My vierjarige kry deesdae nagmerries. Is dit waar dat sekere kossoorte dit kan veroorsaak? Of is daar iets wat ek vir haar te ete of drinke kan gee sodat sy rustig kan slaap? My ma glo vas ’n glas warm melk is ’n moet vir ’n gelukkige nagrus. Sal dit help?
Nagmerries is baie algemeen by kinders, veral tussen drie en ses jaar oud. Dis die ouderdom waarop kinders alledaagse vrese begin ontwikkel en hul verbeelding baie aktief is.
Wat presies nagmerries veroorsaak is onbekend. Moontlike oorsake by kinders sluit in: algemene stresfaktore wat met grootword verbind word, ’n traumatiese gebeurtenis soos ’n ongeluk of operasie, aktiewe verbeelding, en koors.