Deel

Om beter te kan hoor, my kind

akkreditasie
Jou kind sal die ene ore wees as jy hom van dag een af al met goeie luistervaardighede begin toerus.

As Rooikappie die nare wolf (vermom as ouma) vra hoekom sy ore so groot is, antwoord wolf slim: “Om beter te kan luister, my kind.”

Ongelukkig is dit net ’n sprokie. As die antwoord tot beter luistervaardighede werklik so eenvoudig was soos ’n groot paar wolfore, het iemand nou al skatryk geword uit al die ouers van kleuters wie se ore nie altyd so lekker werk nie!

Goeie luistervaardighede gaan egter oor veel meer as gehoorsaamheid wanneer jy iets beveel: Dis ’n uiters belangrike vaardigheid vir jou kind se taalontwikkeling en latere skoolprestasie.

Daarom is dit baie belangrik dat jy reeds van kleins af aandag skenk aan jou kind se vermoë om werklik goed te luister.

Marisa van den Heever, ’n Potchefstroomse skoolhoof, het haar M-tesis oor die luistervaardighede van Graad R-leerders geskryf. Sy sê die nodige neurologiese verbindings vir luistervaardighede ontwikkel in jou kind se eerste drie jaar, en tussen drie en ses word die vaardighede self vasgelê. Vroeg begonne is dus halfpad gewonne.

Luistervaardighede en tegnologie

Kinders baat nie so baie by elektroniese hulpmiddels soos aanvanklik gehoop is nie, sê Marisa. Voorlesing is egter ’n ander storie:

Navorsers sê dit dra ontsettend baie tot taalontwikkeling by. Kinders onthou baie meer van ’n storie wat hul ouers vertel as van ’n storie wat hulle met ’n elektroniese hulpmiddel hoor of kyk.

Tegnologie is dikwels gerieflik, maar dit kan ten koste van jou kind se opvoeding wees. “Jou kind neem passief deel aan tegnologiese uitbeeldings en hoef nie vrae te beantwoord nie. Kinders doen nie moeite om te luister nie, want die prentjies wys die hele verloop van die storie. Ontwikkeling van luistervaardighede word so belemmer,” sê Marisa.

Die kuns van goed luister

Luistervaardighede word deur navorsers beskryf as “ ’n aktiewe proses van kommunikasie wat hoor, interpretasie en konstruktiewe begrip insluit”, of as “die manier waarop kennis ingesamel word, wat insig gee oor die onbekende, wat interaksie en kommunikasie bevorder en ’n voorloper is van goeie taalvaardigheid in formele onderrig,” verduidelik Marisa van den Heever van Potchefstroom.

Om werklik te kan luister is ’n vaardigheid wat geleer moet word sodat ’n kind kan reageer op wat hy hoor, sê sy. “Luister gaan nie net oor hoor nie. Kinders luister net na 50 persent van wat hulle hoor, en reageer op net 25 persent! Hierdie syfers maak ’n mens bekommerd, want goeie luistervaardighede is ’n voorvereiste vir leer en vordering op skool.”

Hoekom is luister so belangrik?

In die Nasionale Kurrikulumverklaring (NKV) asook in die nuwe Kurrikulumassesseringsbeleidsverklaring (KAV) word dit duidelik gestel dat leerders verfynde luistervaardighede moet hê voor praat-, lees-, kyk- en skryfvaardighede na behore kan ontwikkel.

“Luister en praat is die eerste vaardighede wat genoem word omdat dit noodsaaklik is vir alle leerwerk wat ’n kind doen. Dié vaardighede moet so vroeg moontlik in kinders se akademiese lewe ontwikkel word. Hulle moet aktief kan luister om te kan leer, en om hoflike verhoudings te ontwikkel,” sê Marisa.

Dis veral belangrik vir jong kinders se taalontwikkeling. En sonder taal kan ’n kind nie leer nie.

“Luister word beskou as die eerste taalvaardigheid wat bemeester moet word,” sê Marisa. Jy het dit nodig om taal te verstaan en jou in taal uit te druk. As ’n kind nie luister nie, sal hy nie klanke kan onthou nie en dus nie kan leer lees nie. Hy sal nie kan onthou wat hy hoor nie en kan ook nie woorde in lettergrepe verdeel nie.

