Daar is nie net een soort ekseem nie. Medici onderskei tussen hoofsaaklik sewe soorte velontsteltenisse waarvan atopiese ekseem (of atopiese dermatitis) die algemeenste is. Dié oorerflike toestand (die woord atopies verwys na ’n persoonlike of familiegeneigdheid om ekseem, hooikoors of asma te kry) verswak die skansfunksie van die vel en laat allergene toe om die vel binne te dring. Dit veroorsaak dan ontsteking, rooiheid en ’n gejeuk, verduidelik dr. Dagmar Whitaker, ’n dermatoloog van Kaapstad.
“Met atopiese ekseem ontbreek ’n proteïen genaamd filaggrin, wat normaalweg deel uitmaak van die vel se samestelling. Dit is een van die redes waarom die vel nie bestand is teen allergene (stowwe wat ’n allergiese reaksie veroorsaak) nie,” sê sy.
Ander soorte ekseem sluit in kontak- ekseem, waar mense ’n uitslag ontwikkel as gevolg van byvoorbeeld chroom in juweliersware; en seboreïese ekseem, wat onder meer die wenkbroue en kopvel aantas en tipies by babas voorkom as babaskilfers. Dié vorm word dikwels vererger deur hormone wat van die ma af kom en ver-dwyn ná nege tot 12 maande. “Dié ekseem verskil ook van atopiese ekseem deurdat die onaangetaste dele van die vel normaal is en nie droog lyk nie,” sê Dagmar.