Jy sit jou voet neer ondanks ’n gekerm: geen lekkergoed voor aandete nie. Die volgende oomblik kom manlief ingewals en gee vir elke kind ’n Chomp. Jy is woedend, maar sy verweer is dat hy dit tog nie elke aand doen nie – hy kan mos maar af en toe ’n bietjie bederf.
Daar is bitter min ouers wat nie soms koppe stamp oor hul kinders se dissipline nie. Pa voel ma was te kras, of pa sê sus en ma sê so en elkeen voel hy is reg. Dis eintlik heeltemal normaal dat ouers verskil oor hoe hulle hul kinders moet dissiplineer, sê Sigi Graham, ’n sielkundige van Pretoria.
’n Mens se benadering tot dissipline word deur ’n reeks faktore beïnvloed: jou persoonlikheid, kultuur, geloof, geslagsrol, emosies, die druk en verwagtinge van die samelewing, jou vlak van inligting oor ouerskapskwessies, die aard van jou verhouding met jou kind en, les bes, jou eie grootwordjare.