As jou peutertjie by die huis of skool begin het om ander kinders te byt, wag ’n stresvolle tyd. Dit kan gebeur dat maatjies by die skool nie met hom wil speel nie en dat hy nie meer genooi word om by ander gesinne te gaan kuier nie. Jy gaan beslis bekommerd wees oor hom en wat moontlik agter die gedrag kan skuil. Hoekom het hy skielik begin byt? Gaan hy ooit daarmee ophou? Wat kan jy doen om dit te beheer? Ons het antwoorde gaan soek.
Volgens suster Ann Richardson, skrywer van Koester jou kleuter (Metz Press), is dit nie ’n mite dat peuters byt omdat hulle tande kry en weens frustrasie nie. Jy sal gelukkig maklik die verskil kan sien wanneer jou kind byt om sy tandvleis te streel (gewoonlik as hy onder twee is) en wanneer hy byt omdat hy kwaad, jaloers, gefrustreerd of ontsteld is.
“As ’n ander kind jou kind irriteer, sal jy gou agterkom dat hy om ’n emosionele rede gebyt het en nie omdat hy tande kry nie,” sê Ann. Sy verduidelik dat wanneer ’n kind nog nie die woorde het om hom mee uit te druk nie, hy dikwels in moeilike situasies kan reageer deur te byt of te stamp. As jou kind ’n introvert is of sensitief is vir sensoriese oorlading, sal hy moontlik op ’n meer uitbundige kind reageer deur te byt.