
Goeie manier sal nie net jou kleinding se menseverhoudinge regdeur sy lewe versterk nie, dit kan ook sy selfbeeld ’n geweldige hupstoot gee omdat kinders met goeie maniere gewild is en voortdurend goeie terugvoer van grootmense en maatjies kry.
Die peutertyd, wanneer jou kleinding se woordeskat begin blom en hy ál meer dinge self kan doen, is die ideale tyd om die basiese beginsels van goeie maniere vas te lê. Die meeste ouers begin met asseblief en dankie, maar goeie maniere behels veel meer: Dit gaan oor die kweek van ’n ingesteldheid van respek en hoflikheid.
Jou peuter leer die heel maklikste deur spel en wanneer hy dinge oor en oor doen. So word ’n patroon so goed vasgelê dat hy later nie twee keer daaroor hoef te dink nie. Watter beter manier dus om maniere in te oefen as met speletjies wat julle albei sal geniet?
1. Die towerwoordjies
Die woorde asseblief en dankie is gewoonlik die eerste merkbare tekens dat jou kleinding maniere begin leer, en sluit baie deure oop. Sodra ’n kind ná ’n jaar oud meer welsprekend word, is hy gereed om dié woorde in sy woordeskat op te neem – veral as hy dit al baie gehoor het.
’n Prettige manier om dit oor en oor te oefen, is met ’n teddiebeer-teepartytjie. Peuters begin rolspel geniet en jou kind sal daarvan hou om die “ma” te wees, die tee vir haar teddies te skink en dan daarop aan te dring dat hulle asseblief en dankie sê.
Stel eers die voorbeeld deur vir Teddie te vra: “Wil jy graag tee hê, Teddie?” Sê dan in Teddie se stem: “Asseblief, Mamma”. As Teddie vergeet om dankie te sê, vra jy: “Hoe sê ’n mens, Teddie?”
As jou kind die ritueeltjie herhaal en vir Teddie die towerwoorde uitwys, word die belangrikheid daarvan beklemtoon en oefen sy dit terselfdertyd.
Julle kan ook winkel-winkel speel waar jy die winkelier is en sy die kliënt wat iets moet vra en agterna dankie moet sê. Ná ’n rukkie kan julle rolle omruil.
2. Om jou beurt af te wag
Peuters verstaan nog nie die betekenis van geduld nie en dis vir hulle glad nie maklik om hul beurt af te wag voor hulle praat of iets doen nie.
Kry ’n mikrofoon soos dié wat sangers gebruik, of maak sommer jul eie uit ’n toiletrol en tafeltennisballetjie of uit ’n plastiekkoeldrankbotteltjie. Net die een wat die mikrofoon vashou, mag praat. Julle gee dus die mikrofoon vir mekaar oor en weer om spreekbeurte aan te dui.
As sy ’n spreekbeurt wil hê, moet sy aan jou arm raak om jou aandag te trek en kan jy jou sin klaarmaak voor jy die mikrofoon vir haar aangee – en andersom.
’n Prettige alternatief is om wydsbeen teenoor mekaar te sit en ’n bal heen en weer vir mekaar te rol om elkeen ’n spreekbeurt te gee.
3. Telefoontelefoon
Dit sal waarskynlik nog ’n hele paar jaar duur voor jy jou kleinding toelaat om jul huistelefoon te beantwoord, maar daar is geen beter tyd om telefoonmaniere vas te lê as in die peutertyd nie, want telefoon-telefoon is een van peuters se gunstelingspeletjies.
Die lekkerte is dat julle byna enigiets as ’n telefoon kan inspan – van ’n piesang tot ’n skoen – en dit op enige plek – van die motor tot die kombuis – kan oefen. Voer lekker lang gesprekke met mekaar, maar wys ook hoe om die telefoon te beantwoord as hy lui en hoe om te groet as sy afsluit.
Leer haar ook hoe sy die huistelefoon moet beantwoord as jy nie daar is nie.
4. Tafelmaniere
Net om jou kleinding sover te kry om saam met julle aan tafel stil te sit en nie sy kos op die vloer te gooi nie, is klaar ’n oorwinning op die pad na goeie maniere en vorm die basis waarop latere tafelmaniere soos toemond kou, elmboë van die tafel af en eet met ’n mes en vurk gebou sal word.
Jy kan tafelmaniere vir jou kleinding pret maak deur haar grootmens-grootmens te laat speel: Sit jou pasjmina om haar skouers en jou krale om haar nek, maar dan moet sy stilsit by die tafel en soos ’n grootmens eet deur jou na te aap.
Jy kan sê “Mammas eet toemond” en dan probeer julle dit albei doen, “Mammas vat hul lepels so” of “Mammas sê verskoon my asseblief voor hulle die tafel verlaat”. Teddie kan ook tafel toe genooi word om dit geselliger te maak en sy kan vir Teddie wys hoe ’n grootmens nou eintlik moet eet.
Onthou: Die beste plan vir goeie tafelmaniere leer is dat julle elke aand om die tafel sit en eet pleks daarvan dat jy jou kind voer of hy vingerkos eet terwyl almal se oë vasgenael is op 7de Laan.
5. Hallo ouma, hallo oupa!
Mense voel gou te na gekom as iemand hulle nie groet nie. Jou kleinding het babatyd al geleer hoe om tot siens te wuif as oupa en ouma ry. Bou hierop voort met speletjies wat groet aanmoedig sodat jou kind dit as vanselfsprekend aanvaar dat nuwe aankomelinge gegroet word en dat ’n mens weer tot siens sê as hulle weggaan.
Julle kan wegspring deur deur die huis te loop en vir die pret alles te groet sodra julle by ’n vertrek inkom: “Hallo yskas, hallo stoof!” en weer wanneer julle uitgaan: “Tot siens stoof! Tot siens yskas!”
Dít vorm die basis:
- Sê en doen wat jy wil hê jou peutertjie moet sê en doen: Gebruik altyd “asseblief”, “dankie”, “dis ’n plesier” of “verskoon my” en hou jou taalgebruik hoflik.
- Gee jou kind die woordeskat van goeie maniere deur vir hom voor te sê watter woordjies hy wanneer moet gebruik.
- Jy kan nie van hom verwag om altyd te onthou om toemond te kou nie, maar jy kan verwag dat hy nie kos op die grond gooi nie. Net so kan jy nie van hom verwag om asseblief en dankie te sê as hy nog skaars “mamma” baasgeraak het nie.
- Prys hom as hy mooi maniere het en spog gerus ’n bietjie by oupa en ouma daarmee.
Vasbyt! Dit verg dalk tyd en moeite, maar daar is min dinge wat ’n ma so breëbors laat voel as wanneer iemand haar gelukwens met haar kinders se mooi maniere.