Die begrip fonologiese bewustheid speel veral ’n belangrike rol, sê Marisa. “Fonologiese bewustheid is jou vermoë om die reëls van taalklanke te verstaan.

Dit sluit ook in kennis van die verhouding tussen klanke en hoe dit in skryftaal gebruik word.“As jou kind in sy vroeë ontwikkelingsfase fonologiese bewustheid leer, sal sy leesvaardigheid in gr. 1 goed wees.”

Hoe gaan jy dan te werk om jou kind se fonologiese bewustheid te ontwikkel? Woordspel is jou belangrikste stuk gereedskap, sê Marisa. Kleuterrympies is van onskatbare waarde.

Lees ook vir jou kind stories voor en laat hy saam met jou “lees” (dit word deellees genoem).

“Ouers en voorskoolse onderwyseresse kan baie doen om kinders later suksesvol op skool te maak deur hulle bloot te stel aan soveel rympies, versies, liedjies en voorlesing as moontlik,” is Marisa se raad.

Jy moet nóú begin

Jou kind moet baie tyd aan luisteraktiwiteite bestee om later op skool suksesvol te kan leer, sê Marisa.

Al kan ’n kind goed hoor, beteken dit nie hy luister goed nie. Kinders luister meestal selektief, wat beteken hulle kies waarna hulle luister.

Ouers van jong kinders moet hulle dus doelbewus luistervaardighede help ontwikkel, want dis nie iets wat vanself gebeur nie.

As jy nie goed luister nie, bly jou ouditiewe perseptuele vaardighede (die manier waarop die brein boodskappe vanaf die oor interpreteer) ook agter.

Die volgende vaardighede is nodig vir ouditiewe persepsie:

  • Ouditiewe diskriminasie Dis die vermoë om ooreenkomste en verskille tussen geluide en klanke te hoor en te benoem.
  • Ouditiewe voorgrond en agtergrond Dit dui op die vermoë om sekere geluide bo ander uit te ken.
  • Ouditiewe sluiting Die vermoë om te luister na die opeenvolging van geluide.
  • Ouditiewe geheue Die vermoë om te onthou wat gehoor is en dit later op te roep.
  • Ouditiewe opeenvolging Die vermoë om geluide in dieselfde volgorde op te roep en weer te gee.
  • Klankkonstantheid Die vermoë om klankooreenkomste waar te neem.
  • Klankbetekenis Die vermoë om omgewingsklanke te herken en te weet wat dit voorstel.
  • Klankvoorstelling Om voorwerpe wat klank voortbring, met behulp van prente aan te toon.

Dis waar hy moet uitkom

Jou kind se luistervaardighede moet van dag een af oefening kry. Teen die tyd dat hy vyf jaar oud en in gr. R is, behoort hy die volgende te kan doen:

  • Hy geniet dit om na stories te luister en onthou minstens vyf dinge wat gebeur het.
  • Hy kan ingewikkelde tydsbegrippe verstaan, soos “baie jare lank” of “’n hele week” of “lank, lank gelede”.
  • Hy kan teenoorgesteldes identifiseer en benoem, soos kort/lank, groot/klein, vet/maer, hard/sag, lig/swaar. Hy weet die teenoorgestelde van swart is wit.
  • Hy verstaan trappe van vergelyking soos lank, langer, langste, of klein, kleiner, kleinste.
  • Hy kan persoonlike voornaamwoorde benoem soos ek, jy, hulle, ons.
  • Hy weet dat begrippe soos “nul” niks beteken.
  • Hy kan geldnote en -munte uitken.
  • Hy verstaan 12 800 tot 13 000 woorde.
  • Hy het die vermoë om ’n sin met 14 woorde te herhaal, en om ses nommers, letters of woorde in herinnering te roep.

“As ’n vyfjarige dit alles kan doen, is sy ouditief-perseptuele vaardighede goed ontwikkel,” sê Marisa.

Jongste uitgawe

Feb - Mei 2022

Jongste uitgawe
Lees Baba & Kleuter gerieflik in digitale formaat.
Begin lees