Ons almal leer, konsentreer, verwerk en behou inligting op verskillende maniere. As jou kind gelukkig
is, pas sy leerstyl by die manier waarop daar in klaskamers onderrig word. Sommige kinders is egter net nie gemaak vir stilsit en luister of inligting uit boeke onthou nie, en in uiterste gevalle word hierdie kinders as rebels of dom bestempel.
Hoe vroeër jy jou kind se leerstyl en unieke soort intelligensie uitpluis, hoe beter kan jy help. Veral as jou kind nie vir die klaskamer gemaak is nie, is daar baie wat jy kan doen om die leerervaring steeds positief te hou.
Jy kan jou kind nie verander nie (en moet ook nie probeer nie!), maar jy kan sy omgewing aanpas, sy leermetode aanpas en hom strategieë leer om in die klas oor die weg te kom.