Jy het dalk al gehoor van linker- en regterbrein-denke. Ons lees dikwels in boeke dat linkerbrein-denkers op ’n ontledende manier dink; dis hulle wat die rekenmeesters en wetenskaplikes van die wêreld is. Regterbrein-gebruikers is weer kreatief en “kunstig”.
Dié opvatting is in ’n mate korrek, maar dis ’n oorvereenvoudiging. En dit is nie genoeg om jou te help as jy probeer verstaan waarom jou kind se juffrou sê hy ly aan aandaggebrek- of hiperaktiwiteitsteurnis nie.
Mense weet al van die 19de eeu af dat die linker- en regterbreinhelftes nie heeltemal op dieselfde manier werk nie, maar dié studies het eers in die 20ste eeu werklik momentum gekry. ’n Amerikaner met die naam Karl Spencer Lashley was die eerste neurosielkundige wat met erns die teorie ondersoek het dat spesifieke plekke in die brein verantwoordelik is vir spesifieke funksies.