Vraag: Ek het ingestulpte tepels. Ek wil baie graag borsvoed en ek weet daar is verskeie produkte op die mark wat borsvoe-ding vir vroue met ingestulpte tepels makliker maak. Sal ek suksesvol kan borsvoed en wat beveel jy aan om borsvoeding makliker te maak?
Prof. Lisanne du Plessis antwoord: Dit is belangrik om te onthou dat ’n baba borsvoed en nie tepelvoed nie. Jou bors is vir jou baba die eerste “ontmoeting” met ’n bors, en hy sal dus nie weet hoe lyk ’n “gemiddelde bors” of ’n “gemiddelde tepel” nie.
Solank die baba ’n groot genoeg deel van die bors in sy mondjie neem, sal die meeste plat of ingestulpte tepels nie ’n probleem wees nie. Indien die vashou en posisionering van die baba asook die aanhegting aan die bors met genoeg sorg en aandag hanteer word, behoort borsvoeding ’n goeie afskop te kry.