Tweejariges is meestal nie groot eters nie. As jy dít eers aanvaar en realisties word oor hoeveel jou kind behoort te eet, word maaltye heelwat rustiger. Dit help ook om te weet jy maak die regte keuses wat kos betref sodat elke happie tel en werklik ’n bydrae lewer tot jou kind se groei en ontwikkeling.
Onthou, ’n kind se magie is maar so groot soos haar vuis. Dit help dus nie jy skep meer as dit in nie, want daar is eenvoudig nie plek voor nie. Dis ook nie ’n goeie idee om jou kind te dwing om meer as dit te eet nie, want dan kweek jy net ’n slegte ooreet-gewoonte.
Tweejariges eet tipies minder as toe hulle jonger was omdat hulle nie meer teen dieselfde pas groei nie. Ander dinge wat hul aptyt kan beïnvloed sluit in hoe aktief hulle in die dag was, of hulle tans ’n groeifase deurmaak en of hulle moeg of siek is.