Teen dié tyd weet jy al dat jou peuter nie altyd ’n logiese, diepdenkende wesentjie is nie. As daardie koppie eers uitgehaak het, gaan al jou argumente en onderhandelinge niks help nie. Een of twee slegte harewas-ervarings (soos ’n piepklein druppeltjie water in sy oog) is al wat nodig is om boetie so steeks soos ’n donkie te maak.
Dan sit jy met jou hande in jou hare oor die kind wat gek is oor spat in die swembad, maar nooit as te nimmer gaan toelaat dat ’n bottel sjampoe of stortkop naby hom kom nie.
Jy is die ouer en jou kind is fyn op jou emosies ingestel. As dit lyk of jy gaan weifel, het jy klaar die stryd verloor. Hou voet by stuk en moenie gemanipuleer word nie. Harewasdag mag nie in ’n magstryd ontaard nie. Praat kalm, ferm en saaklik, maar steeds liefdevol en met respek. Jou konsekwentheid oor die saak is baie belangrik – as jy sterk staan, sal jou kind makliker aanvaar dat hare was nie onderhandelbaar is nie.