
Suster Elsie de Klerk antwoord:
Verlore kliniekkaarte en ouers wat agter geraak het met immunisasie is deesdae deel van ons dagtaak.
Ouers is so besig met hul daaglikse verantwoordelikhede dat dit maklik gebeur, daarom gebruik ons elke geleentheid om die baba of kleuter se immunisasie op datum te kry om totale beskerming te verskeker.
As jy onseker is of vorige immunisasies toegedien is, moet ons liewer aanvaar dat geen immunisasie gedoen is nie. Dis nie skadelik om die immunisasie te herhaal nie.
Tuberkulose-en polio-inentings word met geboorte tydens hospitaalverblyf toegedien. Dan word drie primêre inentings tussen ses en agt weke gedoen, met twee herhalings daarna. Op nege maande word die baba teen masels ingeënt, en daar is ‘n herhaalde inenting teen die pneumokokkale siektes. Van nege maande af kan opsionele waterpokkies- en op een jaar opsionele hepatitis A-immuniserings toegedien word, met herhaling van hepatitis A ses tot twaalf maande later.
Op 15 maande word die MMR-vaksien toegedien en op 18 maande weer die versterkdosis van dieselfde entstof wat met die eerste drie primêre inentings toegedien is.
In jou geval sou jou baba- as hy die inentings het ná geboorte en op ses weke ontvang het- net twee van die drie primêre inentings nodig hê, sowel as die negemaande-inentings.
Daarna kan die opsionele entstof toegedien word en die immunisasieprogram kan dan voltooi word op 18 maande met die daaropvolgende voorskoolse inentings.