Elke kind kan ’n goeie sin vir humor ontwikkel. ’n Humorsin is nie iets waarmee ons gebore word soos blou oë of groot voete nie. Dis ’n vaardigheid wat jou kind kan aanleer, sê die Rustenburgse spelterapeut Madelein Koen.
Wat jou kind snaaks vind, hang van sy ontwikkelingsvlak af, sê Madelein. “ ’n Tweejarige gaan nie reageer op sarkasme nie en ’n vyfjarige gaan nie meer skaterlag vir ’n kiekeboe-speletjie nie.” Die belangrike faktore in die ontwikkeling van ’n kind se humor is verbeelding, die vermoë om ’n ander se perspektief raak te sien en taal.
“Elke kind se vaardighede ontwikkel egter teen ’n verskillende tempo en beïnvloed die ontwikkeling van sy sin vir humor.” Jy kan jou kleinding se humorsin slyp deur self baie te lag en ’n omgewing te skep waar humor deel van jul daaglikse lewe uitmaak. Benut hierdie menslike gawe om saam onvergeetlike gesinsherinneringe te skep.