal natuurlik vol energie wees. Kanaliseer dié energie deur hulle te laat deelneem aan aktiwiteite soos swem, stap, dans en ander buitemuurse bedrywighede, of met speletjies soos jagentjies of wegkruipertjie. Gereelde oefening verhoog die liggaam se vermoë om spanning en infeksie te hanteer en help ’n kind om beter te slaap. Moenie bang wees vir buite speel wanneer dit koud is nie. Trek net jou kind reg aan met ’n hoed, goeie skoene of stewels, handskoene en genoeg lae – dan kan julle maar gaan stap of in die parkie speel. As dit regtig nat en onaangenaam buite is, sorg dat julle binne genoeg oefening kry. Bou ’n hindernisbaan in jou huis of laat die kinders dans of op die bed spring. Skaf ook ’n paar aktiwiteit-DVD’s aan, of soek op YouTube na oefenprogramme wat julle saam-saam voor die televisie of tablet kan doen. Julle hoef ook nie op te hou met ligte oefening as iemand in die huis wel siek is nie. As die siekte bo die nek is, is ligte oefening in die buitelug steeds ’n goeie idee. As dit egter na die keel en bors trek, rus eerder.
Getty Images
A, C & E
Sodra jou kind vaste kos begin eet, kan jy veral fokus op kos ryk aan antioksidante soos patat, wortel, pampoen, papaja, soetrissie (alles vitamien A), bessies, kiwivrugte, aarbeie, sitrus, groen blaargroente, botterskorsie (alles vitamien C), en avokado’s, neute en sade (alles vitamien E). Probeer waar moontlik kos in die natuurlikste vorm eet. Hoe meer ingryping daar was deur die mens, hoe meer voedingstowwe het al verlore gegaan. Pre- en Probiotika As jou verteringstelsel goed werk, is jy weerbaar teen infeksies. Die sleutel is ’n dieet met genoeg pre- en probiotika. Natuurlike bronne van prebiotika is piesangs en aspersies, asook uie en preie. Maak sop of risotto en sluit knoffel ook in. Jy kan die probiotika ondersteun deur gefermenteerde kos by jou kind se dieet in te sluit, soos jogurt, maaskaas (suiwel), suurkool, piekels (groente), tofoe, sojajogurt (soja) en suurdeegbrood (graan of rog). Sink, yster en selenium Rooi- en orgaanvleis is die beste bronne van yster, maar moenie witvleis uitskakel nie: Hoender is ook ’n goeie bron van selenium. Kombineer dit met broccoli. Seekos is weer ’n goeie bron van sink, wat ook die immuunstelsel ondersteun.
HET JY GEWEET?
Oorgewig kinders kry twee keer meer verkoue as kinders met ’n normale gewig.

Ontbytplan

Wissel hawermoutpap en eiers af. Versoet die hawermout elke dag met ’n ander vrugtesoort. Maak die eiers elke keer anders gaar.

Ontspan

Stres onderdruk die immuunstelsel. Dit kan dus ’n verskil maak om elke dag aktief ’n ontspanningstegniek in te span. Masseer jou kinders saans ná ’n lekker warm bad en luister na rustige musiek. Kyk ook na jul dagboek en probeer afskaal om die winter rustiger te maak. Word bewus van hoe asemhaling ’n mens kan laat kalmeer. Leer jou kinders om in stresvolle situasies stil te staan en 10 keer stadig asem te haal. Sorg dat die uitaseming langer duur as die inaseming. Lag is ook soos stresmedisyne. Kielie, speel en word laf – dis lekker en dit hou julle gesond. Kyk minder televisie en lees meer terwyl julle saam op die bank opkrul. Streel jou kind of krap haar rug of kop terwyl julle elk in ’n boek verdiep is. Fisieke nabyheid laat kinders ontspan. Gee drukkies van 30 sekondes of meer – dit laat goedvoelhormone deur die liggaam bruis. Skaf gerus ’n troeteldier aan. Die voordele is baie: Blootstelling aan troeteldiere van jongs af is goed vir die immuunstelsel, troeteldiere laat ’n mens ontspan, en as dit ’n hond is, sal julle meer gereeld gaan stap en buite speel.

Sê nee vir suiker

Suiker onderdruk die immuunstelsel deur witbloedliggaampies (belangrike soldaatjies in die immuun-weermag) se aktiwiteit te belemmer. Dis nie altyd moontlik nie, maar probeer tog om suiker uit jou kind se dieet te hou. Gee eerder dwarsdeur die dag gesonde peuselhappies sodat haar bloedsuiker nooit te laag daal en sy na soetgoed begin gryp nie.

Griepinspuitings

Griep is ’n ernstige siekte wat lelike komplikasies kan hê. ’n Inenting kan julle beskerm. Dit is uiters belangrik dat die hele gesin, maar veral kinders onder ses jaar ’n griepinspuiting kry, juis omdat daar ’n groter risiko is dat hulle asemhalingsinfeksies as gevolg van griep kan opdoen. Brongitis, brongiolitis, longontsteking en hoë koors is gewoonlik ’n komplikasie van griep. Babas kan reeds vanaf ses maande ’n griepinspuiting kry, maar vra jou apteker as jy twyfel. ’n Kind wat reeds tekens van griep toon of wat net oor die algemeen effens siekerig is, moet eerder nie dan ’n inspuiting kry nie, aangesien dit die simptome kan vererger. 

Kry die volle storie
Teken in op Netwerk24 en kry vandag onbeperkte toegang tot gehalte-joernalistiek, brekende nuus, voorste Afrikaanse koerante en tydskrifte, blits-videoinhoud, podsendings, luisterboeke en meer.
Teken in
Reeds 'n intekenaar? Meld aan
Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees